Betogings in Hermanus vlam wéér op; 6 vas

Die gewelddadige betogings wat in Maart vanjaar in Hermanus in die Wes-Kaap gewoed het. Foto: Facebook

Gewelddadige betogings het Woensdag vir die soveelste keer in Hermanus in die Wes-Kaap uitgebreek – dié keer na bewering oor die inhegtenisneming van ʼn gemeenskapsaktivis van die Zwelihle-nedersetting.

Die Wes-Kaapse polisie sê meer as 1 000 betogers het Woensdagoggend vroeg die strate ingevaar en paaie met klippe en brandende bande versper.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die betogers het gepoog om die plaaslike laerskool in Mount Pleasant te beskadig, maar is deur polisielede en Mount Pleasant-gemeenskapslede gekeer. Die plaaslike lisensiekantoor en die gesondheidsdepartement se gemeenskapsdagsentrum is maar enkele van die instansies wat genoop was om hul deure te sluit.

Die polisie moes traangas en rubberkoeëls gebruik om die oproerige betogers uitmekaar te dwing. Die 35-jarige gemeenskapsaktivis, wat ook die leier van die sogenaamde Zwelihle Renewal-groep is, is saam met vyf ander betogers, tussen 23 en 28 jaar oud, in hegtenis geneem. Die leier van die groep word van aanhitsing tot geweld beskuldig terwyl die vyf ander mense van openbare geweld aangekla word.

Die gewelddadige betogings wat in Maart vanjaar in Hermanus in die Wes-Kaap gewoed het.

Van Wyk sê minstens twee polisielede en een betoger het geringe beserings in die voorval opgedoen en is na die hospitaal geneem.

Hy sê dié betogings volg nadat die Overstrand-munisipaliteit die afgelope naweek klagte van aanhitsing tot geweld en die opsetlike beskadiging van staatseiendom by die plaaslike polisie aangemeld het. Die munisipaliteit het glo foto’s en bandopnames van die voorval ter sprake aan die polisie oorhandig.

Betogings het ontstaan kort nadat ʼn boodskap op sosiale media versprei is dat die gemeenskapsaktivis glo in hegtenis geneem gaan word.

Sy inhegtenisneming asook dié van die vyf ander mense het gevolg ondanks ʼn memorandum wat aan die polisie oorhandig is waarin die Zwelihle-gemeenskap geëis het dat aanklagte teen die gemeenskapsaktivis teruggetrek word.

Die gewelddadige betogings wat in Maart vanjaar in Hermanus in die Wes-Kaap gewoed het.

Die Overstrand-munisipaliteit en Hermanus se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het intussen bevestig dat die situasie op dié dorp nou kalm is.

Die munisipaliteit het ook bevestig dat hy klagte van aanhitsing tot geweld en die opsetlike beskadiging van staatseiendom by die polisie aanhangig gemaak het. Dit vorm egter nou deel van die polisie se ondersoek.

Hermanus het vroeër vanjaar ook in afsonderlike voorvalle onder gewelddadige betogings deurgeloop nadat spanning oor behuising op die dorp op ʼn mespunt was. Gemeenskapslede van Zwelihle het in Mei vanjaar na die Overstrand-munisipaliteit opgeruk om ʼn memorandum oor ʼn gebrek aan behuising in die gebied te oorhandig. Dit volg nadat gemeenskapslede in Maart ook etlike dae lank gewelddadig betoog het weens ontevredenheid oor grond en behuising.

Die situasie in die Hermanus-omgewing word steeds deur die polisie gemonitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lida ·

Dit het net na 8 gisternag al begin. Eers het hulle gelieg en gesê hulle wil ‘n memorandum om misdaad te help bekamp by die polisiestasie oorhandig. Hulle het selfs Trump se woorde gebruik “Let’s make Zwelhile great again”. Dit is seker omdat die POPs polisie hulle altyd terug druk en die opstand uit die dorp hou. Gou was ons gedreig dat hulle die dorp aan die brand gaan steek en ons huise gaan vat. ‘m Waterkanon moes ingebring word.

Lida ·

Die werkers het laat weet hulle kan dalk eers die 19de terug werk toe kom. Hierdie gaan dalk lelik raak.

T.Geyer ·

Dit gaan maar baie sleg hier. Die inwoners is meestal bejaardes en ek ys in my hart oor die toekoms.

Martin Etsebeth ·

Die laaste foto is ‘n ou foto van die vorige onluste van 16 Mei 2018, beslis nie vandag nie

Foto ·

Nee, soos aangedui by elke foto, is dit van betogings wat in Maart vanjaar plaasgevind het.

Bekommerd ·

Betogings… se voet man. Dis oefening vir veel groter dinge.

Hanna Hoekom ·

Die klomp moeilikheidmakers raak nou afgesaag. Hulle het duidelik nie werk nie aangesien hulle tydig en ontydig die strate invaar. Hulle dra dus niks tot die Weskaapse ekonomie by nie. Jaag hulle met waterkanonne of enige iets moontlik terug Ooskaap toe waar hulle vandaan kom. Ons Kapenaars het genoeg ander probleme!

Gestremde ·

Ten minste is die aktivis gearresteer. Wat van Julius Malema wat Sondag ‘n Amerikaanse Aktivis se boodskap van geweld teen blankes by ‘n openbare vergadering vertoon het en die artikel Maandag in News24 was wat nog vry rondloop en mag sê en doen net wat hy wil?

Andre C ·

die laaste uur beheer geweldadige, sogenaamde betogers, die situasie hier in Hermanus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.