Beurtkrag: Dís wat gebeur as kragnetwerk ineenstort

Argieffoto

Beurtkrag is lankal nie meer ʼn vreemde verskynsel in Suid-Afrika nie, maar tot dusver kon die land daarin slaag om ʼn algehele ineenstorting van die nasionale kragnetwerk vry te spring.

Wat is egter die kans dat die land dae lank sonder enige elektrisiteit gelaat kan word en hoe lank sal dit Eskom in so ʼn geval neem om weer die ligte aan te kry?

Dít is van die vrae wat Robert Koch, senior bestuurder vir ondernemingsrisiko en stabiliteit by Eskom, Dinsdagoggend in ʼn onderhoud met JacarandaFM se Martin Bester beantwoord het.

Bester het Koch onder meer gepols oor die probleme by Eskom en herhaaldelik gevra of enigiemand verantwoordelik gehou word vir dié probleme wat die nasionale kragvoorsiener kniehalter.

Koch het verwys na die situasie in Venezuela waar byna die hele land verlede maand dae lank sonder elektrisiteit gelaat is nadat ʼn kerngedeelte van dié land se kragstelsel ineengestort het.

Koch het aan Bester gesê die kans is skraal dat Suid-Afrika se nasionale kragnetwerk heeltemal in duie sal stort, maar erken daar is wel ʼn kans dat dit kan gebeur. Hy het egter gesê Eskom is so goed moontlik voorberei indien so iets sou gebeur.

“’n Nasionale kragnetwerk-ineenstorting sal gebeur as iets baie vreemd skeefloop op die netwerk en ons die stelsel binne sekondes verloor. Dit is wat ons nasionale beheersentrum dag en nag werk om te verhoed,” het Koch gesê.

“Ons span hou deurentyd die frekwensies van die kragstelsel dop en as daardie frekwensies van die spesifikasies sou afgaan, sal ons opwekkers val soos domino’s en as dit gebeur, sal ons die stelsel letterlik binne sekondes verloor.”

Koch sê Eskom het spanne wat op individuele eenheidsvlak oefen aan wat om te doen, sou die kragstelsel in duie stort. “By ons bystandsentrum in die suide van Johannsburg het ons drie aansittermotors om die kragnetwerk weer aan die gang te kry en ons ouens oefen letterlik stap vir stap wat om te doen as so iets gebeur. Soos ʼn 747-vlieënier in ʼn simulator oefen om ʼn noodlanding uit te voer, so oefen ons ouens in ʼn simulator om die kragnetwerk terug aan mekaar te sit.”

Koch sê hoewel mense dalk mag dink Eskom se fokus gedurende ʼn nasionale kragnetwerk-ineenstorting sal wees om die kragtoevoer na hospitale herstel te kry, is dit nie die geval nie. “Ons prioriteit is om die kragnetwerk aan die gang te kry en ons sal dit stuk-stuk weer aanskakel as dit sou gebeur.”

Hy het die kragsituasie vergelyk met ʼn motor wat sukkel om by ʼn bult op te kom en sy enjin wat dreig om te vrek. “As jy betyds agterkom die enjin is besig om te vrek en jy los die koppelaar, sal die voertuig nie meer vorentoe beweeg nie, maar die enjin sal ten minste aanhou hardloop.

“Ons het tans 22 steenkoolkragstasies wat hierdie vermoë het en as ons daarin kan slaag om hulle binne ʼn relatiewe kort tydperk weer aan die kragnetwerk te koppel, kyk ons na ʼn relatiewe kort tydperk voor ons weer die kragnetwerk aan die gang kan kry.”

Op ʼn vraag van Bester presies hoe lank so ʼn “relatiewe kort tydperk” sal wees, het Koch geantwoord dit sal na verwagting tussen drie en vier dae neem om die kragtoevoer na groot gedeeltes van die land te herstel.

Koch het tydens die onderhoud beklemtoon daar is ʼn beduidende verskil tussen beurtkrag en onbeheerste kragonderbrekings (rolling blackouts) of ʼn onbeheerste nasionale kragnetwerk-ineenstorting (national blackout).

