‘Betyds en binne begroting?’ vra DA oor Gauteng se nuwe hospitale

Die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto.

Dit is onwaarskynlik dat die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling die vaardighede het om ses nuwe hospitale in die provinsie binne die spertyd, en sonder dat die koste oorskry word, te bou.

Dít volgens die DA se Jack Bloom wat ook sê slim ooreenkomste moet hiervoor met die private sektor aangegaan word.

Die DA het die Gautengse premier, David Makhura, se aankondiging in sy provinsiale rede vandeesweek dat ses nuwe hospitale nog dié dekade in die provinsie gebou gaan word, verwelkom.

“My bekommernis is dat die provinsiale regering ʼn slegte geskiedenis het rakende die bou van gesondheidsinstellings. Dit neem gewoonlik dubbel so lank en kos dubbel soveel as wat begroot is. Beloftes oor hospitale wat gebou gaan word, is vantevore al verbreek. Die voormalige minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, het byvoorbeeld al ses jaar gelede beloof dat ʼn nuwe hospitaal in Soshanguve gebou gaan word,” het Bloom gesê.

Die Kempton Park-hospitaal. (Foto: Sabrina Panaino‎/Facebook)

Na raming word ʼn minimum van 2 000 bykomende hospitaalbeddens vir Gauteng se groeiende bevolking benodig, asook nuwe hospitale in gebiede waar pasiënte in dié stadium hopeloos onderbedien word.

Volgens die DA sukkel die Tembisa-hospitaal met die ergste oorbevolking. Dit kan verlig word as die Kempton Park-hospitaal heropen en ʼn beloofde hospitaal in Diepsloot gebou word.

Opknappingswerk aan die Lilian Ngoyi-kliniek – sodat dit plek het vir 556 beddens – gaan ook druk van die Chris Hani Baragwanath- en Bheki Mlangeni-hospitaal in Soweto verlig.

ʼn Hospitaal is vir Daveyton beloof, asook ʼn nuwe hospitaal om die vervalle Jubilee-hospitaal te vervang. Die Heidelberg-gebied benodig ook ʼn nuwe hospitaal.

Die DA sê ses nuwe hospitale gaan nagenoeg R9 miljard beloop. Die regering gaan dié geld êrens moet vind en verseker die koste raak nie weens korrupsie en ondoeltreffendheid buite beheer nie.

“Ek twyfel of die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling die vermoë het om die hospitale sonder vertragings en begrotingsoorskrydings te bou, dus moet innoverende ooreenkomste met die private sektor aangegaan word,” het Bloom gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Weet van ” Hospitale” wat gebou ws en vandag leeg staan. Hoekom???

Leon ·

Daar is ernstige werkloosheis in die RSA. Hoe ander sal die ANC kaders se families inkomste kry as daar nie sulke bouery aangaan waardeur hulle kan skep nie.

Yolandie ·

So waar wat jy hier sê Leon. Hoe langer die projekte kan sloer en die koste opgejaag kan word hoe meer korruptes kan finansieel daarby baat vind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.