Beurtkrag: Donker tye lê voor

(Foto: pixabay)

Twaalf jaar nadat Eskom vir die eerste keer beurtkrag in werking gestel het, is daar oënskynlik geen einde in sig nie; inteendeel, waarsku sommige kenners, ʼn erger beurtkragsituasie kan nog voorlê.

Suid-Afrikaners word sedert verlede week weer aan die gewraakte aan-af-stelsel onderwerp, hoewel Eskom Maandag aangekondig het dat hy beurtkrag vir eers opskort. Kort daarna het hy wel aangekondig dat hy sogenaamde kragvermindering in sekere gebiede in Noordwes en Gauteng in werking gaan stel.

Ted Blom, ʼn senior energie-, mynbou- en kommoditeitstrateeg, sê die moontlikheid dat fase 8-beurtkrag – in werking gestel gaan word, kan nie uitgesluit word nie. Geen tydsraamwerk bestaan egter tans vir só ʼn fase nie.

“Die vertrouensverhouding tussen Eskom en die publiek is gebroke. Ons is so afhanklik van Eskom en sy beskikbaarheid en betroubaarheid, maar as ʼn sakeman kan jy nie in ʼn verhouding sonder vertroue wees nie,” sê Blom.

Hy sê volgens Eskom se eie vooruitskatting kan tussen 11 000 MW en 13 000 MW, maar tot soveel as 20 000 MW, oor die volgende paar maande onbeskikbaar wees.

Beplande instandhoudingswerk haal sowat 8 000 MW uit die netwerk, terwyl onbeplande instandhoudingswerk – aanlegte wat vir welke rede ook al die gees gee – gemiddeld 12 000 MW uit die stelsel haal.

Eskom raam dat ʼn gemiddelde sowat 16 000 MW oor die volgende 14 weke weekliks uit die kragstelsel kan wees.

Verlede week was nagenoeg 14 000 MW nie beskikbaar nie en fase 2-beurtkrag is noodgedwonge in werking gestel.

Enigiets meer as 11 000 MW wat op enige gegewe tyd nie in die netwerk beskikbaar is nie, beteken beurtkrag moet in werking gestel word.

50%-kans op fase 6

beurtkrag krag elektrisiteit Eskom

Suid-Afrikaners moet hulle voorberei op nog beurtkrag in die komende maande. (Foto: Maroela Media)

Blom waarsku dat ʼn 50%-kans bestaan dat Suid-Afrika tussen nou en die winter fase 6 gaan bereik. “Ek kan nie vir jou sê watter dag of watter uur nie, ons praat hier van waarskynlikhede. Daar is ook ʼn redelike kans op afwisselende fase 8-beurtkrag.”

Fase 8 beteken gebruikers gaan op geskeduleerde dae langer as 12 uur in vier uur-segmente sonder krag sit.

Blom waarsku die maande wat voorlê kan boonop die ergste in Eskom se geskiedenis wees.

Hy sê Eskom se eie vooruitskatting tot April vanjaar dui op ʼn volgehoue onderbreking in die beskikbaarheid van 20 000 MW, met ander woorde ʼn tekort van tussen 7 000 MW en 8 000 MW – en dus die inwerkingstelling van fase 8-beurtkrag.

“Mense moet bewus wees hiervan en voorbereidings tref, maar hulle moenie paniekerig wees nie. Suid-Afrikaners is taai.”

Blom sê dit is boonop makliker gesê as gedaan – en soms ook veel duurder – om heeltemal onafhanklik van Eskom te funksioneer. Vir groot bedrywe gaan daar in die afsienbare toekoms dus steeds ʼn afhanklikheid van ʼn groot kragvoorsiener soos Eskom wees.

Regering besig met volstruispolitiek

Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor energie, sê ten spyte van die regering se versekering dat hy die probleem pak, is dit nie veel meer as ʼn poging om mooi broodjies te bak nie.

Hy sê Eskom benodig dringend geld, maar weens die kragvoorsiener se enorme skuldlas en die regering wat bloot nie nog geld het nie, steier Eskom van een krisis na die volgende.

Cachalia glo privatisering is een manier om die skip om te draai en beleggers – indien enige gevind kan word – moet toegelaat word om in spesifieke aanlegte te belê.

“Dit moet egter behoorlik gedoen word. ʼn Openbare monopolie kan nie in ʼn private monopolie verander word nie.”

Hy sê daar moet nou gewerk word om Eskom te stabiliseer en dan na privatiseringsopsies gekyk word.

