Betogings: ‘Polisie, OVK en parlement moet ingryp’

Mmusi Maimane, leier van die DA, spreek joernaliste toe by Konstitusie-heuwel in Johannesburg. (Foto: ANA)

Die DA het Sondag ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en die parlement gedoen om ʼn einde te bring aan wat hy bestempel as “ANC-georkestreerde anargie” in DA-bestuurde munisipaliteite.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het aan joernaliste by Konstitusie-heuwel in Johannesburg gesê die onlangse onluste is “’n kwaadwillige en berekende poging deur die ANC om DA-bestuurde stede onregeerbaar te maak in aanloop tot die verkiesing, en sodoende die aandag af te lei van sy mislukking as nasionale regering die afgelope 25 jaar”.

“Die realiteit is dat miljoene Suid-Afrikaners in gemeenskappe woon wat min tot geen verandering sedert die aanbreek van demokrasie gesien het nie. Ons pynlike geskiedenis is steeds met ons en ná 25 jaar van die ANC aan bewind leef talle Suid-Afrikaners steeds sonder basiese dienste. Dit is omdat die ANC-regering ʼn regering is van selfverryking eerder as een wat infrastruktuur in arm gemeenskappe bou.”

Maimane het aan verslaggewers gesê die ANC is “paniekerig” dat hy sy mag in sleuteldele van die land gaan verloor en het homself daarom tot die sogenaamde “shutdown”-betogings gewend. “Hoewel dit mag voorkom asof hierdie protesaksies organies en gemeenskapgedrewe is, het dit vernederend duidelik geword dat dit deur die ANC geïnisieer en aangepor word,” het hy gesê.

Die vlaag gewelddadige protesaksies wat die afgelope twee weke reg oor die land gesien is, het op 3 April in Alexandra begin en van daar na Ga-Rankuwa, Mabopane, Pretoria-Wes, Soshanguve, Winterveld, en Hammanskraal in Stad Tshwane versprei. Orange Grove en Pennyville, Soweto in Stad Johannesburg; Khayelitsha, Lwandle en Happy Valley, Blackheath in Stad Kaapstad; en Caledon in die Theewaterskloof-munisipaliteit in die Wes-Kaap is ook geraak.

Daar was dreigemente van verdere “shutdown”-protesaksies wat sal volg.

Maimane het vandag gesê die protesaksies word nie net deur sommiges in die ANC georkestreer nie, maar is “deel van die party se verkiesingstrategie, aangespoor en goedgekeur deur die ANC-leierskap”.

“Die sentrale kern van ʼn demokrasie soos ons s’n is die moontlikheid van ʼn vreedsame magsoorgang van een party na ʼn ander deur middel van die stembus. Dit lyk asof die ANC nie gaan toelaat dat dit gebeur nie en dat die party na nuwe laagtes sal daal in ʼn poging om aan sy mag vas te klou,” het Maimane gesê.

Maimane het gesê hy sal weer lt.genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, nader en versoek om dringend binne die volgende 48 uur met hom te vergader om vas te stel wat sy plan is om ʼn einde aan die protesaksies te bring en wet en orde in gemeenskappe te herstel.

“Vroeër vandeesweek het ek ʼn vergadering met genl. Sitole versoek en hy het ingestem om op 29 April te vergader. Dit is nie goed genoeg nie. Ons het dringende ingryping nodig en 29 April mag dalk te laat wees. Die SAPD moet onmiddellik ʼn plan in werking stel om die ANC se doelwit om geweld aan te hits en ons gemeenskappe in oorlogsones te verander stop te sit. Ek sal dit reguit opper wanneer ek met genl. Sitole vergader.”

Maimane sê behalwe vir die formele klag wat die DA by die OVK ingedien het oor die betogings, sal hy ook versoek om met Glen Mashinini, OVK-voorsitter, te vergader. Maimane sê hy wil in die vergadering hoor hoe die OVK vorder met die DA se klagte en versoek dat die ondersoek na die klagte bespoedig word sodat die nasionale verkiesing op 8 Mei glad kan verloop.

