Betogings oor skoolplasings: Vrae oor Kimberley-skole

(Argieffoto/Unsplash)

Brandende bande voor die Noord-Kaapse departement van onderwys se distrikskantoor in Kimberley, het beelde van ‘n vorige era in Suid-Afrika se onderwysgeskiedenis opgeroep. Hierdie keer gaan dit egter nie oor “Liberation before Education” nie, maar oor wanbestuur dekades ná bevryding.

Só sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor basiese onderwys.

Ouers kla dat die elektroniese aansoekproses vir skole nie werk nie en dat kinders wat betyds aansoek gedoen het, nie geplaas is nie. “Informele gesprekke met ouers dui daarop dat daar wel genoeg plek in skole is, maar dat ouers verkies om hulle kinders nie in daardie skole te plaas nie. Dit is omdat die gehalte van onderwys in alle skole nie ewe goed is nie,” het hy gesê.

Die enigste amptelike onderskeid tussen skole in Suid-Afrika is tussen openbare – en onafhanklike skole. “In werklikheid is daar selfs ‘n groter onderskeid tussen skole wat skoolfooie van ouers verhaal en skole waar ouers daarvan vrygestel is. Laasgenoemde groep skole is veronderstel om groter bystand van die staat te ontvang, om gehalte onderrig vir alle Suid-Afrikaanse kinders te verseker. Die vraag is of dit die geval is.”

Die VF Plus wil die geleentheid gebruik om by herhaling te waarsku dat die staat nie sy plig om gehalte onderwys te voorsien, mag ontduik nie. “Openbare skole is ‘n vennootskap tussen ouers, die staat en onderwysers. Elke kind is op gehalte onderwys geregtig en die staat moet sy deel van die verpligting nakom. As ‘n skool se personeel aan ‘n vakbond behoort wat stakings bo klasgee verkies, die staat sy hulpbronne nie goed bestuur nie en ouers nie verseker dat hulle kinders stiptelik en getrou op die skoolbanke sit nie, is die gevolg ‘n gebroke onderwysstelsel.”

Hy voeg by die probleem is nie uniek tot die Noord-Kaap nie en sal deur die VF Plus op nasionale en provinsiale vlak hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Die staat kan nie eers ‘n braai vir drie mense reël sonder om korrup te wees nie.
Hoe kan die VF+ so naief wees om te verwag dat die staat hierdie probleem gaan uitsorteer.
Die staat wag in spanning vir die privaat sektor en gewone landsburgers om in te spring soos wat in Koster gebeur het. As die dan uitgeorteer is dan vat die staat weer die krediet daarvoor.

Pieter

Kry Lepoefie en sort hom uit.