Beurtkrag: Fase 4 steek weer kop uit

Fase 4-beurtkrag is weer terug. (Foto: Christel Cornelissen)

Te midde van bewerings dat Eskom sy kragsentrales tot op breekpunt bedryf om beurtkragfases te beperk, het die kragvoorsiener Woensdag verhoogde beurtkrag aangekondig.

Fase 2 sal Woensdag om 16:00 inskop en Donderdag tot 05:00 duur.

Hierna sal fase 3-beurtkrag van 05:00 tot 16:00 geld, gevolg deur fase 4 tot Vrydag om 05:00.

Fase 3-beurtkrag geld Vrydag van 05:00 tot Saterdag om 05:00, waarna daar na fase 2 oorgeskakel sal word. Dit sal tot Sondag om 05:00 geld.

Daphne Mokwena, waarnemende woordvoerder van Eskom, sê onbeplande instandhoudingswerk het tot ʼn verlies van 15 089 MW gelei, terwyl nog 7 147 MW weens beplande instandhoudingswerk nie gebruik kan word nie.

“Oor die afgelope 24 uur is ʼn opwekkingseenheid by die Duvha-kragsentrale weer aanlyn gebring. Terselfdertyd is ʼn eenheid elk by Lethabo, Kendal en Kriel vir herstelwerk van lyn gehaal. Die vertragings om ʼn eenheid elk by Hendrina en Medupi en twee eenhede by Tutuka aanlyn te bring, het tot die kapasiteitsbeperkings bygedra,” sê Mokwena.

Vyf oopsiklus-gasturbines by die Ankerlig-kragsentrale is ook vanoggend uit diens gestel vir geskeduleerde opknappings aan die beheerstelsel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.