Beurtkrag is terug

(Argieffoto)

Nadat Eskom Donderdagoggend gewaarsku het dat beurtkrag vanaand moontlik in werking gestel kan word, het dit nou ook gebeur.

Die sukkelende kragvoorsiener het laatmiddag gesê fase 2-beurtkrag word van 21:00 tot 06:00 Vrydag ingestel.

Die nutsmaatskappy sê druk op die stelsel en ʼn uitgeputte noodvoorraad het tot die besluit bygedra.

“Ons het die afgelope paar dae swaar gesteun op pompopgaarskemas en oopsiklus-gasturbines sodat ons aan die aanvraag kon voldoen. Ons moet dié voorraad oornag aanvul,” het Eskom gesê.

Die kans is boonop groot dat fase 2-beurtkrag Vrydag én die res van die naweek kan voortduur. Daar sal môreoggend ʼn beter aanduiding wees oor die moontlikheid van nog ʼn donker naweek.

Teen 13:30 vanmiddag het onbeplande instandhoudingswerk tot ʼn verlies van 12 683 MW gelei.

“Ons vra Suid-Afrikaners onvoorwaardelik om verskoning vir die negatiewe uitwerking wat dit moontlik op hulle kan hê.”

Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, het intussen gesê Eskom bevind hom in ʼn doodspiraal en kan nie gered word nie.

Hy sê die regering moet hom aan kragopwekking onttrek en dié funksie aan ander oorlaat.

“Die ANC-regering en Eskom is nie in staat om aan die land se energiebehoeftes te voldoen nie en daar is geen plan om dit te verander nie. Die DA glo vas dat Eskom se deurlopende gespartel tussen lig en duisternis nie kan voortduur nie.”

Cachalia sê Eskom skuld miljarde rande, blaas die geld wat in die vorm van hulppakkette aan hom gegee word en wys nou al jare lank dat hy nie in staat is om die enorme bedrag geld wat verbruikers hom skuld, in te vorder nie.

Hy sê infrastruktuur gee gereeld die gees, Eskom se opwekkingsmengsel is verouderd en het geen manier om skoner, goedkoper krag te voorsien nie. “Dit is tekens van ʼn instelling wat nie gered kan word nie.”

Cachalia sê Eskom eis intussen nóg prysstygings, nóg miljarde rande se reddingsboeie en kondig dan aan dat hy beurtkrag in werking gaan stel.

Hy sê dit is tyd vir alternatiewe planne en die ontbondeling van Eskom, sodat daar dadelik ruimte geskep kan word vir onafhanklike kragverskaffers. Cachalia sê privatisering moet ondersoek word sodat Suid-Afrikaners self besluite oor kragopwekking kan maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

KAIROS ·

So behou die staat Monopoly en die land lei daaronder. Hoekom nie die ekonomie stimileer en dit kragopwekking privatiseer nie?

Raakvatter ·

Want Kairos, dan verloor die staat die inkomste. As privaat kragvoorsieners goedkoper en betroubare krag gee, dan sal 99% van alle burgers eerder dit gebruik. Eskom sal dan net voorsien aan diegene wat in ieder geval niks betaal nie en daarvoor kort hulle die betalende mense se geld.

Hugh ·

They must be softening us up to accept 16% proposed tariff hike.

RyanSA ·

Gehoop dit sal darem net kan stil wees tot na Moody’s gradering.

Snowball ·

Ek wonder of die ANC hulleself op die skouer klop as hulle so saamkoek vir partytjies en verjaarsdae? Wat sê hulle vir mekaar oor die toestand van SA en die absolute slagveld van gemors wat hulle in 25 jaar geskep het?
Wat ‘n klaaglike korrupte spul?

Jannie van Niekerk ·

Ons is baie gelukkig in Suid Afrika. Alle gaan op. Brandstofpryse, kospryse, werkloosheid, moord en doodslag, maar daar is darem iets wat GEREELD afgaan: ESKOM se krag.

Gypsygirl ·

Money money money, ain’t it funny in a rich man’s world

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.