“Beurtkrag word juis toegepas om ʼn netwerk-ineenstorting te verhoed. Wanneer ons beurtkrag toepas, sal ons byvoorbeeld hospitale wat daardeur geraak gaan word vooraf laat weet dat ons beurtkrag binnekort gaan toepas. Hulle sal dan voor die beurtkrag begin hul kragopwekkers aanskakel en toets om seker te maak dit werk.

“Indien hulle ʼn probleem het of die kragopwekkers wil nie werk nie, sal hulle ons bel en ons inlig van die probleem. Ons sal dan daardie spesifieke hospitaal by daardie dag se beurtkrag uitsluit. Tydens onbeheerste kragonderbrekings het ons nie daardie soort beheer nie. Ons kan nie net die hospitaal se kragtoevoer aanskakel nie,” verduidelik hy.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA

“Ons prioriteit tydens ʼn nasionale kragnetwerk-ineenstorting sal nie wees om die hospitale se kragtoevoer te herstel nie, maar om die algehele kragstelsel weer aan die gang te kry.”

Koch het bygevoeg hoewel Eskom alles in sy vermoë doen om die kragnetwerk so stabiel moontlik te kry – en hoewel die situasie reeds baie beter lyk as verlede maand – sorg die kragvoorsiener dat sy spanne gereed is vir die ergste. Dit is veral belangrik in aanloop tot die winter wanneer kragverbruik styg en die kragnetwerk dus, veral in die aande, onder groter druk verkeer as in die somer.

“Beurtkrag het ons tot dusver weerhou van ʼn soortgelyke situasie as in Venezuela waar daar ses dae lank geen elektrisiteit was nie. Soos jy weet, het ons vier fases van beurtkrag wat toegepas word na gelang van die situasie,” sê Koch.

“Ons het besef ons het meer fases nodig indien iets dalk skeefloop en daarom het ons ook fases vyf tot agt ingebring. Ek weet daar is baie grappies daaroor wat die ronde doen, maar vanuit ʼn ingenieursperspektief is ons land nou gereed vir so ʼn situasie as dit ooit tot daar kom.

“Daarna het ons nóg sewe fases van outomatiese beurtkrag. Ons het dus ʼn groot klomp beskerming wat in minder as ʼn sekonde kan intree om die kragnetwerk te beskerm indien iets baie vinnig skeefloop.”

Op ʼn vraag van ʼn luisteraar of meer beurtkrag gedurende die winter verwag word, het Koch gesê nee. “Ons kan nooit waarborg dat daar nié beurtkrag gaan wees nie, maar as ons praat van ons verwagting … Ons beplan vir ʼn kragopwekkingstekort van 7 500 MW weens onbeplande probleme soos die gehalte van steenkool. As dit erger word as dit [ʼn opwekkingstekort van tussen 9 500 MW en 10 500 MW], sal ons dalk kyk na fase 1-beurtkrag,” het hy geantwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Anoniem ·

Die probleem van Eskom het alreeds in 2008 begin, so in 11 jaar het hulle nog niks bereik / uitgerig nie. Laat al die “golden handshake” mense al die geld teruggee sodat hulle alles weer op datum kan bring. Hoekom moet ons (die verbruikers) vir Eskom se gemors betaal? Word al die mense wat hierdie probleme veroorsaak het rekenpligtig gehou of werk hulle nogsteeds daar? Ek dink nie die publiek word ten volle ingelig oor wat daar aangaan nie.

Winternag ·

Ek dink ‘n algehele ineenstorting van die kragnetwerk gaan wel gebeur. Dit is onvermydelik. Dit is net ‘n kwessie van wanneer. Dan is die hoe koud is die windjie en skraal …

Gert van Wierdapark ·

Ons is beindruk met die kundige antwoorde wat gegee is. Die probleem is of die kundigheid nog daar is om die planne uit te voer as die scenario sou verswak/verander? Hopelik sal dit nie ontaard in “Panic Stations Zebra” nie.

marous ·

Hierdie spul se ineenstorting het al 10 jaar voor Venezuela gebeur . Die agbare bestuurder vertel net wat almal al lankal weet . Hy het egter nie een keer verskoning gebied aan die land se mense nie . Die vraag wat hy moet antwoord is – WIE SE SKULD IS DIT EN WAT GAAN JULLE DAARAAN DOEN ????

