Fase ses ‘en meer’ dalk ons voorland – Eskom

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Janosch Diggelmann/Unsplash)

Dit is van sleutelbelang dat Eskom se diesel-en-damvlakke nie uitgeput word nie, aangesien dit sal beteken dat beurtkrag na fase ses of hoër verhoog kan word.

Om te verhoed dat dit gebeur en sodoende duur gebruik van die kragvoorsiener se oopsiklus-gasturbines te beperk, is beurtkrag dus vanoggend (Woensdag) tot fase 4 verhoog.

“Dit is kritiek belangrik om ons noodhulpbronne te balanseer,” sê Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof.

Fase 4-beurtkrag sal in dié stadium tot Vrydag 05:00 geld, waarna dit weer na fase 2-beurtkrag sal terugkeer. Dié fase sal dan tot vroeg Maandag geld.

“Ons glo dat ons dan uit hierdie verskriklik moeilike situasie sal wees waarin ons onsself nou bevind.”

Oberholzer sê Eskom doen tans alles in sy vermoë om te verhoed dat beurtkrag tot verdere vlakke styg.

Altesame 20 oopsiklus-gasturbines moes Dinsdagaand in ’n stadium weer hardloop net om die kragnetwerk deur die aand se piek-aanvraag te trek. Dít tesame met die fase 2-beurtkrag wat in daardie stadium nog gegeld het.

Die hardloop van só ’n gasturbine kos sowat R700 000 per eenheid per uur, aangesien dit 14 liter diesel per sekonde gebruik.

(Argieffoto: Christel Cornelissen)

Oberholzer gee toe dat dit nie ’n volhoubare oplossing is nie, hoewel die omstandighede dit tans noodsaak. Eskom bevind hom in die benarde situasie nadat verskeie kragopwekkingseenhede sedert Maandag onverwags die gees gegee het.

Onbeplande onderbrekings het vanoggend teen 09:20 op 13 334 MW gestaan, terwyl beplande instandhouding op 5 505 MW gestaan het. Dit kom neer op byna 21 000 MW krag wat nie tans beskikbaar is nie.

Vier eenhede, waaronder een by die Kendall-, Duvha-, Camden- en Kusile-kragsentrale – het boonop gisteraand uitgeskop, wat 2 100 MW kapasiteit uit die kragstelsel gehaal het. Dít het die voortgesette werking van die oopsiklus-gasturbines tot laatnag genoodsaak.

Dié gasturbines is teen 00:30 afgeskakel, maar moes teen 03:20 weer aangeskakel word om die kragnetwerk te ondersteun.

Oberholzer sê nog sewe opwekkingseenhede sal teen die naweek weer in diens gestel word, hoewel 16 eenhede tans die risiko loop om te breek. Drie word as hoë risiko bestempel.

Waar is De Ruyter?

Oberholzer het vanoggend tydens ’n aanlyn inligtingsessie op ’n vraag van ’n verslaggewer oor waar André de Ruyter hom tydens die krisistydperk bevind, gesê die uitvoerende hoof van Eskom is tans in Washington in die VSA. De Ruyter voer daar samesprekings met belanghebbendes, waaronder die Wêreldbank, oor die moontlike wegbeweeg van steenkoolkrag.

Oberholzer het egter verslaggewers daarvan verseker dat die res van Eskom se bestuur in staat is om die huidige krisis waarin die kragvoorsiener hom bevind, te hanteer.

Dit is die 15de jaar dat Eskom genoodsaak word om beurtkrag in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

63 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Koop charcoal, kerse en steaks !!

Wondermaarnet

Bla-bla-bla eskom. Julle wil nie van onbevoegde werknemers ontslae raak nie en nou moet almal wat wettig krag betaal daaronder ly.

Jaco

Waarom duur ingevoerde diesel en gas gebruik, as SA wel goedkoop steenkool het? Iets maak nie sin nie. Maar as ek kommentaar lewer dat André de Ruyter en Jan Oberholzer eintlik geen sê oor eskom het nie en “net vir die show” in daai hoë posisies sit, dan word ek links en regs gekruisig.

krodedil

Nogal n GROOT toeval dat Suid Afrika mega loadshedding het en De Ruyter wat geld soek by die wereldbank op presies dieselfde tyd. Dit laat mens wonder. Dit wil voorkom asof loadshedding vooraf beplan is.

Arno

Julle kan maar net sowel al die krag afsit, die kragstasies sluit en almal huistoe stuur, julle kan nie eers behoorlik by julle beurt krag tye hou nie. Die een wat die knoppie moet druk om die krag aan en af te sit en slaap op die job, dit kan nie eers behoorlik bestuur word nie. Eskom het nou al soveel nuwe bestuur gehad en niemand kan die werk doen nie maar verhood ons tariewe byna elke maand, so hoekom meer betaal vir iets wat ons nie kry nie. Net soos ander lande wat nou in oorlog sit sal ons… Lees meer »