Beurtkrag vererger tekort aan slangteengif

Argieffoto (Foto: Lowveld Venom Suppliers/Facebook)

Die tekort aan polivalente slangteengif wat in Suid-Afrika vervaardig word, word hoofsaaklik veroorsaak deur beurtkrag.

Volgens slangkenners is dringende ingryping nodig om die kragprobleem aan te pak en te keer dat die probleem rakende die tekort aan teengif op ʼn ramp afstuur. Daarom het 27 kundiges op die gebied van slangbytbehandeling nou ʼn ope brief aan dr. Joe Phaahla, die minister van gesondheid, gerig om te pleit vir ingryping.

Die krisis dreig al amper ʼn jaar lank, met veeartse wat waarsku dat veral troeteldiere weens ʼn tekort aan teengif sterf.

Volgens Chris Hobkirk van Lowveld Venom Suppliers (LVS) van Mbombela, Mpumalanga, word die Suid-Afrikaanse Entstofprodusente (SAVP) in Johannesburg se vervaardigingsproses deur beurtkrag gepootjie. Die SAVP vervaardig teengif vir die hele land.

“Die proses word weens beurtkrag onderbreek en tussendeur breek masjiene wat die proses verder vertraag. Die verkoeling van die teengif word ook beïnvloed omdat voortdurende kragtoevoer in dié proses benodig word,” vertel Hobkirk.

“Ons moet ingryp om lewensverlies, nie net van diere nie maar ook van mense, te voorkom,” het Hobkirk aan Maroela Media gesê.

“Die gevaar bestaan ook dat mense ledemate kan verloor en dit moet te alle tye verhoed word.”

In kenners se brief aan die minister word Phaahla gevra vir die voorsiening van die nodige geld en hulpbronne aan die laboratorium om die algehele werking te verbeter sodat die vervaardigingsproses nie meer deur beurtkrag geraak word nie.

“Toepaslike toerusting, kragopwekkers en ander noodsaaklike produksie-items sal produksie aansienlik verbeter wat ʼn voldoende hoeveelheid teengif sal verseker.”

Ander probleme wat ook tot die tekort bydra, is bestuursprobleme en personeelbeperkings, sê prof. Timothy Hardcastle, ʼn traumachirurg én lid van die nasionale slangbyt-raadgroep en die Traumavereniging van Suid-Afrika.

Polivalente teengif word gebruik in die behandeling van slangbyte van onder meer die swartmamba, groenmamba, Jameson se mamba, geelslang, Mosambiekse spoegkobra, rinkhals, pofadder en gaboenadder. Boomslangbyte word met ʼn aparte (spesifieke) teengif behandel.

Die teengif word beskou as die beste teenvoeter vir giftige slangbyte en volgens Hardcastle en Hobkirk is daar geen geskikte alternatiewe produk vir slangbytbehandeling nie.

“In die geval van sitotoksiese vergiftiging (waar die gif die weefsel aantas) is daar vernietigende gevolge indien ʼn mens nie betyds teengif kry nie. Met neurotoksiese vergiftiging (slanggif wat die senustelsel aantas) kan dit selfs iemand se dood veroorsaak indien teengif nie toegedien word nie,” sê Hobkirk.

Volgens Hardcastle word teengif wel vervaardig, maar dit word gebruik om die groot agterstand van bestellings eers aan te vul voordat nuwe bestellings geneem kan word.

“Sekere openbare en private hospitale – waarvan baie in hoërisiko-slangbytgebiede geleë is – se voorraad is reeds op terwyl ander baie min teengif byderhand het. Party veeartse kan tans glad nie teengif bekom nie,” sê Hardcastle. “Daar is ook geen teken dat die voorraad binnekort aangevul sal word nie.”

Volgens Hardcastle loop kinders veral ʼn hoë risiko om ernstig siek te word wanneer hulle deur ʼn slang gebyt en daar nie betyds teengif toegedien word nie.

Die meeste slangbyte kom voor in die subtropiese warm dele van die land (die oostelike dele, waaronder die Laeveld, Limpopo en KwaZulu-Natal). Slange is die aktiefste tussen November en April, wanneer temperature warmer is.

Hobkirk raai enigiemand aan wat ʼn slang teëkom om sy of haar afstand te hou en geen skielike bewegings te maak nie, “want dan sal die slang jou nie as ʼn bedreiging sien en aanval nie”.

Wanneer iemand wel deur ʼn slang gepik of gebyt word, is dit belangrik om kalm te bly en so gou moontlik hulp te kry.

“Bel ʼn slanghanteerder of gaan so vinnig moontlik na jou naaste hospitaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

domheks ·

Wonder hoe sal Phaala reageer as sy mense behandeling nodig het na ‘n slangbyt – en daar is nie teengif beskikbaar nie!

Eugene ·

Die minister van elektriesiteit moet beurtkrag weg vat, Dan sal dit beter gaan. De Ruyter is gefire, maar dinge is erger.

Amelia ·

Jite tog als val met nspeod uit mekaar agv beurkrag tot mense se yskaste geysers wasmasjene en hul voel n veer solank hul in gemak en gerief leef Indien hul deur slnag gepik word sal hul eerste gehelp word ongeag of daar kind of iemand anders voor hul was Kan nie glo in 27 jaar is land in sy kanon nie land eant eens van die bestes was op meeste gebiede

Danie ·

Plaas n onkapawel ding agter n stuur en sien wat gebeur.Hulle voel vere oor als worry net oor hulle image en sakke.

Harley Davidson ·

Doen dan wat die Bybel jou leer van ‘n slang dit is wat ek doen.

Casper ·

Ja Harley Davidson,ek vra nie eers vir ‘n slang of hy giftig is en of hy my gaan byt nie,daar is nie tyd daarvoor nie maar ek maak nie net voor die voet dood nie,ek vra die slang om my perseel te verlaat.Wat ‘n slang sal verhoed om in jou erf in te kom is malva plante.Hulle kan nie die reuk van die plant hanteer nie.

Casper ·

Op ‘n ligter noot,hierdie is ‘n beer van ‘n swart mamba op die foto,ek sal nie eers van hom wil droom nie wat staan nog ontmoet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.