Beurtkrag: Bestuurders van twee kragstasies geskors

Eskom se Tutuka-kragsentrale. (Foto: Eskom)

Die onderskeie bestuurders van Eskom se Tutuka- en Kendal-kragsentrales is summier geskors hangende dissiplinêre ondersoeke, terwyl daar ook by die Kriel- en Duvha-kragsentrales ingegryp gaan word.

Eskom het Donderdag gesê sy raad is bewus daarvan dat die kragvoorsiener se verouderende netwerk geteister word deur ʼn nalatenskap van verwaarlosing en gebrekkige instandhouding, maar dat die “situasie vererger word deur ernstige voorvalle van onverskillige gedrag deur sommige bestuurders”.

“Die raad is ingenome daarmee dat sommige eenhede weer in diens gestel is, maar besef dat die vlak van onderbrekings onaanvaarbaar hoog is.”

Die raad het ook sy steun gegee vir uitvoerende hoof André de Ruyter se skorsing van die twee kragsentrales se bestuurders.

“Daar was gesprekke met ander bestuurders van kragsentrales om te verseker dat die vorige kultuur van swak gevolgebestuur nie langer die norm gaan wees nie en ook nie meer by Eskom geduld sal word nie,” het Eskom gesê.

“Die uitvoerende gesag het intussen drie senior opwekkingsbestuurders na die betrokke terreine (Duvha, Kriel, Tutuka en Kendal) gestuur om persoonlik leiding te gee en toesig te hou.”

Eskom het vroeër vandeesweek weer beurtkrag ingestel. (Foto: Maroela Media)

Suid-Afrikaners is sedert Dinsdag weer aan beurtkrag onderwerp wat later boonop na fase 4 opgestoot is. Teen Vrydag is daar afgeskaal na fase 3-beurtkrag, met die vooruitsig dat die situasie oor die naweek sal voortduur.

Eskom sê sy raad werk nou saam met die kragvoorsiener se bestuur om die situasie spoedig te verbeter.

Altesaam 5 000 MW is in hierdie stadium weens beplande instandhoudingswerk afgeskakel, terwyl daar oor die afgelope sewe dae 10 950 MW weens onbeplande instandhoudingswerk uit die netwerk gehaal moes word. Dit het gelei tot ʼn tekort van sowat 3 000 MW – ʼn situasie wat boonop vererger is weens die koue weer wat groot dele van die land die afgelope paar dae getref het.

Eskom sê hy is deeglik bewus van die beduidende las wat beurtkrag vir mense veroorsaak, asook die uitwerking daarvan op ʼn reeds sukkelende ekonomie. Die kragvoorsiener sê hy is verbind daartoe om te verseker die kragnetwerk word volhoubaar en betroubaar bestuur.

“Die raad en uitvoerende bestuur het die afgelope twee dae twee keer met die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, vergader om die sistemiese oorsake van die beurtkrag en die stappe wat gedoen word om stukkende infrastruktuur te herstel, te bespreek,” het Eskom gesê.

By hierdie vergaderings is daar ooreengekom dat ʼn dringende kultuurverandering moet plaasvind en dat die vaardigheidsverbeteringsprogram vir Eskom se 44 000 werkers bespoedig, bevorder en ondersteun moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

koos10 ·

Het ek reg gelees? Is daar vir die eerste keer, sover my kennis strek, opgetree teen die wat nie hulle werk doen nie, of is dit ‘n heksejag?
Nou moet die volgende volg:
SABC
SAA
Stadsbestuurders
Denel
WVF
en nog sommer al die res ook.

Pieter ·

Onthou dis afhangend van n disiplinere verhoor, waar hulle net baie streng gewaarsku gaan word om nie weer stout te wees nie, kry jou stokkielekker (vet bonus) soos jy uitgaan.

Kokerboom ·

Koos 10: So ook die hele kabinet en AL die ANC LP’s in parlement.Dan op provinsiale en plaaslike owerheidsvlak. Selektiewe uitroeiing van die verrotting gaan nie werk

Wondermaarnet ·

Dis ‘n klug om die publiek te laat glo hulle tree kastig op.

Harry ·

Sooooo, nou kom die rotte uit. Ek hoop hulle dank hierdie dwarstrekkers sumier af. Kan nie dink dat so veranwoordelike pos beklee word deur n man met politieke agenda nie. Kry vir jou ou maat.

Stefan ·

Daar gaat ons, jare lank uitgerekte hofsake met volledige salaris plus bonusse.

Eiervrug ·

Waar is sy bestuurder?? Die een wat moet seker maak dat sy pligte reg uitgevoer word?. Is daar enige verhogings goedgekeur vir hierdie werknemer??. Indien wel (obviously kry hy elke jaar), sou ek graag wou sien waarop die verhogings gebasseer was. Dit behoort interessant te wees….

Adam Adriaan ·

Lyk my Eskom lei ook aan die peslike siekte van wil nie werk en skep van geld wat hulle nie toekom nie. Selfe siekte waaraan die ANC en sy kaders lei. Die is die gevolge van plasing van kaders wat nie weet of hulle Athur of Mathur is ‘n die poste waarin hulle aangestel is nie. Die manne in die poste het ‘n permanente kortsluiting, wat die hele land aan die brand gaan steek.

Alet ·

Lekker gaan daar agteroor gerus word met volle salarisse…..mooi man

Persheks Adri ·

Eskom julle moet by kom en gou ook ons is gatvol verby om die minste te sê! Ons betaal mos vir krag regtig waar so doen julle werk waarvoor julle betaal word genade man. Altyd verskonings. As daar so baie mense daar werk kan als mos reg gemaak word soos die spoed van lig

Pieter ·

Ons almal ken al die ou ou storie, geskors vir 3 tot 6 maande met volle salaris, wag tot almal daarvan vergeet, en word dan bevorder met n bonus om op te maak vir onregverdige lyding.

Kokerboom ·

Welgedaan Andre de Ruyter. Raak ontslae van die onbevoegde kadergespuis. Drastiese ingryping is AL oplossing. Bestuur die skip op ‘n eerste wereldse manier, dan is daar hoop

Moedeloos ·

Vaardigheidsverbeteringsprogram – nog tyd en geld wat gemors word

Onnie ·

Maak skoon daardie huis Mnr de Ruyter! Ek sal geduldig wag tot Eskom weer op die been is, indien ek verseker is dat dinge gaan verbeter. Maak asb die wag, die moeite werd.

agnes ·

“Maintenance and management “ kom nie in spesefieke mense se woordeskat voor nie en dus kan hulle dit nie toepas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.