Betogings kan toerisme in Sabie knou

Betogers het reeds talle paaie in die gebied versper. (Foto: Verskaf)

Betogings wat sporadies sedert Maandag in die Sabie-omgewing in Mpumalanga opgevlam het, het die toerismebedryf in dié gebied reeds ʼn harde hou toegedien.

Tesame met klein en groot ondernemings wat nie oor die langnaweek sake kan doen nie, het organiseerders van ʼn drie dae lange bergfietswedren reeds kop uitgetrek en besluit om nie die wedren hierdie naweek in die omgewing aan te bied nie.

Gerda Venter, VF Plus-raadslid in die Thaba Chweu- plaaslike munisipaliteit, sê die gemeenskap betoog al heel week oor swak munisipale dienslewering. Dié plaaslike munisipaliteit bedien Graskop, Lydenburg, Mashishing, Pilgrimsrus en Sabie.

Betogers het daarin geslaag om verskeie toegangspaaie na die dorp te versper en infrastruktuur het reeds deurgeloop.

“Hierdie betogings, beskadiging van infrastruktuur en die versperring van toegangspunte tot die gewilde toeristedorp beïnvloed die plaaslike ekonomie uiters negatief,” sê Venter.

“Klein en groot sakeondernemings sukkel om onder sulke omstandighede te funksioneer en dit skrik toeriste af.”

The Sabie Xperience het Donderdag aangekondig dat sy drie dae lange bergfietswedren, wat vanaf Saterdag tot Maandag sou duur, tot verdere kennisgewing uitgestel is.

“Die situasie in Sabie – die gasheerdorp vir hierdie groot geleentheid – het ʼn vlak bereik waar deelnemers en ondersteuners se veiligheid nie gewaarborg kan word nie,” lui die wedrenorganiseerders se verklaring.

“Die betogings wat Maandag begin het, het onverpoosd voortgegaan en het moontlik lewensgevaarlik geword. As gevolg hiervan het die polisie die toestemming om hierdie geleentheid aan te bied, teruggetrek.”

Hordes fietsry-entoesiaste en hul gesinne sou na verwagting hierdie naweek op Sabie en die omliggende gebiede toegesak het.

Volgens The Sabie Xperience is dit nog nie duidelik wanneer hierdie wedren weer voortgesit gaan word nie.

“Dit gaan reeds moeilik met sakeondernemings weens die Covid-19-pandemie en almal in die dorp voel steeds die gevolge daarvan. Hierdie betogings kan nie bekostig word nie,” sê Venter.

Venter voer aan dat die munisipaliteit geen daadwerklike pogings aanwend om ʼn omgewing te skep wat gunstig vir werkskepping en vryehandel is nie.

“Die VF Plus dring daarop aan dat inwoners van Sabie se regte op vryheid van beweging en handel beskerm word om ʼn voortbestaan vir almal te verseker,” sê sy.

“ʼn Sterker polisieteenwoordigheid is nodig om die plofbare situasie in bedwang te bring, maar naas die publiek se persoonlike veiligheid, moet ekonomiese veiligheid ook ʼn prioriteit wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Mariana ·

Vir jare al moet almal deel met die opstokers en mense wat als in hul pad vernietig, wat nie die gesonde verstand het om te besef dat hulle hulself ook benadeel nie. Munisipaliteit het iemand nodig wat die leisels kan neem en die plek bestuur soos dit hoort, alhoewel die hele besigheid waarskynlik niks te down het met dienslewering nie. Die mense hou van chaos en brand en verniel……tot hul eie nadeel. En geen optrede vanaf polisie of regering nie. Dit laat ander vrae ontstaan.

Daniel ·

Betoog maar stem ook weer vir dieselfde korrupte onbevoegde party.
Toppunt van onnoselheid

Marius ·

En die lamsakkige polisie wat die wetsgehoorsame burgers moet beskerm skitter in hul afwesigheid.

Strandloper ·

In sy voltydse job….scarecrow tussen die mielies….kan geld maak meti knaap

Jr ·

Ek kan u waarborg dat 99.9% persent van hierdie “ekonomiese terroriste” betaal nie 1 sent vir dienste, maar hulle demand dienste. Wets gehoorsame burgers moet altyd boet vir hulle dysfunctional govt wat hulle volgende election sal weer instem. As jy stupid is, is jy stupid – ayhsiko munye hinto our people

agnes ·

Dit kan nie so aangaan nie, hoekom kan kan die Polisie nie wet en orde handhaaf nie. Hulle maak ons land stukkend, maak hulle ook stukkend

JM ·

Stakers ruk landswyd handuit en dink hulle kan maak en breek soos hulle wil. Hulle rig meer skade aan as wat reeds bestaan.

Joe Olivier ·

Het die nuwe kommissaris van polisie nog nie sy kantoor gevind nie? Die land brand maar hy hou lae profiel. So pateties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.