Betwiste ANC-vergaderings sal wéér gehou word

Gwede Mantashe. Foto: Verskaf

Die ANC het Maandag gesê sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) het ooreengestem dat al die betwiste algemene takvergaderings wéér gehou moet word in aanloop tot die langverwagte verkiesingskonferensie wat al nader kruip.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die party, het gesê dié party se NUK sal moontlik op die vooraand van die konferensie nog ʼn vergadering hou om finale kwessies af te handel.

Volgens Mantashe het die takke tot Saterdag om die vergaderings weer te hou.

Dié party se opkomende 54ste konferensie gaan gebuk onder regsgedinge sowel as bewerings van taklidmaatskap-manipulasie. Die provinsiale leierskappe van die Vrystaat, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Noord-Kaap moes regsgedinge die hoof bied wat deur ontevrede ANC-lede aan die hof voorgelê is.

Die jongste regsgeding is deur presidentskandidaat Matthews Phosa ter sprake gebring wat glo wil hê die provinsiale uitvoerende komitee in Mpumalanga moet ontbind word oor taknominasie-geskille. Phosa is ook ongelukkig oor die provinsiale algemene raad in Mpumalanga wat nie Vrydag ʼn voorkeurkandidaat gekies het nie.

Mantashe het gesê Phosa se regstappe kan net “onmiddellik bevrediging” vir hom bring. “Die provinsiale algemene raad is nie ʼn verkiesing nie. Dit is slegs ʼn struktuur wat kandidate nomineer. Tensy Phosa wil hê daardie nominasies waarop ‘eenheid’ geskryf is, moet na ‘Matthew Phosa’ verander word. Al wat ons kan doen, is om hom sterkte toe te wens, want nadat die nominasies afgehandel is, sal daar verkiesings wees,” het hy gesê.

Die ANC glo dat hy ondanks die geskille in verskillende provinsies en takke steeds ʼn suksesvolle konferensie van 16-20 Desember sal kan hou.

“Ons het ʼn nasionale konferensie wat voortgaan en ons gaan nie aannames maak oor wat gaan gebeur of nie. Ons bestuur ʼn organisasie en ons werk baie hard daaraan om te verseker dat die konferensie suksesvol en stabiel is. Die provinsies moet met die anargiste afreken. As daar ʼn anargis by die konferensie is, sal jou eerste linie van verdediging die provinsie wees. As hulle dit nie hanteer nie, sal ons hulle uit die konferensie verwyder,” het Mantashe gesê.

Mantashe het bygevoeg pres. Jacob Zuma, as uitgaande president, het ʼn oorsig van die politieke landskap gelewer by die laaste amptelike NUK-vergadering. Zuma het glo in ʼn “vaderlike stemtoon” gepraat en na homself verwys as “uitgaande president”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.