Beurtkrag: Só staan sake

Pravin Gordhan. Foto: ANA

Die huidige elektrisiteitsprobleme en voortdurende toepassing van beurtkrag in Suid-Afrika is grootliks as gevolg van ʼn gebrek aan instandhouding by die kragvoorsiener se verouderende infrastruktuur, is Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg gesê.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Jabu Mabuza, voorsitter van die Eskom-raad, het die media toegespreek oor die huidige situasie met elektrisiteitsvoorsiening aan die land.

Eskom pas al sedert die naweek fase 4-beurtkrag toe terwyl sy kragstasies – baie van hulle ouer as 35 jaar – sukkel om genoeg krag op te wek om aan die vraag na elektrisiteit te voorsien. Dié situasie is alles behalwe ideaal vir die land se reeds sukkelende ekonomie.

Gordhan het vanoggend erken dit gaan ʼn enorme stryd wees om die kragkrisis te oorkom.

“Ons verstaan die frustrasie. Ons het nie ʼn towerformule nie,” het hy gesê. Volgens Gordhan het Eskom 48 000 MW geïnstalleerde kapasiteit, maar is daar tans slegs 28 000 MW beskikbaar.

Gordhan en Mabuza het toegegee die staatsinstelling het oor die afgelope vyf jaar nie genoeg geld bestee om sy toerusting in stand te hou nie, terwyl nuwe kragstasies soos Medupi en Kusile nie soomloos by die kragnetwerk bygevoeg kon word nie.

“Daar is nie geld op instandhouding bestee nie. Die vraag moet wees, waarop is daardie geld bestee,” het Mabuza gesê. “Die realiteit is dat ons nou ʼn kragstasie het wat [van die kragnetwerk] afval omdat daar geen instandhouding gedoen is nie.”

Mabuza en Gordhan het ook albei erken dat Eskom nie openlik genoeg oor sy probleme met die publiek was nie. Gordhan het onderneem om binne ongeveer twee weke weer inligting deur te gee oor hoe die huidige probleme getakel word.

Eskom het vroeër vanoggend in ʼn verklaring gesê fase 4-beurtkrag duur vandag voort om te verhoed dat die hele kragnetwerk ineenstort. Na verwagting sal die situasie nie voor Donderdag verbeter nie. “Eskom se instandhoudingspanne werk onverpoosd om opwekkingseenhede terug op die kragstelsel te kry,” het die kragvoorsiener gesê.

Eskom voorsien 95% van Suid-Afrika se elektrisiteit, maar die instansie het in die afgelope jare gesukkel om in die vraag te voorsien. Verskeie senior beamptes is ook die trekpas gegee weens korrupsie by die kragvoorsiener.

Jabulani Mabuza, raadsvoorsitter van Eskom (Foto: Nhlanhla Phillips/African News Agency/ANA)

“Daar is nog steeds heelwat aanspreeklikheid wat geneem moet word,” het Gordhan vandag gesê. “Die vorige uitvoerende hoof en sy destydse kollegas het baie vrae om aan Suid-Afrika te beantwoord.”

Die minister het gesê die huidige kragkrisis word nog verder vererger deur ʼn gebrek aan voorsiening van die Cahora Bassa-hidroëlektriese skema weens skade wat deur sikloon Idai aangerig is.

Intussen het die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid gesê die jongste ronde van “uiterste beurtkrag” laat ondernemings en munisipaliteite met geen ander keuse as om te kyk na ander kragvoorsieners nie.

“Ondernemings het elektrisiteit nodig om te oorleef,” het Geoff Jacobs, president van dié liggaam, gesê. “Hierdie [omstandighede] het ʼn situasie geskep waar daksonpanele al meer aantreklik lyk en waar munisipaliteite soos Stad Kaapstad eerder van onafhanklike kragvoorsieners gebruik wil maak. Hulle het geen ander keuse nie,” het hy gesê.

“Die langtermyn gevolge sal sleg wees vir Eskom, vir die land en vir die belastingbetalers, maar wat moet sakeondernemings anders doen? Hulle moet die situasie nou hanteer en kan nie vir Eskom wag om uiteindelik beheer oor sy diepgewortelde probleme te kry en sy onlangse geskiedenis van korrupsie en wanbestuur om te keer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

144 Kommentare

jongste oudste gewildste
tom

Maroela die waarheid is Escom moet stop met hulle BEE en bring blankes terug

Piet

“Waarop is die geld bestee?” vra hulle.
Kyk om jou! Elke Jan Rap ry ‘n blink kar!

Gemaskerde Sopbeen

My Pa het altyd gesê: “Ontnugtering is die wreedste leermeester!!!” Maar dan is dit ook net waar as Suid Afrika iets hieruit leer……….en die 8ste Mei ‘n ander plan maak.

alida

Nou hoe vra hulle nou waar is die geld? Dit is aan reuse bonusse uitbetaal aan onbevoegde mense. Hulle moes mos voorsien het dat die bevolking het ontplof in 24 jaar en moes 24 jaar gelede al begin het met voortdurende instandhouding. Watter deel verstaan hulle tog nie. Die mense word meer en die verbruik word meer. Graad een kind kan dit vir hulle verduidelik. As twee mense vir ‘n week een brood opgebruik het kan hulle nie verwag 20 mense moet vorentoe genoeg brood he vir ‘n week nie. Ai tog

Wonder net

Mnr Mabuza, wanneer jy die eerlike antwoord op jou eie vraag: “Waarop is daardie geld bestee?”het laat ons tog weet asb. Dit is geld wat die verbruikers betaal het wat spoorloos verdwyn het. Om te hoop dat die mense wat daarvoor verantwoordelik was dit sal terug betaal is ook valse hoop. Moet hulle ook nie gevangenisstraf gee nie want dan moet die belastingbetalers hulle weer onderhou. Raak ontslae van al die onbevoegde en oortollige aanstellings en kry vergoedingspakette in lyn dan sal dit al klaar ‘n ligpuntjie wees. Stop onwettige verbindings met geweld as dit nodig is. Laat hulle maar… Lees meer »