Beurtkrag Saterdagaand ingestel

Beurtkrag sal Saterdag om 21:00 in werking gestel word. (Foto: Medupi Powerstation Project, Facebook)

Eskom het kort gelede aangekondig dat fase 2-beurtkrag Saterdag van 21:00 ingestel sal word.

Volgens die kragvoorsiener sal dit minstens tot Maandag om 05:00 duur.

Eskom waarsku boonop as die kragsituasie enigsins verder versleg, hy moontlik gedwing sal word om beurtkrag selfs vroeër te implementeer.

Die beurtkrag word toegeskryf aan ʼn stukkende eenheid elk by Kusile, Medupi en Arnot, asook ʼn vertraging om ʼn eenheid by die Tutuka-kragsentrale weer aanlyn te bring.

Stukkende vervoerbande by Medupi het boonop tot verminderde kapasiteit by die kragsentrale gelei. Dit is sedertdien herstel, maar dit gaan geruime tyd duur voor bedrywighede weer ten volle operasioneel is.

Die as-aanleg by die Kendal-kragsentrale moes weens ʼn elektriese fout heeltemal afgeskakel word, wat beteken die kragsentrale se lewering moes tot die minimum beperk word. Die aanleg is sedertdien weer in diens gestel en vordering word gemaak om die asherwinningsagterstande uit te wis.

Die beperking, tesame met ʼn groter vraag na krag vandag en gister, het beteken Eskom moes swaar steun op sy noodopwekkingsreserwes wat nou weer vir die komende week opgebou moet word.

In hierdie stadium het onbeplande instandhoudingswerk tot ʼn verlies van 14 727 MW gelei, terwyl beplande instandhoudingswerk 6 711 MW se kapasiteit uit die stelsel gehaal het.

Eskom het ʼn hernieude beroep op Suid-Afrikaners gedoen om krag spaarsaam te gebruik en het onderneem om mense op die hoogte te hou van enige noemenswaardige veranderings in die situasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Riaan

En soos klokslag word Medupi weer genoem. Gaan kyk gerus in die argiewe. In 99% van die gevalle word Medupi genoem as een van die plekke waar daar (alweer) ‘n probleem is.

Mag ons asb vra dat iemand dit vir ons verduidelik, asook hoe dit moontlik is vir die bestuur van die aanleg, om nie aanspreeklik gehou te word nie.

Lourens CFG

Maar hulle wil weer meer vra vir die niekrag wat ons kry.

Aries

Eskom pure “tweegesig- aan die eenkant SMEEK hulle ons om krag tog spaarsamig te gebruik maar aan die anderkant wil hulle ons LOOI met buitensporige kragverhogings

Gert

Ag nee dit ook nog.Mokpane het meeste van die tyd nie krag nie an dan nou nog load shedding ook !! Dankie Eskom
Is daar dan geen meer mense met kennis oor in ons land nie ?

Moeggeploeg

Ons beweeg terug na kerse en lampe. ANC het eenvoudig nie die kennis om land te regeer nie. Is die “verdruktes” enigsins beter af as voor die ANC oorgeneem het. Werkloosheid, diefstal, moord en armoede skiet die hoogtes is. Die dag as daar niks oor is nie staan hulle weer bakhand en bedel vir hulp. Wat het geword van Nelson Mandela kinderfonds? . Derduisende kinders sonder heenkome. Wat word van lotto inkomste? Alles word deur regering vermors. Spoorweë, lugdiens en openbare vervoer is tot niet. Kyk hoe lyk ons paaie. Grondpaaie is nou al ‘n luukse. En so gaan dit… Lees meer »