Beurtkrag eers gestaak: Só lyk vooruitsig

Argieffoto: GCIS

Eskom het tot 05:00 Vrydag beurtkrag toegepas en sê die kans dat beurtkrag weer ingestel kan word, is baie hoog.

Eskom het Donderdag skielik aangekondig dat hy van 16:00 tot 23:00 fase 2-beurtkrag sal toepas.

Die kragvoorsiener het toe laataand kennis gegee dat hy weens verdere onbeplande onderbrekings, kritiek lae watervlakke by sy pompskemas en die noodsaaklikheid om dieselreserwes te bestuur tot 05:00 Vrydag beurtkrag toepas waarna die situasie hersien sal word.

Volgens Eskom het die beurtkrag wat oornag toegepas is hom kans gegee om sy noodreserwes aan te vul ten einde die moontlikheid of die omvang van beurtkrag oor die volgende paar dae te beperk.

Die kragnetwerk is egter steeds erg onder druk met meer as 12 500 MW se onbeplande onderbrekings. Die moontlikheid dat beurtkrag Vrydag toegepas sal word, is dus steeds baie hoog.

Die kragvoorsiener het gesê die vraag na elektrisiteit het sedert Maandag met 1 000 MW toegeneem terwyl onbeplande onderbrekings bo 9 500 MW gebly het.

“Weens die verlies van bykomende eenhede in die loop van die dag (Donderdag) moes Eskom op kort kennisgewing beurtkrag instel om die kragnetwerk teen algehele ineenstorting te beskerm.”

Volgens Eskom beïnvloed die reënweer nie tans steenkoolhantering by sy kragstasies nie, maar dit kan ʼn invloed hê as die reën voortduur.

“Ons is besig om nooddiesel- en waterreserwes by ons oopsiklus-gasturbines en pompskemas te benut ten einde beurtkrag tot ʼn minimum te beperk. Ons het genoegsame dieselreserwes, maar sal ons waterreserwes by ons pompskemas vandag en oor die naweek moet aanvul.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Trevor ·

Ons het nognie ons geld vir Kersfees bonusse gekry nie. Kom ons sit die krag af.

Hendrik ferreira ·

Onbekwaamheid, gee André de Ruiter n kans om daai plek reg te maak en beurtkrag is iets van die verlede.

Kerneels ·

Nee wat, die probleme by Eskom is te groot vir een persoon om reg te ruk. Die hele sektor moet geprivatiseer word.

Johanna Botha ·

Eskom het gese geen beurtkrag tot Maart …..wat n grap is die mense nie !

Ronel ·

Slim plan van Eskom om nog n verdere bonus vir hulle in te samel.

Drikus Kotze ·

Daar moet ‘n beter leesbegrip gestel word in die plek van “onbeplande onderbrekings” want by implikasie was al die vorige onderbrekings dan beplan. Ek stel voor dat onbevoegdheid lei tot onderbrekings in die plek van onbeplande onderbrekings gestel behoort te word.

Anon ·

En tóg word R3.6 biljoen se rente vir Soweto afgeskryf… Nee wat, Eskom se verskoning raak nou ietwat afgesaag. Plaas hulle ook onder administrasie soos SAL.

Anon ·

09:00 vanoggend begin die volgende sarsie en só hou Eskom ‘n hele land gevange

emily ·

Ek kan net lag.
ESP se loadshedding suspended, Wow 5 minute later Stage 2 begin 9 uur.
Julle maak ons siek.

André-Chris ·

Dit sal nooit in der ewigheid ophou nie, net eskaleer, tensy mens iets aan hul ideologie kan doen wat onmoontlik blyk te wees, want dan is hulle nie meer ANC nie. Wat ek wel ‘n paar dae gelede gelees het, is daar word beweer dat 90% van die armste mense in die wêreld sal oor 10 jaar in Afrika leef. Sakeredding is nodig om die onafwendbare te keer.

wielie ·

Ek dink nie die een hand weet wat die ander hand doen by Eskom nie. Nog so 6 maande en die plek is ook in sake redding

Alexz ·

Ek het deur die jare ñ gasstoof, inverter, batterye, sonpanele en 12V LED strips aangeskaf. Ek het lig, kan kook en TV wanneer eskom aapstreke aanvang. Ons sal moet leer om minder van eskom afhanklik te wees, maar dit verg ñ veranderde lewensstyl.

Anon ·

Wil jy nou hê dat die hele Johannesburg in vlamme opgaan? ;-)

Pietertjie ·

Eskom is die treurigste van treurig. Geen beplanning. Sooo moeg vir liegstories . Waarom word skulde nie ingevorder nie. Ek verstaan regtig nie. Ons krag word onmiddelik gesny as ons selfs net vir ‘n dag laat is maar selfs raadslede se skuld kan maar oploop en later selfs afgeskryf word. Wet en orde bestaan nie meer.

emily ·

BELOFTES moes SA se naam gewees het, met al die onbevoegde mense wat nie weet hoe om instandhouding te doen nie.
Laai vir julle EskomSePush af. Alhoewel jy niks en niemand kan vertrou nie werk die app darem so bietjie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Nuwe Volkslied: Phil Collins ——— Land of Confusion.

Cherokee ·

‘Eskom het tot 5:00 Vrydag beurtkrag toegepas’.
Snert, ons krag op Suidstrand in Durban was af vanaf 09:00 tot 10:00.

Sam Brookes ·

Behalwe vir die opskrif laat blyk die artikel absoluut niks oor die opskorting van beurtkrag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.