Beurtkrag: Donker week lê voor

Eskom waarsku dat beurtkrag te midde van die reën en koue na verwagting nog vir die grootste gedeelte van die week sal geld. (Argieffoto: Unsplash)

Die Paasnaweek was toe nie so goed vir Eskom se instandhoudingswerk as wat die sukkelende kragvoorsiener gehoop het nie – en die vooruitsig vir die res vir die week lyk steeds donker.

Phillip Dukashe, Eskom se groephoof vir opwekking, sê Eskom het gehoop om instandhoudingwerk oor die naweek in te haal. Weens die voortgesette reën en koue op talle plekke, was die vraag na krag egter veel hoër as wat die voorspelling was en kon verskeie eenhede gevolglik nie vir instandhoudingswerk van lyn af gehaal word nie.

Teen Vrydag was die vraag sowat 700 MW hoër as die verwagting, Saterdag was dit 1 687 MW hoër as die verwagting en teen Sondag het dié syfer op sowat 1 200 MW meer as die verwagte vraag gestaan.

“Dit is ʼn beduidende hoeveelheid en het ʼn uitwerking op ons beplanning gehad. Sommige eenhede het hulself daarna van lyn afgehaal [dit het gebreek] en dit is hoekom ons in hierdie situasie is,” sê Dukashe.

Eskom hoop om teen Donderdag in ʼn beter posisie te wees wat opwekkingsvermoë betref. Die vraag na krag daal gewoonlik op ʼn Vrydag en Dukashe sê die beste waarvoor gehoop kan word, is dat beurtkrag Vrydag deur die loop van die dag opgeskort sal kan word.

“Dit sal afhang van hoe goed ons die reserwes kan opvul,” sê hy.

Volgens Dukashe is fase 6-beurtkrag egter nie op hande nie – minstens nie hierdie week nie – en verskeie groot opwekkingseenhede sal na verwagting teen Donderdag weer aanlyn gebring word.

Nat steenkool

Die probleem met nat steenkool is niks nuuts nie en Dukashe sê daar word verseker dat die strategiese steenkoolvoorraad nié tydens die reënseisoen nat word nie. Dié voorraad word afsonderlik opberg, maar weens beperkte kapasiteit word steenkoolvoorraad tot tussen vyf en sewe dae se strategiese voorraad beperk.

Wanneer dit reën, word dié voorraad gebruik, maar die dae lange reën veroorsaak nou ʼn groot kopseer. “Ons het in die eerste ronde reën goed gevaar, maar as dit so deurlopend is, is dit moeilik om te bestuur.”

Weens die voortgesette reën word die strategiese voorraad nou uitgeput en moet daar na die gewone steenkoolvoorraad oorgeskakel word – en dit is waar die probleme insluip. Die gebied waar die steenkool geberg word, is weens die groot oppervlak nie onderdak nie, maar Dukashe sê hulle verseker onder meer dat die gebied behoorlik dreineer en goed in stand gehou word.

André de Ruyter, hoof van Eskom, sê by sommige kragsentrales was die steenkool net te nat om te hanteer. Wanneer dit dan deur die stortgeute in die ketels gevoer word, veroorsaak die nat steenkool blokkasies en dit het reeds tot opwekkingsverliese gelei.

Reserwes opgevul

By die Ankerlig-kragsentrale het dieselkapasiteit Dinsdagoggend op 67% gestaan. “Dit is nie ideaal nie en ons verkies dat dit bo 80% moet wees,” sê De Ruyter.

Net-net minder as 130 dieseltenkwaens word deur die loop van die dag by die kragsentrale verwag om die dieselvoorraad op te vul. Om reserwes op te bou, word die kragsentrale nie tans gebruik nie.

Die Gourikwa-kragsentrale het ʼn groter reserwekapasiteit en ʼn pypleiding, wat beteken dit sukkel nie met dieselfde logistieke probleme as Ankerlig nie. Hier staan die dieselvlak op 82% en die kragsentrale help tans om die opwekkingstekort te verminder.

By die Drakensberg-pompopgaarskema is nog 51 pomp-ure nodig om die boonste dam op te vul. By Ingula het die vooruitsig darem verbeter en net nog 12 ure is nodig om reserwes op te vul.

Algehele onbeplande instandhoudingswerk beteken 15 672 MW is tans nie in die netwerk beskikbaar nie. De Ruyter bestempel dit as “onaanvaarbaar hoog” en sê dit is ook wat tot die inwerkingstelling van fase 4-beurtkrag vanoggend gelei het.

Meer as 5 000 MW is weens geskeduleerde instandhoudingswerk boonop ook nie beskikbaar nie.

Die verwagte vraag na krag vir Dinsdagaand staan op 29 988 MW, wat beteken daar is steeds ʼn noemenswaardige tekort aan opwekkingskapasiteit.

“Daar was geen alternatief nie as om fase 4 in werking te stel om 4 000 MW af te skud sodat ons veilig deur die vraag kan navigeer en ʼn algehele ineenstorting kan vermy,” sê De Ruyter.

ʼn Algehele kragineenstorting, oftewel ʼn “blackout”, beteken die stelsel, wat gewoonlik teen ʼn wisselstroom van 50 Hz bedryf word, se frekwensie is óf te hoog óf te laag – wat dan ʼn beduidende gevaar vir die stelsel inhou.

“Om die stelsel te herstel nadat ons die frekwensie verloor het, kan ʼn week of langer duur,” waarsku De Ruyter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariana

Dit gaan al hoe slegter met Eskom en intussen ook slegter met ons. Ons betaal al hoe meer vir iets wat ons nie kry nie. Wanneer sal gsnoeg nou genoeg wees. Wanneer gaan hierdie regering wakker skrik en besef Eskom is ‘n bodemlose put van probleme.

Marius

Hoekom moet ons in SA in die donker sit waar ons buurlande heeltyd krag het agv die SA krag ???
Sny hulle krag ook af dan sal dit beter gaan. Dit gaan soos met ons brandstof wat uit gevoer word.
Buurlande betaal helfde minder as ons vir brandstof wat van SA af kom !!! Nou Nou WAT Nou??

Twallie

Eskom: ” BLAH BAH BLAH BLAH”

Dis wat gebeur as jy ‘n dooie donkie aan die lewe probeer skop.

Samuel

Ek is moedeloos. Ek glo eenvoudig nie meer Eskom se verskonings nie. Gee enigeen in hoë posisies enigsins om vir ons gewone mens?

VaalDonkie

“nat steenkool” seg hulle.