Cachalia stem saam dat produsente toegelaat moet word om krag aan die netwerk te voorsien omdat dit ook gaan help om druk op Eskom te verminder. Gewone burgers moet ook aangemoedig word om alternatiewe kragbronne te gebruik, terwyl toerusting soos sonpanele gesubsidieer kan word om mense te help om hul afhanklikheid minstens gedeeltelik te verminder.

“Die regering moet inspring, maar hy is besig met volstruispolitiek,” sê Cachalia.

Hy is dit ook eens met Blom dat die vooruitsigte bra sleg lyk.

“Tensy iets verander, gaan ons van beurtkrag na beurtkrag leef. Ons gaan voortgesette instandhoudingsprobleme ondervind. Die vooruitsig lyk droewig en ons kan in donkerte eindig.”

Donker tye lê voor

(Foto: Maroela Media)

Cachalia sê André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, doen sy bes “met sy hande agter sy rug vasgemaak en die regering wat in sy nek blaas”.

Hy sê ook was dit nie vir die afsonderingstydperk wat weens die Covid-19-pandemie in werking gestel is nie, sou die situasie selfs erger gewees het.

“Daar is bedrywe en ondernemings wat op tussen nul en 100% van kapasiteit werk en die ekonomiese afswaai weens die afsonderingstyd, het tot verminderde kragverbruik gelei.

“Ten spyte hiervan staar chroniese beurtkrag ons in die gesig. Verbeel jou dat die ekonomie ten volle aan die gang was – ons sou nie eens naastenby aan die behoefte kon voldoen nie.”

Blom glo nie privatisering is ʼn uitweg nie, grootliks omdat daar waarskynlik geen belegger is wat aan die sukkelende en skuldbelaaide kragvoorsiener sal wil raak nie.

Hy glo die oplossing lê onder meer daarin om onafhanklike kragprodusente toe te laat om elektrisiteit aan verbruikers te verkoop – en nie om soveel moontlik hekkies in hul pad te sit om dit reg te kry nie.

Die minister van energie, Gwede Mantashe, het verlede jaar aangekondig dat die regering alternatiewe energie, soos son- en windkrag, gaan aankoop. Blom sê daar is egter soveel bepalings waaraan voornemende energieverskaffers moet voldoen, dat dit haas onmoontlik vir enigiemand gaan wees om krag op dié manier te voorsien.

“Gwede [Mantashe] moet meer ontvanklik wees en mense toelaat om krag self op te wek, of dit nou in dorpe of waar ook al is.

“Die ANC wil egter alles beheer. Niemand gaan aan al die bepalings hieroor kan voldoen nie en boonop verskuif die regering deurentyd die doelpaal,” sê Blom.

Die instandhoudingswerk by die Koeberg-kernkragsentrale se eenheid 1 is nog ʼn kwessie wat kommer oor die bestendigheid van kragvoorsiening verhoog.

Volgens Eskom se raming gaan instandhoudingswerk sowat drie maande duur.

“Daardie aanleg is in 40 jaar nie oopgemaak nie. Die boute is geroes. Ek sal bitter verbaas wees as dit minder as ses maande duur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Maklilke oplossing, maar die sal net n droom scenario bly om die probleem optelos 1. Sny alle onwettige koppelings 2. Laat almal vir krag betaal 3. Sny die salarisse van die Eskom werkers (ongelooflik watse salarisse hulle kry)

Pieter

En so hou die ANC sirkus aan hoe kan jy n land best as negentig pers van die ANC menisters net graad een het.

Stephen

As ons weer sien vra Eskom weer vir verhoogde tariewe vir minder diens…. Ons leef nou wat die prys is van om vaardige tegnikuste pakette te gee om kwotas en BEE te bevorder……..

Blikkantien

Elke liewe dag word ek naarder en naarder van ons onbeholpe regering en hulle idiotiese besluite.

Pieter

Die ANC sirkus is maar net pionne van die groter, minder sigbare maghebbers in die wêreld. Met al hul geldlenery het hulle geen sê meer nie en is demokrasie oorhandig aan onverkose gesagspersone. Beurtkrag is ‘n oefening vir wat die wêreld gaan tref na Covid-19. Dit word ‘n cyberpandemie genoem en voorspel deur die Wêreld Ekonomiese Forum (dr Klaus Schwab). Hulle reël die Davos byeenkoms. Hulle het ook Covid-19 voorspel.