Beurtkrag eers opgeskort

Argieffoto (Foto: Unplash)

Eskom het Maandagaand aangekondig dat beurtkrag van Maandag 23:00 voorlopig opgehef is. Die kragvoorsiener sê in ʼn verklaring hy het genoeg opwekkingskapasiteit, nadat sommige van die opwekkers wat onklaar geraak het, weer herstel is.

“Gedurende die afgelope 24 uur kon Eskom-spanne twee opwekkingseenhede elk by Kusile en Kriel en een by Tutuka-kragstasie suksesvol by die stelsel voeg. Nog twee opwekkingseenhede sal na verwagting môre weer in werking tree,” lui Eskom se verklaring.

Noodopwekkingsreserwes is ook voldoende herstel. Eskom het sedert verlede week weer beurtkrag begin toepas.

“Hoewel die kragvoorsiening in dié stadium voldoende is, wil Eskom die publiek versoek om steeds spaarsamig met krag te werk te gaan, aangesien die stelsel steeds kwesbaar en onvoorspelbaar is.” Luidens die verklarings is 13 897 MW se opwekkingskapasiteit steeds nie beskikbaar nie, weens onbeplande onderhoud en toerusting wat onklaar geraak het.

Eskom het ook Maandag te kenne gegee dat, indien beurtkrag wel toegepas word, dele van Gauteng en Noordwes voorts slegs twee uur eerder as vier uur beurtkrag op ʼn slag sal hê. “Dié skuif is bedoel om die onvoorsiene nadele wat veroorsaak is deur langer tydperke van beurtkrag, te beperk.”

Dié wysiging is van toepassing op die Merafong-, Mogale City- en Randfontein- plaaslike munisipaliteite in Johannesburg asook op Klerksdorp, Mmabatho en Vryburg in Noordwes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Snert man Randfontein is af vir 4 en half uur en dit nogals 2 keer per dag! Patesiese diens pffft waarvoor ons betaal!!!

Pieter ·

Vir hoe lank? Swak bestuur en onderhoud die laaste jare eis hul tol. Die nuwe kragsentrales is ook swak ontwerp. Dit sal beter wees dat Eskom werknemers al hul bonusse van die laaste 20-jaar terugbetaal en geen verhogings kry nie, veral die wat by hierdie gemors betrokke is en was. Sluit politieke leiers ook in.

Marcello ·

Let Wel,: moet nie alle werknemers oor dieselfde kam skeer nie, daar is van die werknemers wat regtig hulle bonusse verdien.

Wondermaarnet ·

Word seker opgeskort vir 24 uur en dan weer “back to normal”. Daar was seker nou ‘n bietjie maintenance gedoen en daar sal nou eers weer maintenance gedoen word sodra iets fout gaan. Hulle glo mos nie in daaglikse maintenance nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.