Betogings in Coligny en Lichtenburg: Taakspan aangestel

Betogings in Coligny en Lichtenburg in Noordwes (April 2017). Foto: Facebook via Intelligence Bureau SA

ʼn Taakspan is aangestel om die gewelddadige betogings by Lichtenburg en Coligny in Noordwes, waartydens vragmotors, huise en polisievoertuie aan die brand gesteek en talle eiendomme beskadig is, te ondersoek.

Supra Mahumapelo, die premier van Noordwes, het Dinsdag aangekondig dat hy ʼn taakspan op die been gebring het om die betogende inwoners van die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit se klagtes te ondersoek. Hy het ook ʼn beroep op inwoners gedoen om kalm te bly en hulself van gewelddadige optrede te weerhou.

“Ons begryp en respekteer inwoners se reg om te betoog vir die lewering van basiese dienste, maar ons veroordeel die gepaardgaande gewelddadige en kriminele optrede ten sterkste,” het Mahumapelo gesê.

Die taakspan bestaan uit vyf LUR’e en twee burgemeesters en word deur Sello Lehari, LUR vir onderwys en sportontwikkeling, gelei. Die span sal vandag met verskeie rolspelers vergader en deurlopend aan Mahumapelo terugvoering gee.

Betogings in Coligny en Lichtenburg in Noordwes (April 2017). Foto: Twitter via @Abramjee

Maroela Media het vroeër berig ʼn trekker, drie vragmotors en drie huise is Dinsdag in Coligny deur betogers aan die brand gesteek. Cobus van Tonder, bestuurder van TCC, ʼn bande-en-vervoerdiens, het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê hy moes hulpeloos staan en toekyk hoe drie van sy vragmotors aan die brand gesteek word.

“Ek het by die heining gestaan en kyk hoe brand my vragmotors met my vrou en kinders wat agter my in die bakkie sit. [Die betogers] het alles wat hulle kan eet, al my skape en ganse, oor hul skouers gegooi en daarmee weggehardloop,” het hy gesê.

Die polisie het in ʼn verklaring gesê 15 verdagtes is Dinsdag in Coligny en die Boikhutso-nedersetting naby Lichtenburg in hegtenis geneem nadat vermoedelik gesteelde goedere in hul besit gevind is. “Dit volg nadat verskeie winkels Maandag en Dinsdag in die gebied geplunder is. Die verdagtes het ʼn verskeidenheid goedere in hul besit gehad, onder meer kruideniersware en drank,” lui die verklaring.

Brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale woordvoerder van die polisie, kon nie onmiddellik Woensdagoggend vir kommentaar bereik word nie.

Eugene Nel, takvoorsitter van AfriForum in Lichtenburg, het aan Maroela Media gesê die situasie was teen 08:30 nog stil ná gisteraand se chaos. “Dit is so onvoorspelbaar. Ek kan nou vir jou sê dit is stil en oor ʼn uur is daar weer totale chaos. Die geweld kan letterlik binne ʼn uur opvlam. Dit is op die oomblik stil, maar dit is ʼn ongemaklike stilte – soos ʼn stilte voor die storm. Ek weet nie hoe dinge oor twee uur gaan lyk nie.”

Betogings in Coligny en Lichtenburg in Noordwes (April 2017). Foto: Twitter via @Abramjee

Hy het gesê betogers het Dinsdagaand ʼn petrolbom op Agrico se perseel gegooi en ʼn hoop bande op die perseel het vlam gevat. “Gelukkig kon die mense van Agrico en ander inwoners vinnig reageer om die brand te blus voordat daar groot skade aangerig kon word. Dit is net die bande wat gebrand het en een mens moes vir rookinaseming behandel word.”

Nel het gesê daar is ʼn opvallende groot polisieteenwoordigheid in die gebied. “Ek dink steeds dat dienslewering net as ʼn rookskerm gebruik word vir die geweld en dat die betogings eintlik oor iets anders gaan,” het hy gesê. “Ja, ons het baie diensleweringprobleme hier en dit gaan al vir ʼn baie lang tyd aan. Maar as jy kyk na die mense wat betoog, is dit skoolkinders, nie belastingbetalers wat betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie. Ek dink hier is ʼn ander dryfveer agter die betogings.”

Mokgwabone het vroeër aan Maroela Media gesê die betogings in Lichtenburg hou glo met dienslewering verband, terwyl die geweld in Coligny met die dood van ʼn seun verband hou.

Volgens Mokgwabone het die seun glo Donderdag van ʼn bakkie afgeval of afgespring en ernstige beserings opgedoen. Hy is later in die hospitaal oorlede. Die gemeenskap is glo ontevrede omdat die polisie “niks doen” om die seun se dood te ondersoek nie, maar Mokgwabone sê ʼn geregtelike doodsondersoek is onmiddellik deur die polisie begin.

Die identiteit van die seun en die presiese omstandighede rondom sy dood is nog nie bekend nie en dit vorm deel van die polisie se ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Vadertjie langbeen ·

As ‘n taxi rol word ‘n taakspan aangestel, as die weerlig slaan word ‘n taakspan op die been gebring. Kan die nuutste taakspan vir ons bepaal wat gebeur as die skape en ganse opgevreet is en die drank op is. Kom hulle weer inkopies doen?

