Beurtkrag dreig weens steenkooltekort

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Eskom het Maandag ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om dringend hul kragverbruik te verminder om beurtkrag af te weer.

Vier van die kragvoorsiener se kragsentrales het minder as 10 dae se steenkoolvoorraad oor en nog vier minder as 20 dae. Al die steenkoolsentrales se voorraad is tans gemiddeld 28 dae.

Khulu Phasiwe, Eskom-woordvoerder, het Maandagmiddag aan Maroela Media gesê daar bestaan altyd ʼn gevaar van beurtkrag. “Ons onderhandelings om te reël dat van die oorskot-steenskool by Medupi na ons kragsentrales in Mpumalanga vervoer word, is reeds ver gevorderd.”

Eskom het vroeër ʼn groot voorraad steenkool by die Medupi-kragsentrale by Lephalale in Limpopo laat aflewer, maar weens vertragings in die bouwerk kon nog net een van drie van die ses eenhede in bedryf gestel word.

AfriForum het vandag sterk kritiek uitgespreek oor dié steenkoolkrisis wat die land se kragtoevoer in gevaar stel. Dr. Eugene Brink, die burgerregte-organisasie se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake, is onder meer omgekrap oor die duur vervoer van steenkool.

“Dit beskadig ook die paaie en lei tot veiligheids- en verkeersprobleme,” sê hy. “Talle munisipaliteite het ook beswaar hierteen aangeteken en daarom is die proses vir eers vertraag. Die planne om dit per spoor te vervoer word ook nie deurgevoer nie. Eskom het bloot nie voldoende beplan nie.

“Hulle kon ten minste vroeër begin het om geleidelik steenkool tussen [kragsentrales] rond te skuif, maar dit het helaas ook nie gebeur nie.”

Phasiwe sê Eskom oorweeg dit om ʼn grondpad tussen die steenkoolbronne in Limpopo en die kragsentrales in Mpumalanga te bou om die nadelige uitwerking van die steenkoolvervoer op die padnetwerk te beperk.

Die kragvoorsiener onderhandel steeds met Transnet oor spoorvervoer. “Ons het nog nie ʼn datum vasgestel wanneer ons dié onderhandelings sal afhandel nie, maar dit sal binnekort wees,” sê Phasiwe.

“Beurtkrag sal altyd ʼn risiko bly tot ons Medupi en Kusile [in Mpumalanga] ten volle in bedryf kan stel.” Hy voeg by nog net een van Kusile se ses eenhede is al aangeskakel.

Eskom vra verbruikers moet vir eers minder krag verbruik. “Wanneer ons ʼn laer vraag na elektrisiteit het, verbrand ons minder steenkool,” sê Phasiwe. “Dit sal ons baie help.”

Hy voorspel die huidige probleme met steenkoollewering aan die kragsentrales in Mpumalanga behoort teen die einde van die boekjaar (31 Maart 2019) iets van die verlede te wees.

Eskom verkwalik die Gupta-maatskappy Tegeta, wat onder sakeredding geplaas is en nie langer steenkool aan die kragvoorsiener lewer nie, vir die huidige probleme.  “Die vraag is egter hoekom daar nie reeds deur die loop van die jaar plan gemaak is om nuwe verskaffers aan boord te bring nie, aangesien Eskom al vroeër vanjaar pertinent oor ’n steenkooltekort gewaarsku is,” sê Brink.

“Tegeta is boonop ’n berugte maatskappy wat sinoniem met staatskaping, korrupsie en laegehaltesteenkool geword het en moes lankal reeds as verskaffer die trekpas gekry het.”

Phasiwe erken al drie sentrales wat hul steenkool van Tegeta gekry het, moet nou voorrade van nabygeleë sentrales kry om hulle in bedryf te hou. Hy gee die versekering nuwe kontrakte sal binnekort gesluit word om die steenkoolvoorraad by die geaffekteerde kragsentrales te herbou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

John ·

Die stakers het toe weer hul sin gekry en ons moet betaal. Hierdie speletjie vir meer geld is al holrug gery. Graad 1e het dink beter speletjies uit. Was dit een van Xi se voorwaardes?

Thersia ·

Waar moet ons nog sny?. Reeds geen tuimeldroër nie. Reeds geen stoof nie, ons werk met gas. Enigste ander plek is elektriese heining, en dit kan ons nie waag nie… Magtag, moet ons nou ons vrieskaste begin afsit? Miskien moet hulle ophou om probleem by ons te soek. Doen bietjie julle werk effektief vir ‘n slag….

Skinny Bob ·

Hulle is besig om n krisis te step sodas hulle Sjinese geld kan leen.

Jan ·

Nee verkeerd hulle wil ons beste steenkool vir die chinese gee want agter die skerms beheer chine reeds ons land…

Ampie ·

Snaaks dat die aaklige apartheid regering dit altyd reggekry het om te sorg dat daar genoeg steenkool by die kragopwekkers was!

Mrs H ·

Die bietjie wat “ons”spaar, maak geen verskil. Hulle moet meer direk versoek rig aan die meerderheid wat maak soos hulle wil. Dan sal krag in oorvloed wees!

Johann ·

Vermetelde arrogansie! Agv absolute wanbestuur staar ons weer krag te korte in die gesig, maar ESKOM maak dit ons probleem? NOG N ANC LEGACY van absurde onbevoegdheid, maar hey… gee die verbruiker die skuld. PATETIES!

Eddie ·

Kry al die onwettige krag tapping tot niet en daar sal nie meer n probleem wees nie.

Hoc est bellum ·

Hulle wil ons eers sag maak sodat die toekomstige, verhoogde tariewe geregverdig kan word. SA strompel voort van die een krisis na die ander.

Alida ·

Twak hulle beplanning stink! Ek woon alleen mors nie krag nie maar gaam myself nie verontrief nie. Ek betaal R900 + vir n woonstel en ek is net saans tuis. Vir wat moet ek ongerief verduur agv hulle onwettighede en nonsense.

HPV ·

Eers te min kragstasies, dan te min steenkool maar beurtkrag bly ‘n werklikheid. Die probleem lê egter nie by eskom nie maar by die regerende regime. Begin wonder of ons nie dalk net beter af onder ‘n Chinese regime sal wees nie. Slegter as onder die anc kan dit nie wees nie.

Engela ·

Wat word van die krag wat Eskom van sonkrag en windkrag leweraars van regoor die land kry? Hulle rep nooit ‘n woord daarvan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.