Beurtkrag ‘verwoestend’ vir Oos-Kaapse boere  

(Foto: TLU SA/Facebook)

Die jongste vlaag beurtkrag is verwoestend vir Oos-Kaapse boere wat afhanklik is van krag om water vir besproeiing te pomp, sê die DA in die Oos-Kaapse wetgewer.

Eskom het sedert verlede week weer beurtkrag reg oor die land begin instel. Die kragreus het wel Maandagmiddag aangekondig dat beurtkrag vir eers opgeskort is.

“Sommige boere se watervoorraad is reeds aansienlik deur die departement van water gesny en ander moes hul eie watervoorraad rantsoeneer weens onvoorsiene droogtetoestande wat jare lank al in die provinsie voortduur,” sê Retief Odendaal, die DA se skadu-LUR vir landelike ontwikkeling en landbouhervorming.

Hy sê boere word gewoonlik ʼn bepaalde tyd toegeken waartydens hulle mag water pomp. “Indien daar in dié tyd beurtkrag is, kan hulle nie elektriese waterpompe of besproeiingstelsels gebruik nie, en verbeur hulle dié water wat aan hulle toegeken is.”

Odendaal wys ook daarop dat al sou die betrokke boer wel elektrisiteit hê wanneer dit sy beurt is om water te pomp, beurtkrag by pompstasies verder weg ʼn invloed kan hê op die beskikbaarheid van water in die boer se gebied.

“Dit veroorsaak onderbrekings in besproeiingsiklusse en ander boerderyaktiwiteite, wat verder ʼn invloed het op die voedselsekuriteit in die provinsie.”

Odendaal stel voor dat Eskom oorweeg om beurtkrag in droogtegeteisterde gebiede te staak, aangesien dit ʼn verlies van kosbare waterbronne tot gevolg het. “Landbou is steeds een van die belangrikste ekonomiese aktiwiteite in die Oos-Kaap en die regering behoort alles in sy mag te doen om ʼn optimale omgewing vir ons boere te skep, sodat hulle kos aan ʼn groeiende bevolking kan lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Die Wolf ·

Die grys materiaal is maar min. Die rooi knoppie is makliker om te gebruik.

Hennie J ·

Nou ja, wie moet ons bedank? Wat van die ‘ advanced nation crooks’?

Hoekom ·

Vir hoeveel jaar gaan ons nog sukkel met beurtkrag voordat daar ‘n oplossing gekry word of strompel ons nou maar aan met dit wat ons onvang het. Daar is nou al soveel jare verby. Daar kon al lankal voorsiening gemaak gewees het vir kragstasies wat die druk kon verlig…

Hoekom ·

As die maatskappy in private hande was, was daar nou geen loadshedding nie en geen onwettige gebruik van elekrisiteit nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.