Beurtkrag kos Wes-Kaap R150 miljoen per dag

Argieffoto

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het Woensdag gesê fase 2-beurtkrag kos die provinsie se ekonomie ongeveer R150 miljoen per dag.

“Die feit is dat die beurtkrag, wat vandag deur Eskom aangekondig is, die ekonomie in die Wes-Kaap sal knou. Die impak van beurtkrag word tans bereken op ongeveer R75 miljoen per fase per dag, vir die Wes-Kaap,” het Maynier in ʼn verklaring gesê.

Die kragvoorsiener het Woensdag onverwags aangekondig dat fase 2-beurtkrag van 09:00 – 23:00 ingestel word weens ʼn gebrek aan kapasiteit.

Maynier het gesê die Wes-Kaapse regering het stappe gedoen om die impak van beurtkrag te verlig op die provinsiale ekonomie en energieweerstandigheid op te bou. Die koste bly egter hoog, veral wat die vervaardigingsbedryf betref.

“Ons kan ook nie die impak van beurtkrag op, byvoorbeeld, huishoudings, klein ondernemings en landbou ignoreer nie, wat nou gedwing word om te belê in alternatiewe kragbronne om weerstand op te bou teen kragonderbrekings.”

Maynier het gesê daar is ook ʼn groot “onberekende koste” weens die impak op beleggersvertroue.

“Die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme het, sedert beurtkrag weer laat in 2018 ingestel is, saam met Eskom, Stad Kaapstad, Wesgro en GreenCape gewerk en met ondernemings kontak gemaak wat betref die risiko van beurtkrag en moontlike verligtingsmaatreëls. Die Wes-Kaap baan die weg wat betref die instelling van Solar PV,” het hy bygevoeg.

Altesaam 23 van die 25 munisipaliteite in die provinsie laat Solar PV toe om aan die elektrisiteitsnetwerk te verbind en nasionaal goedgekeurde tariewe is ingestel. Gebruikers word dus vergoed vir hul surpluskrag wat aan die munisipale elektrisiteitsnetwerk verskaf word.

“Ons sien ook uit na ʼn positiewe uitslag in die voortslepende hofsaak tussen Stad Kaapstad en die departement van energie om die stad toe te laat om krag direk by onafhanklike kragvoorsieners aan te koop. Ek bly verbind tot volgehoue gesprekke met ondernemings om energieweerstandigheid in die provinsie te verseker sodat ons ‘oop kan bly vir sake’ en saam die ekonomie kan groei en werk kan skep in die Wes-Kaap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gam ·

Kan julle dink hoeveel kos dit die produktiewe provinsies per dag

aj ·

Die WesKaap kan die droë Karooplase nuwe lewe gee deur hulle te finansier om son- en windkrag produseerders te word … waarvan die inkomste bestand is teen DROOGTE!

Dewald ·

Man ja, as ek n plaas gehad het, sal ek verkies om nie krag aan enige regering te verskaf nie. Vroeër of later gaan hulle aan jou voorskryf. Dis hoe regerings is. ALLE regerings wêreldwyd. Dan maar eerder my kans vat met moeder natuur.

aj ·

Klim af van die Eksdom netwerk van die ANC!

Nuwe tegnologie en vindingryke mense gaan ons bevry van die onderdrukkende monopolie van EKSDOM (ANC).

Die toekoms wink aanloklik vir nuwe entrepereneurs wat hulle toespits op volhoubare kragopwekking!

Die EKSDOM (ANC) plan het klaaglik misluk … net ‘n kwessie van tyd voor dit inplof!

Ekke ·

Dank sy die ANC en BEE. Kan hulle nie verstaan dat hulle nie kan nie? Ongelooflijk! Alles gaan tot niet.

Drie Volt ·

More sluit nog besighede, dan is daar nog meer werkloses en al minder wat elektrisiteit kan bekostig! Slim ESKOM, slim.

Spook op thaba ·

Eskom manipuleer die land sodat kragverbruikers meer betaal

Leon ·

Wat min mense weet en besef is dat gebiede en voorstede waar ANC grootkoppe bly MAG NIE beurtkrag kry nie. So die vetgevrete ANC grootkoppe weet nie wat beurtkrag is nie. So hoekom sal hulle iets daaraan wil doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.