“Laastens glo ons die parlement het ʼn noodsaaklike rol om te speel om agter die kap van die byl te kom rakende hierdie georkestreerde anargie. Daarom sal ek aan Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, skryf en versoek dat daar dringend ʼn ad hoc-komitee saamgestel word, bestaande uit die portefeuljekomitees vir polisie, samewerkende regering en tradisionele sake, en binnelandse sake, om sy wetgewende mag te gebruik om hierdie saak in sy geheel te oorweeg. Die parlement moet sy magte gebruik om almal betrokke op te roep,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Andreas ·

Mmusi, dis ‘n ‘pie in the sky’ en hier het sopas ‘n hadida oor my kop gevlieg, hy het net gevlieg en so paar maal, haa, haa, geskree.

Leon ·

Dit is die peoples war strategie jy wys aan ander gemeenskap jy is in beheer.

Hans Richardt ·

Musi, in ochlokrasie hoef jy nie hoofrekene te doen nie, die massas klipgooiende onwettige immigrante skryf voor vir die wetgewers…
Dis 1 SA vir almal se gevolge, niks persoonlik nie. Dalk Plato et al lees? Dis die tirannie van demokrasie.

George in Bloem ·

Arme Maimane en die DA het nog nie agtergekom die parlement,die polisie en die OVK is eintlik maar,soos ook die MRK,almal net tentakels of arms van die ANC seekat. So good luck with that…..ou grote.??

Stuiwer ·

George in Bloem, ten minste proober Maimane. ‘n Klip word bietjie vir bietjie opgekap. Dit sal nie oornag regkom nie.

? leser ·

dis te laat vir die ad-hoc kommitee, aaa-en-cheeee het alles al lankal beplan en net ‘n staatsgreep gaan hulle stuit

Hans Richardt ·

Populisme in aksie in 1 SA vir almal ochlokrasie.
Waarom huil Maimane oor gevolge in praktyk, van DA slagspreek?

willem Botha ·

Stem VF+ en wys die DA en Anc hoe keelvol julle is vir al die leë beloftes

Wie weet ·

Moenie virgeet die ANC gaan 1 miljoen huise bou in 5 jaar dis oor die 500 huise n dag onmoontlik

KrokodilBotha ·

Hahaha, ja die DA soek brownie points. Alles is nie wel waar hulle in bewind is nie. Praat en praat , vat gelde gee vie ander. ANC LITE

Stuiwer ·

Willem Botha, die VF+ verteenwoordig ongelukkig nie alle rasse in SA nie (al wil hulle voorgee hulle doen). Hulle en die DA, is te klein om ‘n noemenswaardige verskil te maak. As die VF+ en die DA dalk kan saamkom (‘n pie in the skie), kan dit moontlik ‘n beweging in die regte rigting wees.

Attie. ·

Vriend Mmusi Maimane… Indien Jy president word, gaan jy vir ons almal ‘n huis gee. Toe man ..se dit. My vriend…sorrie vir jou maar ek dink jy is te lig in die broek vir die joppie. Ek was erg teen die NP sedert 1969 maar as jy wil hoor hoe praat ‘n man moes jy gister op Kyknet geluisterhet hoe praat mnr Barend du Plessis met die dame van Rapport oor die seuns van Bird Island. So praat ‘n man. Jammer mnr du Plessis dat ek nie vir julle gestem het nie maar as ek kyk na die sirkus rondom ons dan wens ek ek kon my kruisie agter jou naam trek. Ek weet jys onskuldig en wens jy kan die swartsmeerders dagvaar en dan die geld skenk aan die Jakaranda Kinderhuis., want ek weet u sal die saak wen.

Gert van Wierdapark ·

Lyk my kom-missaris Sitole se gunsteling liedjie is:”Time is on my Side” van die Rolling Stones! Miskien moet hy net wakkerskrik en ophou Sit! Klippe en Stones word orals gegooi, maar nou ja, wat kan jy verwag in ‘n Kakistokrasie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.