Beursprogram vir maagde ‘ernstige oortreding van menseregte’

Bathabile Dlamini, minister vir maatskaplike ontwikkeling. Foto: Flickr/GovernmentZA

Bathabile Dlamini, minister vir maatskaplike ontwikkeling. Foto: Flickr/GovernmentZA

Bathabile Dlamini, die minister van maatskaplike ontwikkeling en leier van die ANC se Vroueliga, het haar uiteindelik uitgespreek oor meisies wat maagdelikheidstoetse moet ondergaan om studiebeurse te kry.

Die uThukela-distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal het vanjaar beurse beskikbaar gestel vir 16 jong vroue wat eers toetse moet ondergaan om hul maagdelikheid te bewys voordat die beurse aan hulle toegeken kan word.

Dlamini het gesê sy het aanvanklik nie oor die program kommentaar gelewer nie omdat sy eers die saak met verskeie rolspelers wou bespreek. “Die openbare debat het die afgelope week gefokus op die teenstrydigheid tussen die grondwetlike reg tot kulturele gebruike en die reg om vroue en meisies teen diskriminasie en geweld te beskerm. Die bespreking is ʼn bewys van hoe ingewikkeld die Suid-Afrikaanse samelewing is,” het sy gesê.

Sy het verduidelik kulturele gebruik, nie net in Afrika nie, maar wêreldwyd, moet bestaansreg hê en gerespekteer word. Dit kan egter nie so gedoen word dat dit inbreuk maak op basiese menseregte nie, het sy gesê.

“Maagdelikheidstoetse is nie ʼn Afrika-kwessie nie; dit is ʼn komponent van skadelike praktyke wat daarop gemik is om die liggaamlike integriteit van vroue te onderdruk,” het sy gesê. “In die meeste gevalle is maagdelikheidstoetse oneffektief, onhigiënies en ʼn ernstige oortreding van ʼn meisie se menseregte. Dit is ook nie ʼn betroubare metode om maagdelikheid te toets nie, aangesien vroue se maagdevliese op verskeie maniere geskeur kan word, byvoorbeeld deur fiets te ry.”

Dlamini het ook verduidelik die stigma wat aan meisies kleef wat ʼn maagdelikheidstoets “dop” so groot is dat meisies soms gevaarlike metodes gebruik om die toets te slaag, deur voorwerpe soos vleis of nette te gebruik om die illusie van ʼn maagdevlies te skep. “Dit is ondenkbaar dat talle vroue en meisies hulself tot sulke gevaarlike ‘maagdelikheidsredding’-praktyke sal wend om [toegang tot tersiêre opleiding te kry],” het sy gesê.

“Meisies onder 18 mag nie maagdelikheidstoetse ondergaan nie, want dit is onwettig. Vroue ouer as 18 moet, volgens die huidige wet, toestemming daarvoor gee. Dit sluit egter nie dwang tot toestemming in deur hulpbronne vir verdere studie beskikbaar te stel nie. Dít is diskriminasie en nie toestemming nie.”

Die DA het intussen die Menseregtekommissie (MRK) se aankondiging dat die beursprogram ondersoek sal word, verwelkom. Die party het  ʼn beroep op die ANC gedoen om die burgemeester, Dudu Mazibuko, te skors.

Die EFF het ook die beursprogram veroordeel en dit as “anti-vrou, patriargaal en ʼn skending van vroueregte” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anoniem ·

Nou het ek alles gehoor!!!!!!!!!!!!!!!!!!!
Waar gaan ons piesang republiek eindig met sulke mense aan bewind?
Net die Vader kan en sal ons red.

Jani ·

Dalk nie reg, maar n kind wat kinders het en studeer is nie die ideale omstandigehede nie. Sien die groter prentjie, maar kry n beter oplossing

Berhalet Beukes ·

As elke instansie in Suid-Afrika so iets moes impliseer en alle aansoekers deur so ‘n proses moes laat gaan… Dink ek gaan m’n paar ouers oor alle kry. Die gedagte van so ‘n vereiste is absoluut skokkend en walglik. Dan kan werknemers dieselfde verg by aanstel ens. Nietemin hoor ek wat jy sê, die groter prentjie… Dink net nie dis gepas of aanvaarbaar nie.

Berhalet Beukes ·

Me. Dlamini, dit is JOU party wat uThukele distriksmunisipaliteit se personeel aanstel. JOU party wat die hele land se regte minag. JOU party wat hierdie waansin veroorsaak het. Nou wat nou?

DPJ ·

Hang af of die beursinstaansie privaat of staats fondse gebruik.

Theresa B ·

Grootste klomp snert wat diè spul darem kan uitdink. Liewe aardetjie tog!!

alida ·

Natuurlik is dit ‘n skending van menseregte. Ek kan net dink hoe lag die buiteland vir ons.
Siek in hulle koppe !!!

johny ·

Kyk net hoe gaan dit in engeland hoe meer kinders jy het hoe ryker is jy en jy hoef nie te werk nie.Ons hoef nie sleg te voel nie.Ek weet hier by ons is ook iets soort gelyks

Knapie ·

Dit kan nie veel erger wees as om eers die ras toets te hoef te slaag voor jy in aanmerking kom vir n beurs nie….

m ·

Dis ook net hierdie mense wat sulke strooi kan uitdink. Dis mos nou diskriminasie …

Sarie ·

Is daar nog enigsins 18-jarige maagde wat vandag in ons landrondloop. Hulle word daan ‘n paspoort uitgereik tot losseks deurdat kondome gratis aan hulle uitgedeel word. Dit is die staat se eie skuld dat losseks so hande uitgeruk het. My vraag is nou net wat word van die beurs as die beurshouer halfpad deur haar studies haar maagdeliheid verloor?

Christo Pienaar ·

Nee wat, daai maagdelike studiebeurs gaan ‘n child support grant word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.