Beurtkrag: ‘Onkunde of leuens, gevolge bly dieselfde’

(Foto: Twitter)

“Waar sal Suid-Afrika se hulp vandaan kom? Nié van Eskom of die minister van elektrisiteit nie.”

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en woordvoerder oor basiese en hoër onderwys, sê die mees verdoemende oordeel oor elektrisiteit in Suid-Afrika is die onvoorspelbaarheid van beurtkrag.

“Eskom het Maandag die ‘goeie nuus’ – dat beurtkrag tot fase 4 verlaag kan word – bekend gemaak, net om Dinsdagmiddag weer fase 6 vir die res van die week gedurende die nag in werking te stel.

“Hierdie onderbrekings saai vernietiging in die land se ekonomie en ook in mense se lewens.”

Boshoff meen, hoewel die meeste huishoudings en ondernemings hulself nou al by twee ure (op ʼn slag) se kragonderbrekings aangepas het, is vier ure net te lank.

“Batterye en ander vorms van kragopberging hou eenvoudig nie so lank nie.”

Eskom voer aan dat die rede vir die hoër beurtkragfases onvoorsiene onklaarrakings is. Toe fase 6-beurtkrag oor die naweek aangekondig is, was dit egter kort nadat ʼn eenheid by die Koeberg-kragsentrale weer in werking gestel is.

“Dit is toe as ʼn deurbraak bestempel, maar oor die naweek was daar nog eenhede by ander kragsentrales wat onklaar geraak het, terwyl dit nodig was om ‘noodreserwes’ aan te vul.

“Al wat dit beteken, is dat Eskom se dieselkragsentrales eenvoudig nie genoeg brandstof kon opberg om aan die gang te bly nie. Hierdie oopsiklus-gasturbines is veronderstel om net tydens noodgevalle aangeskakel te word. Nou is dit ʼn noodgeval as dit nie aangeskakel kan word nie,” sê Boshoff.

In hierdie stadium geld wisselende fase 5- en fase 6-beurtkrag en dit sal na verwagting tot minstens Saterdagoggend voortduur.

Boshoff sê die hittegolf oor groot dele van die streek dra waarskynlik tot die onvoorspelbaarheid van kragvoorsiening by.

“Dit is nie net opwekkingseenhede wat minder doeltreffend is onder hoë temperature nie, dit is ook die gebruik van koelkamers, yskaste en wateraanlegte wat die hoogte inskiet.

“Hoewel dit minder aandag trek, is daar al hoe meer munisipaliteite wat dit moeilik vind om opgaardamme vol te hou. In Kimberley (Sol Plaatje-munisipaliteit) en Hartswater (Phokwane-munisipaliteit) is daar woonbuurte wat reeds weke sonder lopende water moet regkom.

“Die stelsels is eenvoudig nie ontwerp om tot ses ure per dag stil te staan nie.”

Boshoff sê die vraag ontstaan of Eskom elke keer werklik so verbaas kan wees as hy beurtkragfases moet verhoog.

“Dieselreserwes, verhoogde aanvraag en die toestand van oorwerkte opwekkingseenhede is immers nie ʼn geheim nie.

“Of Eskom leuens vertel of regtig net nie weet nie, die gevolge bly dieselfde…

“Daarom is die langtermynoplossing om Eskom as bystand te beskou; elkeen wat dit kan bekostig, moet onafhanklik van Eskom raak en bly wees as daar krag in die netwerk is.”

Die DA het vroeër ook gesê hy het ʼn petisie aan die Eskom-stelseloperateur gerig oor wat skynbaar ʼn “groeiende neiging deur Eskom is om misleidende beurtkragkennisgewings uit te reik”. Die party het gesê dit is nie die eerste keer dat gerugte die ronde doen dat beurtkrag op veel hoër fases ingestel word as wat amptelik aangekondig word nie en dat die vraag gevra moet word of Suid-Afrikaners mislei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Marius ·

Ek is net baie bly ek skryf nie eksamen nie, en die regering moet weet dat die getal matrieks wat gaan slaag aansienlik gaan laer wees agv die hool se krag wat glad nie daar is op die stadium nie.
Siestog en kom ek raai , Jan van Riebeeck kry seker weer die skuld.

Jan Jacobs ·

Die beurtkrag foefie is geskep om die ekonomie te vernietig veral die klein Handel.

Suzette ·

Dit is beide – onkunde en leuens. Soos met al die ander staatsbeheerde entiteite in die land- en almal gaan in die drein af.

Heinrich ·

“Of Eskom leuens vertel of regtig net nie weet nie, die gevolge bly dieselfde…”
Ek dink hulle vertel leunens omdat hulle nie weet nie!

domheks ·

en intussen trek die mini-ster van elektrisiteit ‘n lekker VET SALARIS!

Manie ·

Nee wat Koen, Eskom se geplunder en geploeter het al etlike jare voor de Ruyter begin.

Tokkel ·

As dit te koud is het ons nie krag…. as dit reen is die kole te nat……..as daar ‘n hittegolf is, is dit te warm. Diesel is op……skeenkool word gesaboteer ……..wat is die volgende….
“FIRE” julself, ons kan planne maak in SA….. ANC julle behoort julle te skaam. Toe julle oorgevat het, het als gewerk in SA!!! Nou werk NIKS!

electricmango ·

Was dit dan nie de Ruyter wat die shedding ingestel het nie? ALMAL het dan gese die man is te wit dis hoekom ons nie krag het nie. Toe reken hulle deur n minister aan te stel sal die shedding net eenvoudig weg gaan, maar ongelukkig het dit nie gewerk nie en nou is Andretjie weer die sonnebok. Niemand is so blind soos hy wat nie WIL sien nie.

Casper ·

Beurtkrag kom al van voor de Ruiter se tyd.Gierigheid en ‘n president wat kaders beskerm,sabotasie,korrupsie,diefstal van steenkool,geen denke en regstellende aksie wat vaardighede by eskom het ons land duur te staan gekom.

Highlander ·

Shedding het voorDR begin. Maar hy het blerrie goeie job gedoen om dit te vervolmaak. En beurkrag gaan oor ver meer as onderbrekings. Dit is wat mense nie besef.

Martie ·

Ons moet ons president bedank, hy was die man agter die stuur van kader ontplooiing. Daar het alles begin, en natuurlik ‘n mens kan darem nou ook nie verwag om van 26 miljoen mense na 62 miljoen te eskaleer en geen noemenswaardige bykomende infrastruktuur vir bykomende elektriese tyd te verkry nie. So ja, die krag is te min vir die mense net soos die water en bykans alles.

Highlander ·

Solank as wat die leuens oor onderhoud geglo word, kom die wat die besluite maak, weg met moord. Letterlik. En julle gee cANCer te veel krediet. Hierdie situasie is op baie hoeër vlak beplan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.