Bevestigde gevalle van voëlgriep styg

Eiers (Foto: Pixabay)

Alan Winde, die Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede, het Vrydag tydens ʼn sitting van die Wes-Kaapse provinsiale regering gesê daar is tans 68 bevestigde gevalle van voëlgriep in dié provinsie.

ʼn Uitbreking van dié virus het groot dele van die Wes-Kaap geruk en die ekonomie het sedertdien al ʼn verlies van nagenoeg R900 miljoen gely.

Winde het tydens dié sitting gesê minstens 2,8 miljoen pluimvee is sedert die voëlgriep-uitbreking vroeër in die jaar van kant gemaak, waarvan minstens 2,6 miljoen van dié pluimvee lêhoenders was.

Die bevestigde gevalle van voëlgriep in die Wes-Kaap was in Oktober 56, wat beteken dat dié gevalle met 12 gestyg het in die laaste maand.

Winde het gesê nagenoeg 140 volstruisplase is tans onder kwarantyn, maar geen volstruise is in dié stadium weens voëlgriep van kant gemaak nie.

Die Wes-Kaapse regering het vroeër gesê ʼn erge tekort aan eiers staar inwoners van dié provinsie in die gesig weens die uitbreking van die virus. Sowat 1 200 mense se lewensbestaan word hierdeur geraak.

“Ons hou voortdurend aan om die ekonomiese impak van dié uitbreking te monitor,” het hy gesê. “Wat ons in dié stadium bekommer, is die tekort aan eiers in Suid-Afrika wat voedselinflasie veroorsaak. Ons wag nog vir die Statistieke Suid-Afrika se prysinligting rakende inflasie wat op 22 November uitgereik sal word.”

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) is ook tans besig met ʼn studie wat ten doel het om meer duidelikheid te gee oor die ekonomiese gevolge van dié uitbreking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Houtoog ·

Inleidende- en par.3: ‘voëlgroep’ is ‘voëlgriep’.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Houtoog
Dankie vir jou kommentaar! Ons vra om verskoning – die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

John ·

Wat maak hulle met die dooie hoenders? Hondekos of eet mense dit. En die eiers op die winkelrakke? Hoe seker is ons, dat ons nie bedrieg word nie. Nog geen foto van massaslagtings het ons onder oe gehad nie… wie kan se?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.