Beurtkrag binnekort opgehef

André de Ruyter (Skermskoot uit vorige perskonferensie)

Beurtkrag sal Donderdag 12:00 na fase 2 afgeskaal word voordat dit na verwagting voor die naweek opgehef sal word.

André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, het Donderdag tydens Eskom se derde nuuskonferensie in soveel dae gesê die kragnetwerk toon goeie herstel en Eskom sal Vrydag omstreeks 05:00 in die posisie wees om beurtkrag op te hef.

Die kragvoorsiener voorspel wel vanaand ’n piekvraag van 28 266 MW na krag en beurtkrag sal vir eers nog geïmplementeer moet word om aan dié vraag te voldoen, voordat dit môre vroegoggend opgeskort sal kan word.

Beskikbare kapasiteit staan in dié stadium op 28 266 MW terwyl 2000 MW as reserwes in berekening gebring moet word om voorsiening te maak vir onbeplande onderbrekings.

De Ruyter was bly om aan te kondig die land se damme is in dié stadium so te sê vol, met slegs een of twee uur se krag wat nog benodig word om water te pomp. Die kragvoorsiener kon ook sy dieselvoorraad hervul vir noodreserwes.

Drie eenhede ondervind tans gedeeltelike kragverliese wat 895 MW uit die kragnetwerk haal.

Koeberg

(Argieffoto: Armand Hough/ANA)

Eskom se bestuur moes vanoggend nie net vrae oor beurtkrag beantwoord nie, maar ook oor die beplande instandhoudingswerk by die Koeberg-kragstasie. Albei eenhede daar sal volgende jaar opeenvolgend afgeskakel moet word sodat die stoomkragopwekkers vervang kan word.

De Ruyter het gesê dié onderbrekings sal die ingewikkeldste nóg in Koeberg se geskiedenis wees, terwyl Eskom in die proses 928 MW aan kapasiteit per eenheid vir ʼn lang tydperk kwyt sal wees.

Die moontlikheid van beurtkrag dán kan nie uitgeskakel word nie.

Die instandhoudingswerk is volgens De Ruyter egter onvermydelik aangesien die aanleg nie nóg 20 jaar met die huidige stoomkragopwekkers bedryf sal kan word nie.

De Ruyter meen Eskom het alles moontlik gedoen om vir die onderbrekings voor te berei.

Só kan Suid-Afrikaners help spaar aan krag

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die kragvoorsiener het op die jongste nuuskonferensie weer eens ’n beroep op landsburgers gedoen om krag te bespaar.

De Ruyter het daarop gewys dat Suid-Afrika tans 14 miljoen huishoudings het en sou elkeen van dié huishoudings slegs een onnodige lig afskakel, altesame 835 MW bespaar kan word. “Dit is meer as een eenheid by ’n groot kragstasie soos Medupi.”

Daar is ook tans 675 000 swembaddens in die land. Indien elkeen van dié swembaddens se pomp vir slegs een uur minder per dag hardloop, kan 506 MW bespaar word terwyl 743 MW bespaar kan word sou elke landsburger sy of haar geiser se temperatuur na 60 °C verlaag en dit tydens piektyd, veral saans, afskakel.

De Ruyter meen dié besparings is genoeg om ’n groot stad soos Tshwane se kragverbruik te dek.

Eskom se baas het op ’n vraag van ’n verslaggewer geantwoord dat die kragvoorsiener Suid-Afrikaners se “frustrasie, woede en irritasie” oor beurtkrag verstaan en begrip het daarvoor.

Eskom sal solank beurtkrag voortduur daagliks nuuskonferensies hou om Suid-Afrikaners op die hoogte van die situasie te hou. Die volgende konferensie sal na verwagting Vrydag om 10:00 plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Parmantige samaritaan ·

Dankie vir goeie nuus Mnr de Ruiter. Nou moet ons net van die kanker eff ontslae raak.

ES ·

Ek het aan die begin my bedenkinge oor Mnr de Ruyter gehad maar ek dink hy maak beter vordering as sy voorganger. Dis net jammer dat dit nooit weer die ESKOM van ouds sal wees nie. Die skade is klaar aangerig.

