Beurtkrag: Groot én klein ondernemings steier

Dit kos klein sakeondernemings duisende rande om met kragopwekkers tydens beurtkrag hul ondernemings se deure oop te hou. (Foto: Christel Cornelissen)

Voortslepende beurtkrag wat nou selfs tot fase 6 verhoog word in ʼn poging om die land se ligte aan te hou, is besig om groot skade aan groot én klein sakeondernemings te berokken. Die United Assiociation of South Africa (UASA), een van Suid-Afrika se oudste vakbonde, sê talle klein sakeondernemings kan bloot net nie brandstofaangedrewe opwekkers as alternatiewe bron van krag bekostig nie.

Stanford Mazhindu, UASA-woordvoerder, sê die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, se “moedige” pogings sowat ʼn jaar gelede om die sukkelende kragvoorsiener te probeer regruk, het “klaaglik misluk”. Mazhindu sê dít kan duidelik gesien word in die ongekende inwerkingstelling van fase 6-beurtkrag – ʼn poging om die nasionale netwerk minstens aan die gang te hou terwyl talle van sy opwekkingseenhede probleme ondervind.

Wanneer fase 6-beurtkrag in werking gestel word, beteken dit tot soveel as 6 000 MW elektrisiteit kan uit die stelsel gehaal word om druk op die netwerk te verlig.

“Suid-Afrika is in diep moeilikheid. Ons weet daar is nie ʼn towerformule nie en ons soek ook nie een nie. Wat ons wil hê is ʼn opwekkingsmaatskappy wat verantwoordelik bestuur word en Suid-Afrikaners in staat stel om gehalte lewens te lei en hulle sakeondernemings te bestuur,” het Mazhindu gesê.

“Gaan stap tydens beurtkrag deur ʼn klein sakegebied en jy sal duidelik sien hoe erg die situasie is. Mense sit buite want hulle kan nie werk nie. Kombuise, wasserye, oogartse en veeartsklinieke se deure is gesluit. Hulle verloor geld.

“Mikro-ondernemings word die swaarste getref omdat baie van hulle nie opwekkers kan bekostig nie. Mikro- en mediumgrootte-sake-eienaars gaan binnekort nie meer werkers kan betaal nie en al hoe meer Suid-Afrikaners gaan aansluit by die massas werkloses,” het hy gesê.

ʼn Vulstasie-eienaar van Pretoria sê dit kos haar nagenoeg R160 per uur om ʼn dieselopwekker te bedryf. Dit is benewens die duisende rande wat dit aanvanklik gekos het om ʼn opwekker aan te koop.

Mazhindu het gesê Eskom het duidelik geen benul hoe om sy huidige probleme op te los nie. Hy vra ook wat geword het van die tegniese hersieningstaakspan, ondersteun deur onafhanklike ingenieurs, wat maande gelede aangestel is om probleme by die kragvoorsiener te help takel.

“Die gesamentlike koste van beurtkrag op die gemiddelde Suid-Afrikaner is verwoestend,” het Mazhindu gesê.

“Behalwe vir die miljarde rande wat daagliks weens beurtkrag verloor word, is daar ook ander gevolge vir die man op die straat – en dáároor word daar dikwels nie ʼn woord gerep nie.

Selfoonseine duik in die hek, daar is kommer oor veiligheid, werksure gaan verlore en pendelaars sit ure lank in die verkeer.

Die selfoondiensverskaffer Vodacom het vroeër al gewaarsku kliënte kan verbindingsprobleme ondervind weens die fase 4-beurtrkrag wat toe ingestel is. Vodacom het gesê sy torings gebruik batterye as rugsteunmaatreël, maar dat dié net ʼn beperkte hoeveelheid krag kan voorsien en dan eindelik ook pap word.

Vodacom het gesê hy het reeds opwekkers by verskeie persele in die land geïnstalleer en doen alles moontlik om kliënte op die lug te hou.

Die mynmaatskappy Petra Diamonds het intussen gesê hy is besig om sy bedrywighede af te skaal ná Eskom se versoek aan nywerhede om minder krag te gebruik. Dit geld sy Cullinan-, Finsch- en Koffiefonteinmyn.

