Betrokkenheid, selfbeveiliging ‘enigste teenvoeter vir plaasmoorde’

(Foto: Reint Dykema)

Die stryd teen plaasmoorde en -aanvalle kan net gewen word deur groter gemeenskapsbetrokkenheid by veiligheidstrukture en verskerpte veiligheidsmaatreëls.

Dit is die raad en oplossings wat kundiges vandag tydens ’n webinaar van AfriForum vir dié krisis voorgehou het.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, en Jan Wessels, operasionele bestuurder van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het aan die gesprek deelgeneem.

Buys het op die sogenaamde goue driehoek vir veiligheid gewys en beklemtoon dat daar net sprake van kan wees indien daar soomlose samewerking tussen die polisie, private veiligheidsmaatskappye en gemeenskappe is.

“Daar is verskeie redes vir die onveilige situasie waarin boere hulself bevind naamlik die verswakking van die polisie, die afskaffing van kommando’s en ’n politieke klimaat van kriminalisering van boere wat geskep word.

“Ons moet aanvaar dat die regering nie vir boere of hul veiligheid omgee nie. Boere is op hul eie en daarom moet hulle en hul gemeenskappe meer selfverantwoordelikheid vir hul veiligheid neem. ’n Krygskultuur moet weer geskep word waar weerbaarheid die oplossing teen weerloosheid is. Dit is moontlik wanneer mense hulle op ’n wettige manier bewapen, veiligheidsbewus is en hulself oplei om hulle teen boosdoeners te beskerm. Afskrikking is die beste manier om jouself te beveilig,” meen Buys.

De Jager sê plaasmoorde is ’n kanker tot in die beenmurg.

“Gesprekke daaroor plak net pleisters. Die probleem lê op makrovlak met die regering wat ’n toksiese omgewing vir boere skep. Die ANC self is skuldig daaraan dat hulle vir lank ‘Kill the Boer, Kill the Farmer’ geskreeu het en nou kan hulle nie die EFF beteuel of die party se ondersteuners daarvan laat afsien nie.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. (Foto: Reint Dykema)

“Die regering is aandadig aan die krisis en daarom is dit so belangrik dat die kwessie internasionaal op die tafel geplaas word en steun teen die regering gemonster word. Die wêreld moet weet daar is geen verskil tussen apartheid wat as misdaad bestempel word en die misdaad wat die nuwe bedeling nou teen die mensdom pleeg nie,” sê De Jager.

Volgens De Jager sal plaasmoorde as misdaad getakel kan word indien die polisie ook aandag gee aan kleiner misdade soos diefstal en betreding. Die feit dat niks aan kleiner misdade gedoen word nie, verhoog spanning en die moontlikheid vir aanvalle.

Roets het daarop gewys dat die grens tussen terreur en misdaad begin vervaag het. Die wreedheid en brutaliteit waarmee plaasmoorde en -aanvalle gepaardgaan en die feit dat daar dikwels nie veel tydens die aanvalle gesteel word nie, dui sonder twyfel op terreur. Terreur boesem vrees by mense in en die doel daarmee is om ’n bepaalde boodskap uit te stuur.”

Hy meen daar is goeie vordering die afgelope jaar gemaak om die internasionale gemeenskap oor die plaasmoordkrisis in te lig. “Ons het nie meer nodig om die krisis te verduidelik nie. Invloedryke meningsvormers in die buiteland weet wat aangaan en ons moet ons boodskap bly uitdra sodat hulle druk op die regering kan plaas.”

Roets meen egter mense het ook self ’n verantwoordelikheid om beter na hul eie veiligheid om te sien. “Ons moet meer pro-aktief as reaktief wees. Mense moenie wag dat iemand eers naby aan hulle of in hul gemeenskap vermoor word voordat hulle die nodige strukture kry en maatreëls tref om hulself te beveilig nie.”

Wessels beaam dit en sê dit is juis waarom AfriForum soveel klem op buurt- en plaaswagte plaas.