Adeline ·

1. Mnr de Ruiter jy is ‘n held in my oë om die volgende redes.
a) die korrupte cANCer munisipaliteite wat geld weerhou het van Eskom en nie hulle rekeninge betaal het nie maar die geld in hulle sak gedruk het vir eie gebruik.
b) die toelaat van die arrogante onwettige op koppelings van krag misbruik deur diefstal van hierdie “ras gebaseerde” kriminele (wat met hoogs kreatiewe idees) die krag eenhede ens laat opblaas en of ingee het met oorlaai van krag diefstal. Waar die polisie of weermag toekyk en niks doen.
c) die diefstal van krag kabels en selfs torings beskadig word.
d) die feit dat die ander politieke partye kritiseer en koppe eis maar hulle is deel van die probleem en nie die oplossing nie want hulle verhoed nie die korrupsie van Eskom geld diefstal deur die cANCer munisipaliteite nie.
e) die krag voorsiening aan Zim en buurland “boeties” waar daar nie krag is nie en geen geld voor ontvang nie.
MNR DE RUITER JY IS ‘N HELD VIR WAT JY VERMAG MET ESKOM IN N BANKROT REGERING

Peony ·

Ek sekondeer elke woord wat jy sê…mnr se Ruiter het’n groot taak op sy skouers geneem en moet ongelukkig onvoorsiene en drastiese stappe neem om ‘n uiters korrupte en ANC-gedrewe maatskappy te red! Wat in 24 jaar verwoes was moes/moet hy kom red in 18 maande…dit is ‘n absoluut ontmoontlik en onbegonne taak om ‘n organisasie vol korrupte aasvoëls te red in so ‘n kort tydperk. Ek salueer die man…ek sal deurdruk en bid vir mnr de Ruiter…gee hom kans mense in SA en hou op om altyd vol kritiek en negatief te wees, iewers moet mens begin om positief te raak. My vraag aan elkeen wat vol kritiek is…wat is jou bydrae om ESKOM te red?

johan ·

Ek stem saam maar my vraag bly steeds waarom bespaar Eskom self nie krag deur daardie groot ligte wat in die die swart woongebiede brand bedags af te sit nie.

Peony ·

Hulle is heel waarskynlik nie bewus daarvan nie…dit is die verskeie munisipaliteite wat die “kulprits” is en wat moet sorg dat energie bespaar word in hulle verskeie woonbuurte…

johan ·

Ek het persoonlik ‘n skrywe aan Mnr de Ruiter gestuur so ek twyfel dat hulle nie kan weet van die probleem nie

johan ·

Peony ek het vergeet om te sê dat daardie ligte nie deur die Munisipaliteite beheer word nie maar wel deur Eskom.

Arno ·

Ek betaal vir krag maar nou moet ek julle help spaar???? Se moe…. man. Wat van al die skade wat ek en al die ander betalers het agv loadshedding? Gaan julle my help om al my versekering premies en bybetalings te betaal om alles wat gekalf het te vervang? Julle is n grap net soos die ANC

Sênet ·

Ek dink ons almal weet dis van korte duur as hulle na soveel jare dit nie kan regmaak nie is daar nog n hele paar jaar van beurtkrag wat vir ons wag

Johann ·

Ek stel voor die die “personeel” wat verandwoordelik is vir die chaos gaan werk by n flikkerlig fabriek. Hulle sal besonders goed wees met die monitering van AAN…..AF…..AAN…AF…..AAN……AF.

Anoniem ·

Het hy die hulp van sy niggie “Jenna Ruyter”ingeroep?

Papsak ·

Ja Mnr De Ryhter moenie gaan nie hulle wil nou weer hulle boeties die pos gee

johan ·

As al daardie groot ligte in die swart woongebiede net afgeskakel word bedags wonder ek hoeveel krag bespaar sal word. Dit word direk van eskom beheer. verstaan nie ons moet krag bespaar maar hulle nie. Waarom praat Mnr de Ruiter nie daaroor nie. Ek het al ‘n direkte skrywe aan hom gerig,maar het nie eers ‘n antwoord daarop gekry nie. Nou wonder ek of Eskom ernstig is om kraf te spaar en of dit net lekker is om ons in die donker te laat sit ?

Jeffrey ·

Ek het nooit “my kant” gebring met kragbesparing nie, want ek het geweet eskom was bestuur deur oneerlike mense wat die kragtekort self veroorsaak het en nie n duit omgegee het oor Suid Afrika se mense nie ons sou probeer krag spaar het tot ons pers is maar dit sou nie help nie. MAAR ek het hierdie week besluit ek sal my kant bring want eskom word vir die eerste keer in n lang tyd bestuur deur iemand wat bekwaam is, werklik omgee vir die land en sy uiterse bes gee en daarvoor het jy nou my volle saamwerking asook respek Mnr de Ruiter.

Samuel ·

Mnr. De Ruyter is voorwaar ‘n held. Géén Kader sal regkry wat hy regkry nie. Ook nie die sogenaamde SP nie. Cyril wil hê Eskom moet inplof sodat African Rainbow Energies kan oorneem. Sy staatskaping gaan die van Zuma soos ‘n vulletjie laat lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.