“Produksie, hyswerk en verwerking is dadelik opgeskort en die maatskappy verwyder alle ondergrondse werkers, behalwe dié wat vir noodsaaklike dienste benodig word. Net ventilasiewerk en die uitpomp van water om oorstromings te voorkom word toegelaat, het Petra gesê.

Business Day berig dat Impala Platinum en Harmony Gold óók besluit het om nie werkers ondergronds te stuur nie. Ook dié myne is gevra om hul bedrywighede beduidend in te perk om krag te bespaar.

ʼn Tegniese fout by Medupi het verder tot die enorme tekort aan opwekkingsvermoë bygedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JV ·

Medupi se vervoerband het blykbaar nie gewerk nie. Wie gaan met onmiddelike effek afgedank word hierdie keer.

Trojaanse Donkie ·

Wat van die firmas wat hierdie vervoerband ontwerp en gebou het.
Begin daar. Vervoerbande breek nie self nie . Ek was 40 jr. in mynbou betrokke.

daniel ·

Eskom sal wel iemand kry om te beskuldig.
AFRIFORUM het n tyd gelede van die ingenieurs wat vir Eskom gewerk het bymekaar gekry om die probleme op te los, maar ek neem aan dat die bestuursraad nie belanggestel het nie.

Talie ·

O, mazhindu verwag Gordhan moet dit wat oor 25 jaar vernietig is in een jaar regruk. Word wakker meneer.

Martin ·

Die Stanford Mazhindu klink na ‘n slim kerel met baie kennis van wat in ESKOM aangaan.
Miskien moet hy vir ons die probleme oplos.
Ek wonder of hy weet hoe ‘n Kragstasie werk?

Platjie ·

Mazhindu het baie te sê. Moet ons nou glo hy Kan die situasie by eskom beredder? Tog swyg hy oor die ware toeloop van sake. As al wat n vrybuiter is, betaal vir die krag wat hulle gratis gebruik sal eskom prima steenkool kan bekostig. Maar hulle wil gratis krag aan voornemende en huidigr stemmers uitdeel en die res moet ten hemele betaal. Ek hoop die besighede sleep hulle hof toe. Dalk sal ruïnasie hulle slap rue styf genoeg maak dat hulle hulle geld by niebetalende munisipaliteite invorder en onwettige verbindings wortel en tak uitroei. As almal betaal sal daar genoeg wins wees om pryse te verlaag en steeds n wins te maak. Een kw, een verdomde prys vir almal, orals!

Elizabeth ·

@Platjie. Jy is reg: dit is tyd dat ons die regering en Eskom hof toe sleep vir verliese. Dis die enigste taal wat hulle ken. Ons bring ons kant, betaal belasting, betaal ons kragrekeninge, maar hulle bring nie hulle kant nie.

Piet pompies ·

Hahahahaha, hier word dit elke dag net lekkerder!!!!!! Help nie eers meer mens kla nie. Altyd iemand anders se skuld maar niemand kom iets oor nie.

Pim ·

In Sandton by ons kantore was die krag gister af van 8:00vm tot 2:00pm. Almal se laptops was al pap en die batterye van die UPS was pap. Hoe moet jy enigsins ‘n besigheid bedryf as daar nie krag is nie?

Winkels verloor Miljoene want die meeste klein besighede het nie generators nie. Dis belaglik.

Neels ·

So Eskom se nuwe CEO het die skok van sy lewe gekry en handhaaf steeds n lae profiel, tenspyte daavan dat hy so hoog aangeskaan was as die beste man vir die taal. Neeens het k nog enige komentaa van sy kant af gehoor nie

@Neels ·

Hy begin eers middel Januarie 2020. Dit sal moeilik en baie onwys wees om raad en opinies van die kantlyn af te gee…..hy is nog nie deel van die binnewerke van die spektakel wat Eskom heet nie.

Rene Dames ·

Civil rights: Break ESKOM monopoly on supply on power. – Sign the Petition! http://chng.it/prrNSqMB via @Change
Kom ons PROBEER ‘n verskil maak en teken aub petisie. Wie nie waag sal nie wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.