John ·

Nou weet ons presies waarmee Eskom voltyds besig is… oefen om ‘n klip voor ‘n ou tjor se voorwiel te sit sou dit bult op stol. En as dit problematies is, voer nog longlife-gloeilampies uit Indiè in en gaan deel dit uit… eerste by hospitale wat oor eie kragopwekkers beskik omdat dokters meestal nie tot moordadigheid neig nie… daar is egter wettige limiete, ons hoop Eskom weet…

Carla ·

Dis als goed en wel dat hulle almal stap vir stap alles leer maar hulle dink nie aan al die lewens wat gevat word in hospitale deur om nie eerste hulle krag reg te stel nie soos hul gese het hulle belangrikste is om die kragstelsel weer aan die gang te kry. Dis net vir my onaanvaarbaar dat mense lede van hul verloor deur goed soos die.

Andre ·

En daar gaan ook nie brandstof vir die generators wees nie…..

Rita Pohl ·

Oplossing: leen geld by China en gee SA as sekuriteit!!

Wielspore ·

Daar word heeltemal te veel publisiteit gegee aan negatiewe kommentaar rakende ESKOM en die moontlike gevolge daarvan. Hierdie gevolge is bloot spekulasie en sensasie soekend en dit is nie feitlik. Geen koerant skrywer beskik oor die kennis om te kan bepaal hoe werk ESKOM se kragnetwerk. My werkgewer (nie ESKOM) wek ook krag op en verskaf krag vir sy eie besigheid en sit sirplus krag in die ESKOM netwerk. Ons eie krag netwerk is net so ‘n ingewikkelde stelsel dat net mense wat daarmee werk die konsep en werking verstaan.
ESKOM het probleme en ek dink in die laaste 6 maande het daar positiewe veranderings plaasgevind by ESKOM as wat daar die afgelope 20 jaar was en daar is omtrent niks rondom die saak deur die media deurgegee.
Onthou, as aanhou kyk en wag vir die reen, het jy nie aangeplant as die reen kom.

Boesman ·

Eskom verstaan nie eers sy eie besigheid nie, en is baie geheimsinnig. So, hoe moet joernaliste nou verstaan? Verder, 25 + jaar gelede het Eskom nie so baie probleme gehad nie.

Dries Moolman ·

Spreek die onbeheersde bevolkingsgroei van die land aan, die aantal krag verbruikers neem toe, maar die fasiliteite om krag te voorsien gaan agteruit en raak minder. Volgende sal die water aan die beurt wees.

Jacques ·

Soos ek dit verstaan gee eskom nie om as iemand dood gaan agv iemand wat nie sy werk doen nie ? Ons moet gewoond raak daaraan dat mense in die land niks beteken behalwe as daar geld te kort is of as daar gestem moet word .Diens bestaan lankal nie meer in die land , die persoon wat se hy lewer n diens lieg blatant .

Daan ·

Voor die land se Demokrasie is daar bepaal en beplanning gemaak agv industrie en bevolking wat groei dat daar ten minste een nuwe kragsentrale elke 6 tot 7 jaar gebou moet word om aan die land se aanvraag te kan voldoen. Kusele en Madupe is maar net twee wat sover gebou is, onder standaard, vier jaar verby die voltooingsdatum, en miljarde oorspandeer. Dit als agv BEE en al die GROOTKOPPE wat dink daar is n bodemlose emmer waaruit hulle kan aanhou skep. Escom gee goeie verduideling van wat aangaan igv die beurtkrag en opwekingskappasiteite ens. Hulle gee nie n verduideliking van wat daartoe gelei het nie. Die skuld kan direk voor die deur van die ANC gele word.

Boerboel ·

Dit gaan n’ groot ramp wees as die krag af is vir n’ paar dae, dink net aan al die vrot vleis, sewerage pompe wat gaan staan, geen drink water, en in die winter as dit koud is !
Kom ons hoop vir die beste, Lyk my dit kan n’ baie lang koue en donker winter word !

remondo ·

Maar wie is dan verantwoordedelik? die betaalende verbruiker of Eskom wat nie betaalende verbruiker aanhou laat gebruik?

JAN ·

Fake news: dis nie beurtkrag nie maar BEURT KERS of Sonder Krag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.