Beurtkrag duur die naweek voort

beurtkrag-kers

Argieffoto.

Eskom het Vrydagmiddag bekend gemaak dat beurtkrag die naweek sal voortduur.

Volgens die kragvoorsiener sal hy voortgaan met fase 2-beurtkrag Saterdag en Sondag. Eskom het Donderdag om 15:00 fase 2-beurtkrag ingestel en dit is Vrydag voortgesit.

Eskom het gesê hy moet die naweek beurtkrag toepas, aangesien hy ʼn tekort rakende sy opwekkingsvermoë beleef weens probleme by kragstasies en die nodigheid om diesel- en waterhulpbronne te bestuur.

Die kragvoorsiener het gesê fase 2-beurtkrag sal, as die situasie tans in ag geneem word, tot middel volgende week toegepas word.

Die kragvoorsiener het huishoudings en ondernemings versoek om elektrisiteit spaarsamig te verbruik en geisers en alle ander nienoodsaaklike toestelle af te skakel om die las op die kragnetwerk te verlig.

Waar kry ek my beurtkragskedule?

Beurtkrag word toegepas wanneer daar nie genoeg kapasiteit is om aan die vraag na elektrisiteit te voldoen nie. Beurtkrag word dan toegepas om elektrisiteit te bespaar en druk op die kragnetwerk te verminder. Fase 1-beurtkrag bespaar 1 000 MW elektrisiteit op enige gegewe oomblik, fase 2 bespaar 2 000 MW, fase 3 bespaar 3 000 MW en fase 4 bespaar 4 000 MW.

Hoewel beurtkrag dikwels veroorsaak word deur ʼn tekort aan opwekkingskapasiteit, kan daar ook ander oorsake wees soos ʼn tekort aan steenkool, weersomstandighede of voorraadinvoerprobleme.

Beurtkrag sal voorafgegaan word deur ʼn kennisgewing deur Eskom, hoewel dié kennisgewing soms op kort kennisgewing uitgereik kan word. Indien jou krag af is sonder dat Eskom beurtkrag aangekondig het, is dit waarskynlik weens ander redes soos tegniese probleme of kabeldiefstal.

Indien Eskom jou elektrisiteit verskaf, kan jy jou beurtkragskedule kry deur www.loadshedding.eskom.co.za te besoek of 0860 037 566 te skakel.

Indien ʼn munisipaliteit jou elektrisiteit voorsien, kan jy die volgende webwerwe besoek of inbelsentrums skakel.

City Power (Johannesburg): www.citypower.co.za of 086 056 2874
Ekurhuleni (Oos-Rand, Gauteng): www.ekurhuleni.gov.za of 086 054 3000
Tshwane Metro (Pretoria): www.tshwane.gov.za of 012 358 9999
eThekwini (Durban en omliggend): www.durban.gov.za of 080 131 3111
Stad Kaapstad: www.capetown.gov.za of 086 010 3089
Nelson Mandelabaai: www.nelsonmandelabay.gov.za of 041 506 5555
Polokwane (Limpopo): www.polokwane.gov.za of 015 290 2490
eMalahleni (Witbank en omliggend): www.emalahleni.gov.za of 013 690 6911
Umhlathuze: www.umhlathuze.gov.za of 080 022 2827

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Thomas ·

Nie Eskom, of die regering, het die kapasiteit om dit te stop nie. Wag. Nie die BBP by Eskom of die regering het die kapasiteit om dit te stop nie. Daar is ‘n verskil.

Fonnie ·

Hier in Polokwane kom hulle nie eers die skedules soos uitgereik na nie. Vandag het ek 6 ure aaneenlopend beurtkrag beleef. Nie eers binne die voorgeskrewe skedule nie. Tragies!!!

Kobus ·

En al die komitee lede en kundiges wat deur ons geagte ministers aangestel is, al die leë beloftes oor die afgelope jare, van zumpies se tyd af, druk ons net dieper in die 3de wêreld situasie in waar ons gebreinspoel word om dit gelate te aanvaar….wat kan ons daarteen doen ? Dalk is daar goeie raad van iewers. Ag gebruik krag tog spaarsamig vra hulle….??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.