Beurtkrag, dieseltekorte: Dis ʼn stryd om ‘oorlewing’

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Boere raak toenemend bekommerd oor die uitwerking wat beurtkrag en die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne ook op plaaslike vlak op die land se voedselsekuriteit en -pryse tot gevolg sal hê – juis omdat albei kwessies boere se toegang tot diesel bemoeilik.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê hy is bekommerd oor die impak wat hierdie sameloop van gebeure op die landbou kan hê.

Volgens Wilken beslaan diesel sowat 10% van insetkoste wanneer dit kom by konvensionele mielieproduksie.

Die verkryging van hierdie broodnodige brandstof is egter so bemoeilik dat dit al hoe meer gevaarligte oor die toekoms van voedselsekerheid in Suid-Afrika laat flikker.

“Die skokstygings in ru-olie-pryse weens die konflik in Europa het dieselpryse die hoogte laat inskiet,” sê hy.

“Boonop het Eskom ʼn massiewe afhanklikheid van diesel en belemmer die grootskaalse dieseldiefstal uit ons nasionale pypleiding-netwerk die beskikbaarheid van brandstof.”

Brandstofdiefstal by ʼn Transnet-pypleiding buite Harrismith in die Vrystaat het vroeër vandeesweek daartoe gelei dat duisende liter diesel verlore gegaan het. Boonop het die lekkasie wat die boewe veroorsaak het, veroorsaak dat diesel uit die pypleiding bly stroom het.

Wilken sê boonop het die pryse van ingevoerde kunsmis en landbouchemikalieë intussen verdubbel.

“Al dié faktore laat boere in die Vrystaat twee keer dink oor hulle kapitale beleggings en plantstrategieë in die toekoms,” sê hy.

“Boere wat kapitaal beskikbaar het, belê nou eerder in alternatiewe energiebronne om onafhanklik van Eskom se netwerk te wees.”

Volgens Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, veroorsaak die onbekostigbare stygings in insetkoste dat mielies nie meer teen ʼn bekostigbare prys op die konvensionele manier geproduseer kan word nie.

“Die toenemende internasionale vraag na mielies en sorghum vir biobrandstof kan die pryse stuit terwyl ru-olie pryse so hoog bly.”

ʼn VL-bestuurslid en besproeiingsboer van Jacobsdal, Kempen Nel, beplan reeds om koste te bespaar deur eerstens nie meer afhanklik te wees van Eskom se kragvoorsiening vir sy besproeiing nie.

“Wat die konflik in die Oekraïne ons leer, is dat landbou moeilik sonder krag en diesel bedryf kan word,” sê hy.

“Produkte kan nie vervoer word om mee handel te dryf nie en voedsel kan dus nie van die plase na die stede vervoer word nie. Dit word weliswaar ʼn geveg vir eie oorlewing.

“Ongelukkig lyk mielies, wat die hoofvoedselbron van Suid-Afrika is, nie tydens al hierdie onsekerhede na ʼn aantreklike opsie om mee te boer nie,” sê Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Dit is goeie nuus vir die ANC hoe meer wit boere dit nie kan maak nie hoe meer goed bewerte grond is daar te koop vir hulle BEE maaitjies. Daarom sal hulle ook niks aan die petrol prys doen, wat heeltemal te hoog is in elke geval

Daniel ·

As mens na al hierdie faktore kyk lyk dit asof daar moeilike tye voorlê!

Atta ·

Self produsering deur boere of boerderygemeenskappe van biodiesel lyk al meer na die antwoord, in stede van om die mielies uit te voer vir die vervaardiging van biobrandstof elders.

Luister ·

Het jy die laaste paragrawe gelees? De Ruyter het ‘n stukkende Eskom geërf en verrig meer as sy voorgangers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.