‘Betogings het matrieks gepootjie’

coligny-betoging

Polisiebeamptes wat tydens ‘n betoging in Coligny, Noordwes ontplooi is (Mei 2017). Foto: ANA

Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, het Vrydag gesê hy is tevrede, maar nie verheug nie, oor die provinsie se matriekuitslae.

“Die diensleweringbetogings het ʼn direkte invloed op ons matriekuitslae gehad, daarom die rimpeleffek op ons leerders wat nie op ons teikenvlak presteer het nie,” het Lehari gesê. “Ek is tevrede met die uitslae, maar nie gelukkig nie. Ek is tevrede in die sin dat ons dit nie kan verander nie, maar ons het ons bes probeer…,” het hy gesê.

“Ek glo dat wanneer jy in die lewe nie kry waarop jy gehoop het nie, moet jy nie mismoedig raak nie, maar eerder gefokus bly op dit wat jy wil bereik.” Lehari het hierdie uitsprake gemaak ná afloop van Donderdagaand se bekendmaking van die uitslae van die 2017 matriekeksamen.

Hy het gesê die meeste leerders het tyd in die klaskamer verloor wat tot ʼn agterstand in die kurrikulum gelei het. Noordwes se matriekslaagsyfer het van 85,5% in 2016 gedaal na 82,1% in 2017.

Ondanks die daling in die slaagsyfer meen Lehari die provinsie se prestasie was die afgelope vier jaar konsekwent. “Ons is trots daarop dat die prestasie van ons leerders vir die afgelope paar jaar vanaf 2014 bestendig was. Ons het tweede plek in 2014 behaal, vierde plek in 2015 en weer vierde plek in 2016,” het hy gesê.

Mxolisi Bomvana, provinsiale voorsitter van die onderwysvakbond Sadtu, het ʼn beroep op gemeenskappe gedoen om nie skole gedurende diensleweringsbetogings te teiken nie. Hy het gesê daar is geen regverdiging daarvoor dat gemeenskappe skole of klinieke aan die brand steek wanneer hulle water of paaie eis nie.

Die top-presterende leerder in Noordwes was Marie-Tinka Olivier van Rustenburg Hoërskool. Sy het sewe vakke geskryf en ʼn gemiddeld van 94,61% behaal. Sy het in die 90% vir al haar vakke behaal met 92% as haar laagste punt.

Die distrik wat die beste gevaar het, was Bojanala.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Ag toggie, verskonings verskonings… Elke aksie het ‘n reaksie en daarvolgens nagevolge… Dan moet die nuwe generasie maar leer uit hul betogende leier figure en volgers se gedrag en besef wat die nagevolge op die opkomende generasie is wanneer ‘n mens betoog en ontstig! Daar is immers ‘n tyd en plek vir alles, en tydens eksamens is doodeenvoudig doelbewus!

PJC ·

Eers was dit “liberation before education” nou is daar weer ander redes om amok te maak. Daar sal altyd een of ander rede wees om chaos te saai.

Carl ·

“Tevrede maar nie gelukkig nie”. Die stelling maak nie eintlik sin nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.