Bettysbaai-huise verwoes; talle ontruim weens wegholbrand

'n Foto wat van Carl Steyn, ʼn inwoner Bettysbaai, se huisbalkon geneem is. Foto: Verskaf.

‘n Foto wat van Carl Steyn, ʼn inwoner Bettysbaai, se huisbalkon geneem is. Foto: Verskaf.

Talle inwoners van Bettysbaai in die Wes-Kaap moes Woensdagaand hul huise ontruim weens ʼn wegholveldbrand. Die brand is deur stormsterkte winde aangeblaas.

“Die brand het Woensdagaand omstreeks 19:20 uitgebreek,” het Reinhardt Geldenhuys, woordvoerder van die Overberg-distrik se noodbeheersentrum, aan Sapa gesê. Die brand is teen Donderdagoggend voor sonsopkoms geblus.

Geldenhuys sê twee huise is in die brand verwoes. Geen ernstige beserings is aangemeld nie.  Die oorsaak van die brand en omvang van die skade moet nog bepaal word.

“Ander brandweerdepartement het ook reageer,” het hy bygevoeg. “Daar was 26 brandweervoertuie op die toneel om die huise te beskerm. Meeste is reeds teruggestuur, maar daar is steeds twee brandweerwaens op die toneel om die situasie dop te hou.

Carl Steyn, ʼn inwoner wat nou skaars twee weke daar bly, het Donderdag aan Maroela Media gesê sy gesin het naels gekou van 20:00 af. “Ons het twee keer deur die aand die huis verlaat as die vlamme te naby aan die huis gekom het. Ons het vyf kinders, en ʼn paar honde. Almal is in die bakkie gelaai en ons is na vriende se huis toe wat ver van die brand af woon. Ons wou nie kanse vat nie,” het hy gesê.

Volgens Steyn het die munisipaliteit hulle deur middel van ‘n SMS in kennis gestel van die ontruiming.

“Ons het uit ons slaapkamer gesien hoe brand ʼn huis af. Ek weet van twee of drie huise wat heeltemal verwoes is en daar is ʼn hele paar wat beskadig is,” het hy bygevoeg. Hy het gesê vlamme, tot 2 m hoog, het die fynbosryke-gebied vernietig.

Steyn het gesê dit het omstreeks 06:30 vanoggend begin reën wat baie gehelp het om die brand te blus.

Kobie Coetzee, nog ʼn inwoner, het op Facebook geskryf die brand het ʼn gedeelte van haar gesin se huis geraak, maar niemand is beseer nie. “Baie, baie dankie aan almal wat deur die aand gehelp het om die brande in Bettysbaai te blus,” het sy gesê. “Dit was erg. ʼn Samaritaan, slegs bekend as Johan, het ons gehelp om die brand te bestry by ons huis. ʼn Mens is so weerloos. Nou is dit tyd om skoon te maak.”

Trisa Hugo, die eienaar van Kleinmond-selfsorgakkommodasie, het aan Maroela Media gesê dit is die ergste brand wat hulle nog beleef het sedert hulle die afgelope vier jaar in die omgewing bly. “As jy vanoggend wakker geword het in ʼn huis met ʼn dak oor jou kop en met jou goed om jou, en jou diere is rustig, wees dankbaar. Nie almal wat ek ken, is vandag só gelukkig nie.”

Almal met wie Maroela Media gepraat het, is vol lof aan die brandweer en die hele gemeenskap wat saamgestaan het om te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.