Betogings oor water vlam op in Noordwes

Argieffoto. Foto: @nthandeka, Twitter

Die polisie handhaaf ʼn sterk teenwoordigheid in talle dele van Noordwes nadat gewelddadige protesoptrede plek-plek opgevlam het.

Genl.maj. Ryno Naidoo, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die betogings in die plaaslike owerhede Madibeng (Brits en omgewing) en Moretele (ʼn landelike munisipaliteit in die noordoostelike uithoek van Noordwes), ten sterkste veroordeel.

“Die oproer in die Brits-omgewing en dié in Madibeng hou nie met mekaar verband nie,” het brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder, by navraag aan Maroela Media gesê, “maar die betogers in Damonsville en Mothutlung (tussen Brits en Pretoria) asook dié in Mathibestad in Moretele het water[voorsiening] geëis.”

In dié nedersetting teen die grens by Limpopo het betogers glo ʼn waghuis en gemeenskapsaal aan die brand gesteek. “As deel van ons pogings om die orde te herstel, het die polisie daarin geslaag om 33 verdagtes vir openbare geweld in hegtenis te neem,” sê Mokgwabone.

Op Brits het die polisie twee groepe uiteengejaag wat naby die plaaslike owerheid se kantoor slaags geraak het. Mokgwabone sê dis onduidelik wat tot die geveg gelei het, maar die vrede is herstel.

Polisiebeamptes hou ʼn wakende oog oor die nedersettings Damonsville en Mothutlung tussen Pretoria en Brits waar inwoners paaie met verskeie voorwerpe versper het terwyl hulle op watervoorsiening aangedring het.

Ook in Letlhabile (noordoos van Pretoria) is polisiebeamptes ontplooi nadat inwoners die pad Brits toe met klippe en brandende motorbande versper het. “Hulle het na bewering verbygaande motoriste met klippe bestook,” sê Mokgwabone.

“Tydens dié oproer het die insittendes van ʼn wit Mercedes-Benz wat in die rigting van Brits onderweg was, na bewering willekeurig op oproermakers begin skiet,” sê Mokgwabone. “ʼn Petrolbom is na ʼn voertuig gegooi en een [betoger] is beseer deur ʼn koeël wat uit die Mercedes-Benz geskiet is.”

Volgens hom het die petrolbomontploffing twee voertuie laat vlam vat. “Die verdagtes het gevlug en word nog gesoek.”

Eindelik kon lede van die polisie se eenheid vir openbare orde die skare uiteendryf en vier oproeriges in hegtenis neem.

Naidoo doen ʼn beroep op betogers om hulle van eiendombeskadiging te weerhou. Hy vra inwoners moet met die polisie saamwerk om “misdadige elemente” aan die kaak te stel.

Theo Venter, politieke en beleidspesialis van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, sê die waterprobleme in Madibeng het ʼn lang aanloop. “Die voorsiening van water het alles basies tot stilstand gekom weens swak bestuur in die plaaslike owerheid.”

Hy sê dis een van die groot kopsere in Noordwes waaraan selfs in voormalige premier Supra Mahumapelo se tyd reeds aandag geskenk is, maar die infrastruktuur het so ver agteruitgegaan dat dit moeilik sal wees om die probleem op te los.

“Mense betoog elke keer dat die watervoorsiening onderbreek word,” sê Venter. “Dit raak almal, in nedersettings en townships asook op die dorpe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Salamander ·

” Die Polisie handhaaf ‘n sterk teenwoordigheid…” Ek is seker die protesteerders se broeke bewe van die bang.

Pieter ·

Ja en “mense moet saam met die polisie werk” dui daarop dat die polisie eerstens moet werk.

Werner ·

Polisie moet maar liewer niks doen nie netnou word hulle ook toegesluit as hulle iets doen sal hulle geweld moet gebruik dit kan ons mos nie toelaat nie

John Samuel ·

Haa Haa!! Inderdaad né : ]
Hier is die bal Polisie Oops daar laat val julle hom …

Jerry ·

Die laaste wereldoorlog gaan juis gevoer word oor water en kos. Voor die oorlog gaan begin, gaan daar eers n paar burgeroorloe oor water en kos plaasvind. Dit raak nou regtig n interresante verskynsel die besoedeling van riviere en swak dienslewering wat aanhou veroorsaak dat drinkwater nie by mense kan uitkom nie en dat mense daaroor alles brand, plunder en vernietig! Dit lyk of daar nog n groot gebeurtenis aan die kom is oor water!

IK ·

Stemtyd word daar wéér ANC gestem want sien dit werk so: Hulle (ANC) is verantwoordelik vir die gemors en nét hulle moet reg maak.

leser ·

die polisie moes baie, soos in baie jare gelede betogers, moeilikheid makers ge-arresteer het, en nie net die volgende dag weer vrygelaat het nie
“te min bewyse teen hulle” is al so afgesaag dat ons lees / sien dit nie eens meer raak nie
waarvoor is hulle dan in die 1ste plek in hegtenis geneem

mens ·

mense moet onder die aandaghebring word hulle nie net kan betoog vir wat hulle wil hê nie. hulle moet daarvoor betaal ook. niks in die lewe kom gratis nie

marous ·

Ongelukkig het die mense die wanpersepsie dat water onbeperk uit ‘n kraan kom , en elektrisiteit uit ‘n prop . Hulle heersers het toegelaat dat die land en die beskikbare water in ‘n riool plaas ontaard en dit sal nooit weer herstel nie . Wat jy saai sal jy maai ….en dis nou oestyd.

Nikita ·

So het die polisie hulle hande vol dag na nag. Hoe lank gaan hulle met als kan byhou? Die staatsinstellings is bankrot, hoe hulle uit die gemorsskuld gaan kom weet net die marsmannetjies! Maar elke jaar stem die massas vd ANC…die oe en ore bly maar toe…hulle grawe gat vir hulle self! SA is al oorryp v n burgeroorlog…Genocide watch se ons is op oranje. Dit gaan sleg in Noordwes. As die rand gaan free fall en die elites verskuif hulle miljarde na die buiteland toe, as die krag op grootskaal gaan afgaan, die jeug se werkloosheid se syfer al by die 50% , hulle kom klaar in opstand. As wet & orde verdwyn (wat alreeds besig is om te gebeur). Dis tekens wat dop gehou moet word. Dit sal die laaste strooi wees wat die kameel se rug gaan breek. Hoop…hoop daar sal iewers n afdraaipad uit hierdie oorlogspad wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.