Beurtkrag hopelik dán iets van die verlede

Argieffoto

Eskom hoop om teen die vierde kwartaal van volgende jaar weg te doen met beurtkrag, hoewel hy nie die moontlikheid kan uitskakel dat beurtkrag vir nog drie jaar kan voortduur, soos kenners beraam nie.

Die kragvoorsiener moes Donderdag mooipraat nadat fase 2-beurtkrag die oggend weer in werking gestel is. Die risiko bestaan boonop dat beurtkrag vroegaand na fase 3 kan oorskakel, waarsku Eskom.

Sikonathi Mantshantsha, Eskom-woordvoerder, het Donderdag gedurende ’n onderhoud met eNCA gesê Eskom verwag dat beurtkrag teen September volgende jaar nie meer nodig sal wees nie. Mantshantsha was egter vinnig om te keer toe hy gedurende die onderhoud gevra is of dit dan beteken dat beurtkrag beslis nié vir nog jare sal duur nie.

“Soos jy weet, kan daar nie op masjiene staatgemaak word nie. Eskom is egter vol vertroue dat ons alles in ons vermoë sal doen om teen die vierde kwartaal van volgende jaar weg te doen met beurtkrag.”

Mantshantsha het verduidelik dat Eskom tans stelselmatig ontwerpsfoute by die Medupi-kragstasie in Limpopo en die Kusile-kragstasie in Mpumalanga regstel.

Volgens Mantshantsha sal die ontwerpsfoute by Medupi na verwagting teen November vanjaar uitgestryk wees, wat beteken dat dié kragstasie teen die einde van die jaar op volle kapasiteit sal werk.

(Argieffoto: ANA)

Kusile se ontwerpsfoute sal vanaf die eerste kwartaal van volgende jaar aandag geniet en die opknapping van dié kragstasie sal na verwagting teen September volgende jaar voltooi wees, het Mantshantsha verduidelik.

Beurtkrag is egter vir die voorsienbare toekoms nog met ons en die wesenlike risiko bestaan dat beurtkrag Donderdag vroegaand tussen 17:00 en 19:00 na fase 3 kan oorgaan, indien nog onderbrekings plaasvind, het Mantshantsha verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig fase 2 van beurtkrag is in dié stadium tot 22:00 Donderdag van krag.

Dit is weens vertraging met die indiensstelling van vyf opwekkingseenhede, asook vier eenhede wat onbeplande onderbrekings gisternag en vanoggend ondergaan het.

Volgens Eskom het die onbeplande onderbrekings 2 000 MW beloop. Die instel van beurtkrag sal Eskom help om aan die stygende vraag na krag te voldoen, terwyl daar gewerk word om die onbeplande onderbrekings te herstel.

Volgens die DA dui die hernude instel van beurtkrag op Eskom se onvermoë om in Suid-Afrikaners se behoefte aan bekostigbare en beskikbare elektrisiteit te voorsien.

Kevin Mileham, die DA se skaduminister oor minerale hulpbronne en energie, wil nou weet wat die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, doen om Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiening te beveilig. “Die antwoord is ongelukkig bitter min,” het hy Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Mantshantsha het Suid-Afrikaners vanoggend daarvan verseker dat Eskom dit nié geniet om beurtkrag in te stel nie. “Dit is die laaste uitweg om te verhoed dat die kragstelsel heeltemal ineenstort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jr ·

Yip en ek is die President van die VSA. Talk talk talk. Ek het gewoond aan Eish iiisss brouken gewoond geraak.
1) There will be no load shedding means there WILL BE LOADSHEDDING.
2 ) After September no more loadshedding means – There will be loadshedding after September. . Hulle doen net die teen oorgestelde van wat hulle sê. Dan het hulle die verneetelheid om krag prys op te sit. We don’t supply but you pay.

koos10 ·

Zuma het belowe, nooit weer beurtkrag nie. CR het belowe baie minder beurtkrag. Hulle was beide reg…….. as daar nie meer krag is nie, kan daar ook nie beurtkrag wees nie!!

Niklaas ·

Is Eskom voortaan permanent ‘n bodemlose put ? Beurtkrag beteken mos eintlik “betaal meer vir minder kraglewering”

Genis ·

Patete! Wat kan mens meer se. Ou Cyril, jy en jou stroop bende.. Julle is maar eindelik n verleentheid vir SA

Gemaskerde Sopbeen ·

Belowe, verander, verduidelik, ligte mistykie, stel vas, nat steenkool, ontken, stel uit, raai, belowe, verduidelik, per abuis, nat vadoek, verander strategie, belowe, verduidelik………………………..

Persheks Adri ·

Als leë beloftes en dan moet ons betaal vir die swak diens! Pateties verby om die minste te sê!

Snowball ·

Ag, ek wens ek kan vir Eskom sê wat hulle kan doen, maar dan jaag MM my weg.

Emil ·

Ontwerpersfoute wat herstel moet word..ag aarde. Is daar enige kans dat al die ontwerpersfoute in ons regering ooit herstel kan word?

johanf ·

“Soos jy weet, kan daar nie op masjiene staatgemaak word nie.”
Ek dink dit is net anders om, op masjiene kan, maar op mense kan nie staatgemaak word nie…… Ons moet reeds opdok vir julle onkundige fout, van biljoene by NERSA, ens….. Verhoogde tariewe moet ons betaal.
Jy praat bog Sikonathi Mantshantsha.

Adam Adriaan ·

Daar sal altyd meer beurt as krag wees solank die korrupte ANC aan bewind bly. Dit is wens denkery. Yl in die maanlig, soos oubaas se honne.

Frederik C ·

Daar kan wel op masjiene staatgemaak word. Daar kon egter nie staatgemaak word op die personeel, wat die masjiene die afgelope 26 jaar moes diens, nie.

Michael ·

Ag asb, voor julle klomp skelms in beheer was, het beurtkrag nie bestaan nie. Daar word nie op masjiene staatgemaak nie maar op mense wie die masjiene verstaan en in stand hou. Nou skuil jy agter die verskoning dat ons nie op masjiene kan staatmaak nie-julle is die probleem julle spul skelms,dink jy ons is almal verstandelik gestrem jou swaap!? Waars de Ruyter die verlosser van Eskom? Net so diep in julle opgekruip soos al die voor hom-net so useless

Pieter ·

Sal nou-nou sê wat ek wil sê, net eers gou my Unicorns en Flying Pigs gaan kos gee.

capie ·

Ha Ha Ha . Vertel nog ‘n grappie. Niks gaan verbeter met die 30% slaagsyfer tegnici en admin by eskom nie

LANA is ELANè ·

Grap van die jaar ~ Eskom is nou~al so “non chalant” oor beurtkrag, hulle waarsku nie eens meer die betalende publiek dat daar beurtkrag gaan wees nie, hulle pas dit net eensydig toe en basta met die hele land en sy ekonomie.
Dit was absolute chaos vanoggend met die dat geen mens ingelig of selfs voorbereid was dat dit nogsteeds deel van Eskom se werking is nie. Skande!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.