Beurtkrag Woensdag weer ingestel

Die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die nuwe jaar is kwalik ʼn week oud en beurtkrag is weer Suid-Afrikaners se voorland.

Eskom het Woensdagoggend aangekondig fase 2-beurtkrag word vanaand en Donderdagaand weer eens van 22:00 tot 05:00 in werking gestel.

Die sukkelende kragvoorsiener het aan die einde van verlede maand dieselfde gedoen en toe gesê dit word gedoen om reserwes op te bou voordat ekonomiese bedrywighede weer ten volle hervat word.

“Die beurtkrag is nodig om die noodopwekkingsreserwes aan te vul en te bewaar weens die vroeër as beplande sluiting van Koeberg se eenheid 1, asook ander eenhede waarvan die inwerkingstelling vertraag is.”

Eskom sê weens beplande instandhoudingswerk is 6 672 MW in hierdie stadium nie beskikbaar nie, terwyl onbeplande onderbrekings tot ʼn verlies van 12 073 MW se kapasiteit gelei het.

Die maatskappy sê sy spanne werk onophoudelik om te verseker die eenhede word so gou moontlik weer in diens gestel.

Eskom het ook ʼn beroep op verbruikers gedoen om elektrisiteit spaarsaam te gebruik om beurtkrag tot die minimum te beperk.

Hy sê hy probeer om in hierdie tyd instandhoudingswerk te doen om die betroubaarheid van die netwerk te verbeter en dat die stelsel beperk bly en die moontlikheid van beurtkrag groot is.

“In hierdie stadium is die ekwivalent van twee groot kragsentrales buite rekening weens beoogde instandhoudingswerk, wat druk op die netwerk plaas.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.