Beursie-eienaar in ʼn japtrap opgespoor danksy Maroela Media

Cari du Preez en Ettiene Roets. Foto: Facebook.

Cari du Preez en Ettiene Roets. Foto: Facebook.

Skaars 10 minute nadat Maroela Media Dinsdag berig het dat ʼn vrou van Danabaai in die Wes-Kaap in besit is van ʼn jong vrou se verlore beursie en op soek is na haar, is die beursie met sy eienaar herenig.

Maroela Media het berig Maria Morris Van den Berg se seun, Mario de Villiers (31), het Saterdag omstreeks 05:30 die beursie by Tweede Strand opgetel toe hy gaan visvang het. “Omdat ek besef deur watter diep waters mens moet gaan om alles te kanselleer en te hernieu, hoop ek dat ons hierdie dame kan opspoor sodat ek die beursie aan haar terug kan besorg,” het Maria Dinsdag aan Maroela Media gesê. Lees meer hier.

Kort ná die berig geplaas is, het Van den Berg ʼn oproep van ʼn dankbare Cari du Preez vanuit Oudtshoorn ontvang waar dié voormalige student aan die Noordwes-Universiteit nou by ʼn wildsplaas werk as ʼn bemarking- en konferensiekoördineerder.

“ʼn Vriendin wat saam met my studeer het, lees Maroela Media en het die berig gesien en my dadelik gebel,” het Du Preez Woensdag aan Maroela Media gesê. “Ek het dadelik vir tannie Maria gebel, en haar bedank vir al die moeite wat sy gedoen het. ʼn Mens verwag nie meer dat iemand soveel moeite vir iemand anders sal doen nie.”

Du Preez het gesê sy het die naweek vir haar kêrel Ettienne Roets wat in Danabaai woon, gaan kuier en het haar beursie die Vrydagaand op die strand verloor.

“Ek het egter eers die volgende oggend ontdek my beursie is weg toe ek in Mosselbaai gaan inkopies doen het.”

Na ʼn lang soektog in die motor, die winkels wat sy vroeër besoek het, by die huis, en op die strand, het sy en Roets Sondag polisiestasie toe gegaan om ʼn verklaring te gaan aflê om met nodige stappe te begin om alles in die beursie te vervang.

Haar bankkaarte en rekeningkaarte is reeds gestop en sy was Maandag by ʼn lisensiekantoor om haar rybewys te vervang, maar sy sê dit was in elk geval nodig aangesien dit binnekort sou verval.

“Daar was nie juis iets van veel waarde in die beursie nie, maar ek is veral bly dat ek my beursie self kon terugkry, want ek hou baie daarvan,” het Du Preez bygevoeg. “Dit is ook wonderlik om te weet dat daar nog sulke mense daar buite is wat soveel moeite sal doen. ʼn Mens het meer mense soos hulle nodig.”

Sy het gesê as sy weer “daai kant” van die berg gaan kuier, gaan sy beslis ʼn draai by Van den Berg maak om haar persoonlik te bedank.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anet ·

Dankie aan Maria en Mario dat julle nog so opreg is en omgee vir julle naaste. Mooi storie en ‘n mooi einde!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.