Beurtkrag weer vandag toegepas

Foto: Twitter

Eskom het aangekondig dat daar Vrydag weer beurtkrag toegepas sal word.

Die kragvoorsiener het gesê fase 2-beurtkrag sal van 08:00 tot 23:00 toegepas word weens ʼn kapasiteitstekort.

Eskom het ook Donderdag beurtkrag toegepas. Fase 1-beurtkrag is van 11:00 tot 15:00 toegepas waarna daar na fase 2-beurtkrag oorgeskakel is wat tot 22:45 voortgeduur het.

Die kragvoorsiener het die afgelope paar dae gewaarsku dat die risiko vir beurtkrag hoog is, maar het gesê dit kon tot dusver vermy word danksy sommige krageenhede wat weer aan die werk is.

Die kragvoorsiener het huishoudings en ondernemings versoek om elektrisiteit spaarsamig te gebruik en geisers en alle ander nienoodsaaklike toestelle af te skakel om die las op die kragnetwerk te verlig.

Waar kry ek my beurtkragskedule?

Beurtkrag word toegepas wanneer daar nie genoeg kapasiteit is om aan die vraag na elektrisiteit te voldoen nie. Beurtkrag word dan toegepas om elektrisiteit te bespaar en druk op die kragnetwerk te verminder. Fase 1-beurtkrag bespaar 1 000 MW elektrisiteit op enige gegewe oomblik, fase 2 bespaar 2 000 MW, fase 3 bespaar 3 000 MW en fase 4 bespaar 4 000 MW.

Hoewel beurtkrag dikwels veroorsaak word deur ʼn tekort aan opwekkingskapasiteit, kan daar ook ander oorsake wees soos ʼn tekort aan steenkool, weersomstandighede of voorraadinvoerprobleme.

Beurtkrag sal voorafgegaan word deur ʼn kennisgewing deur Eskom, hoewel dié kennisgewing soms op die nipper uitgereik kan word. Indien jou krag af is sonder dat Eskom beurtkrag aangekondig het, is dit waarskynlik weens ander redes soos tegniese probleme of kabeldiefstal.

Indien Eskom jou elektrisiteit verskaf, kan jy jou beurtkragskedule kry deur www.loadshedding.eskom.co.za te besoek of 0860 037 566 te skakel.

Indien ʼn munisipaliteit jou elektrisiteit voorsien, kan jy die volgende webwerwe besoek of inbelsentrums skakel.

City Power (Johannesburg): www.citypower.co.za of 086 056 2874
Ekurhuleni (Oos-Rand, Gauteng): www.ekurhuleni.gov.za of 086 054 3000
Tshwane Metro (Pretoria): www.tshwane.gov.za of 012 358 9999
eThekwini (Durban en omliggend): www.durban.gov.za of 080 131 3111
Stad Kaapstad: www.capetown.gov.za of 086 010 3089
Nelson Mandelabaai: www.nelsonmandelabay.gov.za of 041 506 5555
Polokwane (Limpopo): www.polokwane.gov.za of 015 290 2490
eMalahleni (Witbank en omliggend): www.emalahleni.gov.za of 013 690 6911
Umhlathuze: www.umhlathuze.gov.za of 080 022 2827

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ses Volt ·

Sonkrag, windkrag, kerskrag, maar ongelukkig geen breinkrag!

De Villiers ·

Daardie beurtkragskedule op loadshedding.co.za is totaal onbetroubaar, veral op die plattelandse gebiede. Indien ons gelukkig is en wel een kry, tree beurtkrag op ander tye in as wat hulle aandui. In die meeste gevalle is daar nie eens ‘n skedule beskikbaar vir jou betrokke munisipaliteit nie. Die skedules wat ek wel kan opspoor op ander skakels van Eskom, is net so onbetroubaar.

SjN ·

ek stel rerig nie daarin belang hoeveel hul spaar nie, tekort aan kundigheid ontbreek.

Haarmald ·

Hulle oefen om die krag af te sit.
Mettertyd sal hulle dit regkry.

J. van Rensburg ·

Vriende en landgenote – hierdie is maar net nòg ‘n voorbeeld van hoe ons land sedert 1994 ‘n ‘n moeras van misdaad, smerigheid en onkunde gesink het. Maar nou ja, ek neem aan julle het reeds besluit vir watter party julle in Mei gaan stem (mits daar wél ‘n verkiesing gaan plaasvind!) maar dink weer vir ‘n slag GOED alvorens julle julle kruisies trek.

D B ·

Eskom is bankrot = Beurtkrag word weer ingestel.
CR belowe om Eskom “te red” = Geen meer beurtkrag.
Eskom soek “groot” tariefverhoging, maar kry net 9% / 13% = Beurtkrag weer ingestel.

Asb., dis so hartseer dat die grootste gedeelte van ons ou volkie so “blind” is. Miskien word hulle eendag wakker…miskien nie…

Hennie ·

Jannie kry maar n petrol grassnyer dan kan jy lekker sny as krag af is

Vra maar net ·

Stem saam oor die breinkrag. Wonder hoeveel inkomste hulle verloor met die besparings. Dit dui net op swak bestuursvaardighede. Bose kringloop.

Piet Lourens ·

Miskien is ek net dom. Kan iemand verduidelik hoeveel krag word bespaar met beurtkrag na 9 in die aand.
Word dit gedoen om alarms en elektroniese heinings buite werking te stel?

karen ·

Piet – ek wonder ook. veral omdat meeste besighede daardie tyd van die aand gesluit is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.