Beurtkrag kan Woensdagoggend voortgaan

Argieffoto: GCIS

Eskom het gewaarsku dat kragonderbrekings Woensdagoggend kan voortduur nadat die kragvoorsiener Dinsdagaand fase 1-beurtkrag toegepas het.

Khulu Pasiwe, woordvoerder van Eskom, het gesê beurtkrag is Dinsdag van 17:00 tot 20:00 toegepas. “Beurtkrag is om 20:00 afgelas nadat eenheid 5 by die Medupi-kragstasie weer in diens gekom het.”

Pasiwe het egter gesê die kragnetwerk sal na verwagting Woensdagoggend tydens spitstyd onder druk wees. “Dit sal die geval wees tensy etlike eenhede deur die dag weer in diens gekom het. Eskom sal voortgaan om die kragnetwerk te monitor.”

Arbeidsprotesoptrede by die kragvoorsiener se kragstasies het die ontwrigting veroorsaak. Volgens Pasiwe het die onwettige arbeidsprotesoptrede Eskom se bedrywighede erg beïnvloed. “Min personeellede en gevalle van intimidasie het reuse-agterstande tot gevolg gehad.”

Die vakbond Solidariteit het vroeër versoek dat Eskom en die SAPD sterk teen kriminele elemente wat Eskom saboteer, moet optree.

“Daar is elemente wat infrastruktuur beskadig en die land se elektrisiteitstabiliteit onder die dekmantel van loononderhandelings bedreig. Solidariteit-lede wat Suid-Afrika se ligte wil aanhou, word geïntimideer en selfs met ernstige geweld gedreig,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.

Dr. Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Volgens Hermann is dié wat saboteer en met geweld dreig ʼn klein groepie, maar ongelukkig kan ʼn klein groepie anargiste groot ontwrigting veroorsaak. “Daar moet ʼn onderskeid getref word tussen kollektiewe bedinging en kriminaliteit. Die eerste is ʼn legitieme proses van magspel en die ander is krimineel en verdien vervolging,” het Hermann gesê.

“Eskom, vakbonde, die SAPD en Suid-Afrika in geheel moet geen geduld met kriminele elemente hê nie,” aldus Hermann. Solidariteit verteenwoordig sowat 7 000 werknemers in Eskom.

Eskom het reeds die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se dienste aangevra om die dispuut tussen die kragvoorsiener en die vakbonde te help oplos. “Ons hoop dat al die betrokke partye Suid-Afrika eerste sal stel in die poging om ʼn vriendskaplike oplossing te vind.”

Pasiwe het gesê die polisie se hulp is ingeroep om orde by Eskom se kragstasies te handhaaf aangesien die stasies nasionale sleutelpunte is.

Eskom-kliënte kan die kragvoorsiener se webtuiste besoek vir die beurtkragskedules terwyl munisipale verbruikers hul onderskeie munisipaliteite se webwerwe kan besoek vir die skedules.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

ESKOM… Eskom…. eskom… es… e e … kom mense ons gaan…

Colleen ·

Retrench 50% van Eskom personeel wat net rondhang en nie werk nie of sit en slaap terwyl hulle ‘n astronomiese salaris verdien en al die lekker voordele wat daarmee saamgaan en privatiseer Eskom dan.

JSO ·

@Colleen – “retrenchment” kos geld, baie geld, wat ESKOM nie het nie. Dit sal die beter ekonomiese (goedkoper) besluit wees om aan die werkers se loonvereistes toe te gee as om 50% van die werkerskorps te “retrench”.

Celtis Africana ·

” Daar is elemente wat wat infrastruktuur beskadig en die land se elektrisiteitstabiliteit onder die dekmantel van loononderhandelinge bedreig.”
” … die wat saboteer en met geweld dreig n klein groepie…”
Werklik?
Klein groepies word maklik beheer en gepolisieer.
Ons kom al jare met geweldadige loononderhandelings. Meeste protesaksies die afgelope tyd word gekenmerk deur geweld, beskadig in van infrastruktuur, vandalisme, brandstigting, diefstal en intimidasie.
Dit is nie moeilik om die situasie te antisipeer hoe nader ons gaan beweeg aan grondonteiening sonder vergoeding nie.

Vlam ·

Ek verstaan as ons krag moet bestuur, maar rerig Eskom en die plaaslike munisipaliteite!
Kan julle nie asseblief die areas ( plotte en plase ) buitekant die dorpe wat kort kort in die nuus is oor gewapende roof of moord in die dag en nie in die nag afsit nie. Dis soveel meer gevaarliker vir ons mense daarop, geen probleem sit my krag enige tyd af in die oggend of in die middag maar in die aande ag nee, nie almal kan kragopwikkers bekostig nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.