Johan ·

Ja net nog n manier om ons belasting geld op n taakspan te mors ….wat gaan hulle nou eintlik daar doen…. dit is net nog n leen of goeie manier om te se kyk ons doen wel iets …ja right as dit te laat is

Scalla ·

Wat se taakspan word aangestel, nog geld wat gemors word, kan supra nie sien dit is vandalisme nie, nou word die seun se dood voorgehou,

Johann ·

Mens word altyd na die geweld plaasgevind het en dinge vernietig is, gemaan om kalm te bly, waar is die kalmte en gesprekvoering voor die tyd oor griewe? O’ja en dan word die reg op betogings beklemtoon. Wat van die slagoffers se regte? VOOR DIE TYD. Ons het ‘n siek land geraak. En dan, Marikana 1, Marikana 2…..

STAAN BY ·

COLINY EN LICHTENBURG AS JUL WEER IN NOOD IS VRA JUL GPF IN BUUR DORPE OM TE KOM HELP!!!!!!!!! AS DIE WESTOEPASSERS NIE EERS DAAI SKARE KAN BEHEER NIE HOE GAAN HUL ONS KEER ONS JULLE EN JUL GELIEFDES PLUS EIENDOM TE HELP BESKERM. DAT ONS KAN HELP OM SIEK MENSE, OUERS MENSE EN KINDERS NA VEILIGHEID TE BRING. MAGTIG MAN KOM ONS DOEN IETS NOU SIT ONS EN TOE KYK. KOM BY STAAN BY.

Manie ·

Ag moeder. Alweer n taakspan om die kriminele van die town ships te ondersoek. Plaas hulle kry liewer n taakspan om te sien hoekom is die polisie so magteloos na Marikana

Tiger ·

WAT het die polisie gedoen om die vernietigers en rowers te vang of keer?Hulle het die situasie ouder gewoonte “ge-monitor” !Ek hoop die sogenaamde taakspan sal die waarheid openbaar maak maar ek weet nou al dis wensdinkery!Daar gaan bollie van kom.

Zumie ·

Hier in die nuwe SA word geen probleem opgelos nie…
Eers ‘n bosberaad (met belasting geld)’
Dan ‘n taakspan (met belasting geld)
Dan ‘n kommissie van ondersoek (met belasting geld)
Dan ‘n verslag wat deur almal bespreek word (met belasting geld)
Teen die tyd is dit vergete maar as dit weer gebeur begin ons by die boonste stap…

S Coetzee ·

Betogings regverdig nie swak dienslewering nie.Mens verniel mens dus onmenslik.Die seun se afsterwe moet ondetsoek word,met nodige simpatiek en deernis.Maar om te plunder en te roof,het geen oplossing nie.Net die mens waarde daal.

Maraai ·

As hul ons besigheid of eiendom MAG beskadig onder die vaandel van geen munisipale geriewe nie, wat keer ons ons hul kaias aan die brand te steek en te plunder?? Laat hulle voel wat ons voel!! Hulle soek skole en klinieke, maar die wat hulle het brand hulle af???

jacqui scully ·

Taakmag moenie aangestel word om te ondersoek nie,taakmag moet aangestel gewees het die dag van die proteste ,dis nou te laat , skade is klaar gedoen,gaan die goverment verantwoordelikheid vat vir al die skade ,ek dink nie so nie,van daai mense het baie hard gewerk om te kom waar hul vandag is net om als te verloor in n oogwink,ek se dagvaar die staat vir elke kriesel skade,dan kan ons kyk waar eindig die land

Brandwag ·

Die Kommissie moet ook die polisie ondersoek wat nie hulle werk gedoen het nie.Indien hulle nie publiek se eiendom kan beskerm nie was hulle onbevoeg,hulle het ook nie hulle eie eiendom beskerm nie dus moet betrokke lede aangekla word.Offisiere inbevel Brigadier Saunders en Kolonel swart moet ook aangekla word,hulle het n slapgat houding gehad en wou nie streng optree nie.Polisielede wat op TV weghardloop vir betogers POLISIE DIT IS N SKANDE.Julle was nie in beheer nie, julle het nie julle werk gedoen.Jong seuns met haelgewere het die dorp(Lichtenburg) in die nag beveilig julle was nerens.Die veiligste plek in die dorp was die plaaslike Spar waar almal gesit en Pap en Vleis vreet het.Ek sal optree indien ek of my eiendom bedreig, ek sal die nodige geweld toepas.Laastens;Aan die betrokke Polisie Offisiere en Misdaadintelegensie,hierdie oproer is vooraf gedurende die week in die nagte op n luidspreker afgekondig almal het geweet daarvan.Hoekom is daar nie voorkomend opgetree nie.Traangas rubberpatrone en knetterwetters is net n teidelike oplossing tot die betogers agterkom hulle kom niks oor nie dis hoekom julle gevaal het,julle moes strenger optree.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.