Betoging beplan oor werksverliese by kleuterskole

Die koalisie waarsku duisende werksgeleenthede by vroeë kinderontwikkelingsentrums is in die gedrang.

Werkers by vroeëkinderontwikkelingsentrums landwyd begin Maandag met ʼn week lange betoging.

Die betogers is gekant teen die besluit dat R1,3 miljard van die Covid-19-stimuluspakket gebruik gaan word om 36 000 sogenaamde jeugvoldoeningsmonitors by dié sentrums te vergoed.

“Dit is ʼn onlogiese toewysing want sonder finansiële hulp gaan meer as 175 000 langtermynwerksgeleenthede in die vroeëkinderontwikkelingsektor waarskynlik vernietig word deur die [Covid-19-]pandemie en die algehele afsondering,” het die C-19 People’s Coalition ECD-taakspan Maandag gesê.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het in Julie aangekondig die hulppakket gaan gebruik word om die sogenaamde jeugvoldoeningsmonitors mee te vergoed.

“Dié werksgeleenthede behoort aan die mense, meestal vroue, wat in nagenoeg 30 000 sentrums landwyd werk. Sonder steun gaan hulle hul deure waarskynlik permanent moet sluit. Nagenoeg een miljoen kinders gaan ook geraak word deur die sluiting van die sentrums en ʼn miljoen werksgeleenthede wat staatmaak daarop dat kinders toegang tot sorg het, gaan indirek geraak word,” sê die koalisie.

Volgens die koalisie kan die R1,3 miljard gebruik word om meer as 175 000 permanente werksgeleenthede vir grootliks vroue-entrepreneurs op gemeenskapsvlak te steun. Indien dié werksmag nié ondersteuning kry nie, gaan talle werksgeleenthede in die slag bly.

Die koalisie beywer hom sedert die aanvang van die afsonderingstydperk vir steun van die departement. Hy het vroeër vandeesmaand gevra om met die minister te vergader om ʼn beroep op Zulu te doen om die R1,3 miljard regstreeks te herlei na vroeëkinderontwikkelingsentrums in die vorm van gemeenskapstoelae.

“Sedertdien het duisende lede van die vroeëkinderontwikkelingswerksmag e-posse aan haar gestuur waarin hulle presies dieselfde ding vra.

“Tot dusver het hulle nog geen reaksie of ontvangserkenning gekry nie.”

Donderdag het die koalisie wéér ʼn brief aan die minister gestuur, maar hy het steeds geen reaksie gekry nie.

Die koalisie het intussen ʼn petisie begin waarin Zulu gevra word om die geld eerder te gebruik om permanente werksgeleenthede te red. Meer as 8 500 mense het die petisie reeds onderteken.

Die koalisie sê omdat hy nog geen reaksie van die minister gekry het nie, het hy nou begin met die week lange protesoptrede. Die betoging behels aanlyn- en fisieke betogings om druk op Zulu te verhoog om in te gryp.

Enigeen kan deelneem en betogers is gevra om hul eie plakkate met ʼn persoonlike boodskap aan Zulu met die hutsmerk #SAVEOURECDWORKFORCE te maak. Diegene wat in persoon betoog is gevra om aan bepalings vir sosiale afstandhandhawing te voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

Sal hierdie swartgallige ANC lede ooit in hul lewe een, net een regte besluit kan neem? Beslis nie!

Magda ·

mmmmmm – regtig bestaan daar so n organisasie of wat dit ookal is – ons weet waar “daai” geld gaan – en dit is alles behalwe na die jeugvoldoeningsmonitors toe – ne lindiwi zulu – alles behalwe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.