Beurtkrag beïnvloed vaslegging van matriekpunte

Argieffoto

Die vaslegging van matrieks se punte in die eindeksamen word gekniehalter deurdat provinsiale onderwysdepartemente, die nasionale departement van basiese onderwys en die inligtingstegnologie-agentskap (Sita) voortdurend onder beurtkrag gebuk gaan.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, sê Mathanzima Mweli, die direkteur-generaal van basiese onderwys, sal met Eskom se uitvoerende hoof in gesprek tree oor die uitdagings wat beurtkrag veroorsaak in ʼn tyd wat matriekvraestelle in alle erns gemerk moet word.

Volgens Mhlanga is 44 505 nasieners tans hard aan die merk by 141 nasiensentrums oral in die land. “Om te verseker dat elke vak gemerk word volgens gemeenskaplike gestandaardiseerde nasienriglyne, is 155 nasionale vergaderings deur die departement gehou waar hoofmerkers en interne moderators van alle provinsies hul insette gelewer het om nasienriglyne en ʼn gedeelde begrip hieroor te bepaal. Dit word voorsien dat alle nasienwerk teen 15 Desember afgehandel sal wees.”

Mhlanga sê Mweli is tans besig om die verskillende nasiensentrums te besoek om te verseker dat alles vlot verloop. “Hy was al so ver as Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal en kan terugvoer gee dat die nasienwerk tans goed verloop,” sê hy.

“Ongelukkig het ons Dinsdag ʼn nasiener in KwaZulu-Natal by die Pietermaritzburg Girls’ High-nasiensentrum verloor weens siekte. Ek het hierdie sentrum besoek om met al die nasieners te praat en die provinsie sal beradingsdienste aan hulle bied. Die nasieners gaan voort om vraestelle te merk,” het Mweli gesê.

Sodra al die vraestelle gemerk is, sal die Umalusi‑standaardiseringsproses plaasvind. “Die minister sal op 3 Januarie 2019 die uitslae van die klas van 2018 aankondig. Dit sal 18:00 regstreeks op SABC en ander uitsaaiers uitgesaai word,” sê Mhlanga.

Matrieks kan ook Maroela Media se “Maroela Matrieks”-app aflaai waar jy jou punte sal kan sien sodra die uitslae bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HPV ·

Seker nog nooit van ‘n uitvindsel soos ‘n kragopwekker gehoor nie, mens kan dit koop of huur.

Hannes ·

Die kragopwekker gaan ook maar net werk tot die petrol op is.
Ek twyfel of iemand compos mentis genoeg sal wees om dan petrol te gaan koop, of om te verseker dat die voorraad voldoende is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.