Beurtkrag knou vleispryse in alle rigtings

Argieffoto (Foto: Pixabay/Anja van der Merwe)

Terwyl vleispryse op winkelrakke drasties styg, is die speenkalwerpryse wat boere ontvang op ʼn vyfjaar-laagtepunt.

Die groot rede hiervoor is eksterne faktore soos beurtkrag wat die vleisbedryf se prysmeganisme verwring, sê dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL).

Speenkalwerpryse is in hierdie stadium 20% laer as dieselfde tyd ʼn jaar gelede.

“Die implikasie van die huidige markomgewing is dat boere vleis produseer teen ʼn 2023-kostebasis, maar ten beste ʼn inkomste gelykstaande aan 2018-pryse ontvang. Die feit dat die vraag en aanbod na vleisprodukte stabiel is, dui daarop dat eksterne faktore die vleisbedryf se prysmeganisme verwring.

“Een van hierdie faktore is beurtkrag,” sê Armour.

Francois Wilken, president van VL, sê die uitwerking van beurtkrag veroorsaak bykomende koste vir die verbruiker, verskaffers en produsente van vleisprodukte.

Argieffoto (Foto: Annie Spratt/Unsplash)

“Intussen is boere genoodsaak om duur kragopwekkingsoplossings aan te skaf wat lopende uitgawes verhoog en kapitaal vereis. Verskaffers is op hul beurt gedwing om laer pryse vir speenkalwers te betaal ten einde die koste vir rugsteun-dieselaangedrewe masjinerie te beperk,” sê Wilken.

Hy meen verbruikers wat reeds aan inflasiedruk uitgelewer is, koop nou in kleiner hoeveelhede aangesien vleis dikwels nie gevries kan word nie.

“Dít en verlaagde besteding plaas weer bykomende bestuurskoste op slagpale, slaghuise en winkels.”

Boy Saaiman, VL-streekverteenwoordiger in die Kroonstad- en Steynsrus-omgewing, sê die daling in vleispryse bedreig die volhoubaarheid van baie boerderye.

“Indien die elektrisiteitsverskaffing-probleme voortydig gepak is, sou die vleisbedryf nie in hierdie situasie gewees het nie. Beurtkrag plaas ʼn onnodige kostelas op die ganse vleisproduksie-waardeketting.

“Die gevolg is dat dit vir die boer té duur raak om vleis plaaslik te verskaf en dan gaan dit vir die verbruiker te duur word om vleis te koop,” waarsku Saaiman.

VL doen daarom ʼn dringende beroep op die bedryf asook die regering om die uitvoermark te open sodat meer vleis uitgevoer kan word en produsente minstens kan baat by die swakker rand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

domheks ·

cANCer is heel tevrede dat die boere moet swaar trek. Dit is hulle doelwit om alle boere bankrot te verklaar.

JvR ·

Ek kyk so na vleis pryse, dan kyk ek by venster uit en sien vet gevrete duiwe. Wat n gesogte gereg is in Europa en Amerika. En ek dink. Julle kan bly wees ek is nie sterk op vleis nie. Maar een van die dae

Pampoen ·

Die middelman is dankbaar dat hy nog ‘n verskoningkie het vir sy buitensporige winste.

JvR ·

Die middelman beskou dit nie as net n “verskoninkie” nie. Meeste pryse het die afgelope jaar feitlik verdubbel.

Nommer 7 ·

Pampoen, hy gaan veel meer betaal as jy direk van die boer koop. Karoo dorpe het almal slaghuise wat aan skaapboere behoort, Geen dubbelman. Pryse dan duurder as PnP in die stad.

Amelia ·

kan boere nie dalk adverteer vir geslagte vleis nie en publiek koop dan direk van boer selfe met groente en vrugte

Samuel ·

Dit kan dalk die antwoord wees, maar sou dit die cANCer se goedkeuring wegdra?

Roek ·

Hul doen dit op sommige mark dae maar is dit duurder by die mark as by die kleinhandel !!!

Nommer 7 ·

Daar is baie boere wat dit so doen, maar pryse is nie goedkoper nie.

Alida ·

Ons koop reeds elke tweede maand op grootmaat vleis (halwe lam, steak en maalvleis) direk by ‘n boer van die Vrystaat wat in Gauteng aflewer, en dit is effens goedkoper as in ‘n slaghuis of supermark (so R15 tot R20 per kg goedkoper), maar die vleis is puik gehalte. Ek vind in ‘n slaghuis of supermark is die gehalte nie altyd konsekwent nie.

Papsak ·

Nee ons sien niks meer laag op winkelrakke nie die anc operate mos so maar hulle lewe lekker nee is siek regtig

Nommer 7 ·

Maklik. Skaf invoerbelasting op kos af, dan betaal ons baie baie minder vir vleis vanaf Argentinia

Piet parys ·

Jy weet nie waarvan jy praat nie . As hulle die mark doodgedruk het sal jy die ware pryse sien opskiet want dan het hulle die beheer en vra wat hulle wil. Miskien moet hulle werkers daarvandaan inbring want hulle kan mos minder betaal word as plaaslike werkers en jou vervang wat hoogs betaald is . Probleem opgelos of nie ??

Manie ·

Gegewe die inligting oor 20% laer beesvleis pryse, skep die middelman mildelik. Ons kon rump of sirloin nog so ‘n jaar en ‘n half gelede teen R 100.00 per kg koop, terwyl dit nou op R180.00 + staan. Dieselfde met beesbiltong wat in dieselfde tydperk van R200.00 per kg na R350.00 per kg gestyg het. Skaap, vis en hoender het amper dieselfde pad gestap. Ek weier om R180.00 per kg vir vis te betaal.

Willem ·

Man Ek koop sommer nou by enige voer wat teen teen die produsente prys + 20% defied is om te lewer aan mu

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.