Eskom het aangekondig dat fase 2-beurtkrag Donderdag om 12:00 in werking gestel word – en tot minstens Sondagaand gaan duur.
Die kragvoorsiener sê beurtkrag moet ingestel word om noodreserwes te bestuur wat gaan help om die fase van beurtkrag wat benodig word, so laag moontlik te hou.
Die stelsel is volgens Eskom se verklaring “kwesbaar en onvoorspelbaar” en indien enige verdere probleme ondervind word, kan die vlak van beurtkrag op kort kennisgewing verhoog word.
Twee opwekkingseenhede by die Kusile-kragsentrale het uitgeskop weens ʼn probleem met die hoofvervoerband wat steenkool aan die eenhede verskaf.
Twee eenhede by die Kriel- en Duvha-kragsentrale het boonop ook ingekonk.
“Ons het in hierdie stadium vier opwekkingseenhede wat ná beplande instandhoudingswerk nou eers later in diens gestel sal kan word.”
Altesaam 5 358 MW is weens beoogde instandhoudingswerk nie beskikbaar nie, terwyl nog 14 748 MW weens ander onvoorsiene probleme nie beskikbaar is nie.
Eskom sê sy spanne werk onophoudelik om soveel moontlik kapasiteit so gou moontlik te herstel.
Eskom het ook ʼn beroep op verbruikers gedoen om krag spaarsaam te gebruik.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
En ou de ruiter is ook maar net daar vir die vet selaris wat ons belasting betalers moet betaal.
As daar bekwame tegnici en engineurs aangestel word sal sulke skielike probleme minder opduik, dit is egter te bevraagteken of dit die werklke rede is?
Neem aan dis Duvha in plaas van Khuva?
Kuvha moet seker Duvha kragstasie wees.
? Hoeveel geld soek Eskom nou alweer