Bevelsraad vergader Dinsdag oor derde vlaag

Die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi-Ngubane. (Argieffoto: GCIS)

Die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) vergader Dinsdag, waarna ʼn beter aanduiding van enige strenger inperkingsvlakke om die derde vlaag Covid-19-infeksies te stuit, gegee sal kan word.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, wou Vrydag tydens ʼn mediavergadering egter nie veel uitbrei oor watter stappe dalk ingestel kan word om die groot golf infeksies in bedwang te bring nie.

Die minister het gister ook vergader met die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 nadat hulle verskeie ernstige kwessies geopper het wat dringende ingryping benodig.

In hierdie stadium word die derde vlaag aangedryf deur duisende nuwe Covid-19-gevalle in Gauteng.

“Daar kan egter geen gerustheid in ander provinsies wees nie; almal wys opwaartse kurwes en dit is onvermydelik dat die vlaag in Gauteng na die res van die land gaan oorspoel,” sê Kubayi-Ngubane.

Volgens die minister wek voortgesette byeenkomste in Gauteng, ook dié na begrafnisse en betogings, groot kommer en kan dit moontlik die groot getalle infeksies veroorsaak.

Sy sê daar word ondersoek ingestel waarom die virus so vinnig in Gauteng versprei – Donderdag is 9 521 nuwe gevalle in die provinsie bevestig, dit is sowat 59% van alle nuwe gevalle.

Die minister sê daar is nie tans duidelike wetenskaplike bewyse dat ʼn spesifieke variant die nuwe infeksies aandryf nie.

“Dit kan ʼn variant wees, of dit kan aan gedrag toegeskryf word.”

Kubayi-Ngubane sê tot dusver is die sogenaamde Delta plus-variant, wat aanvanklik in Indië opgemerk is, nog nie in Suid-Afrika bevestig nie. In hierdie stadium is dit steeds die Beta-variant van die virus wat op tuisbodem opgemerk word.

Volgens dr. Anban Pillay, direkteur-generaal van die departement, word die meeste gevalle tans in die binneland aangemeld, hoofsaaklik in Gauteng waar byna die hele provinsie op ʼn hoë infeksiesvlak is.

Gauteng word gevolg deur Noordwes, waar beduidende stygings ook ondervind word, asook Mpumalanga en Limpopo. Oor die algemeen ondervind die meeste provinsies, met die uitsondering van die Noord-Kaap, waar die situasie oënskynlik begin stabiliseer het, tans toenames in gevalle.

Pillay sê die afnames wat in die Noord-Kaap asook in die Vrystaat opgemerk word, word hopelik voortgesit omdat die provinsies die afgelope ruk volgehoue infeksies gehad het.

Pillay sê in Gauteng is daar tans enorme druk op hospitaalbeddens en dat dit ʼn kwessie van tyd is voor ander provinsies in ʼn soortgelyke situasie is.

In hierdie stadium is byna een uit elke vier toetse wat vir Covid-19 gedoen word positief, terwyl die syfer in ʼn stadium op een uit elke 20 gestaan het.

Hy sê die getal beskikbare hospitaalbeddens, medisyne, suurstof en persoonlike beskermingstoerusting (PPE) wat beskikbaar is in alle provinsies word daagliks gemonitor.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ilze

Verban net alkhohol en woeps, weg is die derde vlaag. Dit het mos wondere verrig met die eerste en tweede vlaag het dit nie?

Danie

Afrika tyd!

Misky

Wonder wie het al hierdie “kennis” in die minister van toerisme se oor gefluister?

Maggies

“Dit kan ʼn variant wees, of dit kan aan gedrag toegeskryf word.” asook… Volgens die minister wek voortgesette byeenkomste in Gauteng, ook dié na begrafnisse en betogings, groot kommer en kan dit moontlik die groot getalle infeksies veroorsaak.
Kubayi-Ngubane  se eie woorde is bewys van die feit dat OUR PEOPLE. net nie wil luister nie.
Ongelukkig is daar derduisende onskuldiges wat daardeur moet ly.

Pieter

Dis voor die hand liggend waarom die infeksies so vinnig in Gauteng versprei. Dit is die kleinste provinsie met die grootste getal inwoners – 16 miljoen mense!