“Ons het ’n behoorlike veiligheidsnetwerk regoor die land nodig. Die 160 buurt- en plaaswagte fokus juis daarop. Om dié strukture te bemagtig word opleiding gegee in die gebruik van radionetwerke, noodhulp en die uitvoer van patrollies en gebeurlikheidsplanne. Hulle word ook van toerusting soos lyfpantsers en glimbaadjies voorsien. Voorts staan AfriForum se trauma-eenheid slagoffers by en meer vrywilligers word ook nou opgelei om traumaberading te kan doen.”

Wessels het daarop gewys dat daar sedert die begin van die jaar reeds 332 plaasaanvalle en 47 plaasmoorde was. Die jongste voorval was gisteraand in die Odendaalsrus-omgewing in die Vrystaat waar Mark Regal op die plaas Thelma doodgeskiet is.

Daar was die afgelope ses weke ses moorde in die noordelike dele van die Vrystaat. Verlede week is Pieter Hills (56) vermoor. Sy seun Eddie (26) is vandeesweek in ’n Johannesburgse hospitaal aan sy beserings dood.

“Die ANC-regering moet sy rug draai op sy kultuurhistoriese erfenis en ophou om ’n klimaat teen die land se boere te skep en daadwerklik begin om iets aan die krisis te doen,” sê De Jager.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

LiveAndLetLive ·

Ons regering behoort fondse beskikbaar te stel vir beveiliging op plase vir ons boere, miksien moet bietjie druk op hulle geplaas word hiervoor.

Adam Adriaan ·

Dit kan geensins betwyfel word dat die ANC/EFF plaasaanvalle gebruik in hulle strategie om hulle doelwitte te beryk nie. Verder kring dit ook uit na woongebiede soos bewys in die Wes Kaap waar die geweld skokkende afmetings aan neem. Bendes begin die rol van die polisie oorneem, deur betaling vir beskerming te eis. Dit is skokkend om die korrupsie wat in hoë polisie geledere heers te sien.

Stefan ·

Ons ‘regering’ laat hom deur niemand nasionaal of internasionaal voorsè wat om te doen nie.
Hulle het hul eie agenda.

gatgogga ·

Dit is korrek, menere.
Ons moet paraat raak.
Passiewe verset sus net diegene wat te slap is om meer te doen.

Pieter Rubeus ·

Wil net weet hoekom is Ramaposa en Malema nog nie ge-arresteer vir haatspraak en rassisme nie en publieke opstokery? Die EFF is nie ‘n politieke party nie maar duidelik ‘n terroriste en terreur groep. Die bewyse is orals????

Pieter ·

Laat die winkel rakke leeg staan dan kyk ons wat gebeur. Maar ons boere volk wil nie standpunt in neem nie.

Maggies ·

Sal maar moet sien wat met die dame, wat haarself gisteraand beveilig het, en ‘n oortreder op haar plaas doodgeskiet het gaan gebeur. Dit is só jammer dat sy haar man moes verloor. Pleks hy ook ‘n vuurwapen gereed gehad het.

Derek ·

Absoluut feite, die regerings beleid ten opsigte van boere en die aanhitsing van geweld deur die EFF en ander betrokkenes is net kole op die vuur. Die wysiging van artikel 25 van die grondwet moet n rooi lig flits vir die boere gemeenskap. Die boere moet met n fonds begin en werklose blanke seuns aanstel vir beveiliging van plase, mense wie vertrou kan word. Verder moet die gebruik van twee rigting radio’s weer oorweeg word in plaashuise maar ook in alle voertuie sodat inligting vinnig en doeltreffend versprei kan word met plaaswag sentrums in die distrikte. Statistiek het bewys dat die SAPD net gedeeltelik vertrou kan word afhangend van hul geestelike opvoeding.

Surfer ·

Plaas wagte gaan nie help nie. Elke plaas in die land kan ook nie n wag kry nie. Beveilig jouself, paraat, bewapen en skiet terug as jy bedreig word. Niks anders gaan jou in daai oomblik van nood help nie. Niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.