Beurtkrag inspireer bekroonde kunswerk

Kunsstudent Patrick Rulore se beurtkrag-skildery. (Foto: Verskaf)

Patrick Rulore, ’n 24-jarige kunsstudent aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT), het Woensdagaand in die Pretoriase Kunsmuseum as die algemene wenner van die 2019 Sasol Nuwe Handtekeninge-kunskompetisie met ’n kontantprys van R100 000 weggestap vir sy merkwaardige beurtkrag-skildery.

Beurtkrag het talle Suid-Afrikaners aan die begin van die jaar daagliks in die duister gelaat. Soos elke donker wolk ’n silwer randjie het, het Rulore sy kunstalent gebruik om die donker oomblikke van beurtkrag te benut.

Luidens ’n verklaring van TUT is Rulore se bekroonde olieverfskildery, Stage 4 Moments, ’n uitbeelding van sy familie se doen en late tydens fase 4-beurtkrag wat aan die begin van die jaar toegepas is. In die werk vang Rulore vas hoe beurtkrag sy familie in staat gestel het om weer te gesels, te lag en bordspeletjies nader te trek eerder as om deur elektroniese toestelle vasgevang te word.

“Deur die kunswerk probeer ek die kosbare oomblikke in die donker tydens beurtkrag verewig. Sodra die krag weer aankom, gaan die lewe maar net weer soos normaal aan,” sê Rulore in die verklaring.

24-jarige kunsstudent Patrick Rulore (Foto: Verskaf)

“Ek is geïnteresseerd in die kompleksiteit van die menslike liggaam en probeer dit op die skildersdoek vasvang. Ek probeer ook om die emosie en geesdrif van elke individu wat ek skilder, vas te vang. Om dit te bereik manipuleer en eksperimenteer ek met kleure, teksture, verf en kwastegnieke.”

Rulore kry as wenner van dié kunskompetisie ook die geleentheid om volgende jaar ’n solo-uitstalling in die Pretoriase Kunsmuseum aan te bied.

Prof. Runette Kruger, departementshoof van beeldende en toegepaste kunste aan TUT, se hart loop oor van trots oor Rulore se prestasie. “Dit was ’n baie trotse oomblik vir my toe Patrick sy prys ontvang het. Dit is ’n wonderlike mylpaal wat baie deure in sy loopbaan en toekoms gaan oopmaak. Hy is baie talentvol,” sê sy.

Kruger vertel dat sy Rulore se raad aan ander kunstenaars veral sal onthou. “Sy raad as wenner aan ander jong kunstenaars is om deurentyd te volhard. Ek stem volkome saam. Volharding saam met talent is onstuitbaar,” sê sy.

Rulore se kunswerk is te sien as deel van die uitstalling van werk wat gekeur is vir die Sasol Nuwe Handtekeninge-kompetisie. Die uitstalling duur tot 29 September.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ida kriel ·

Congratulations and hope the future bring you lots of inspiration for your art. Never stop believing in yourself Patrick.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.