Deur Marthinus Koekemoer
Adv. Dali Mpofu, regsverteenwoordiger van Thandi Modise, speaker van die parlement, het ʼn aansoek om ontslag in die dieremishandelingsaak teen haar gebring.
Die saak is in die Potchefstroomse streekhof hervat nadat getuienis van ʼn veearts en ʼn voormalige werknemer op haar plaas gister aangehoor is. In ʼn verrassende wending het Mpofu gevra die hof moet Modise onskuldig bevind op grond van onvoldoende getuienis om haar met die saak te verbind.
Ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet kan die verdediging so ʼn aansoek bring nadat die vervolging sy saak afgesluit het.
Die getuienis van Tebogo Mokaedi, die laaste plaaswerker wat op Modise se plaas in Noordwes gewerk het waar honderde diere in 2014 gevrek het, is vandag deur ʼn medegetuie as leuens afgemaak.
Mokaedi het gister getuig dat hy vir omtrent twee maande op Modise se plaas gewerk het en dat hy in dié tyd net R200 betaal is. Hy het voorts gesê hoewel voer vir die diere afgelewer is nadat hy oor ’n tekort gekla het, dit ook opgeraak het. Hy het die plaas toe op kort kennisgewing verlaat. “Die varke was besig om dood te gaan en van hulle het dié wat reeds dood was begin vreet. Ek het self ook nie meer kos gehad om te eet nie en ek het geen keuse gehad as om die plaas te verlaat nie,” het hy getuig.
Mokaedi het vertel hoe Khoroba Nimrod Tlhoaele hom genader het om op Modise se plaas te werk. Dit was ook by hom wat hy later die tekort aan voer aangemeld het. Mokaedi het self besluit om die skape, bokke en beeste elders te laat wei. Hy het dooie varke in ’n gat gegooi wat ’n vorige werker vir hom uitgewys het. Volgens hom was die voer wat afgelewer is vir net ’n week genoeg.
Tlhoaele het egter in sy getuienis aangevoer dat Mokaedi se getuienis leuens bevat. “Hy was onverantwoordelik met die voer. Hy het die varke te veel kos gegee wat daartoe gelei het dat die kos vinnig opgeraak het.”
Volgens hom het Mokaedi gelieg oor wie sy salaris betaal het en hoe lank hy op die plaas was. Tlhoaele het wel erken dat hy gevra is om nog voer te kry. Nadat die voer afgelewer is, meen Tlhoaele, daar was genoeg kos vir die diere vir twee maande. Dis onduidelik hoe hy (Tlhoaele) sy berekening gemaak het aangesien hy op vrae oor hoeveel diere op die plaas was en hoeveel ’n vark per dag eet nie akkurate antwoorde kon gee nie.
Mpofu het Tlhoaele gevra of hy dink dat Mokaedi die voer verkoop het om geld te kry om drank te koop. Hy het gesê hy het Mokaedi aangespreek oor sy drinkgewoontes, maar dat daar nie enige aanduidings was dat hy van die voer verkoop het nie.
’n Woordewisseling het uitgebreek toe daar tydens die hofverrigtinge oor die getuies se verklarings aan die polisie geargumenteer is.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het aangevoer die verklarings is nie ingedien nie, waarop Mpofu gesê het die getuies het bevestig dat hulle wel die verklarings afgelê het.
Terwyl Nel aan die woord was, het Mpofu hom uitgelag. Toe Nel hom versoek het om op te hou lag terwyl hy aan die woord is, het Mpofu gesê Nel sal sy woorde berou. Nel het hierop gesê Mpofu moet hom nie dreig nie.
Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê hulle gaan die artikel 174-aansoek teenstaan. “Ons is vol vertroue dat geen redelike hof dit sal toestaan nie.”
Landdros Ben Mtebele sal môre uitspraak oor dié aansoek lewer.
AfriForum vervolg Modise privaat namens die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV) op ses aanklagte van dieremishandeling en -verwaarlosing.
Die saak het so lank gesloer omdat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) Modise nie wou vervolg nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Hoekom sulke mense diere wil hê gaan my verstand te bowe. Diere het verskriklik gely en ‘n vreeslike dood gesterf. Sy is skuldig. Punt.
Mooi, Gerrie Nel dat jy jou nie laat afskrik deur Mpofu nie. Geregtigheid moet geskied.
Mag geregtigheid seevier, arrogant verby.
Hierdie is ‘n uitstekende toets vir die onafhanklikheid en gesondheid van SA se Howe.
Dit is glashelder dat diere hier gruwelik gely en verwaardeloos was, en dat die plaaseienaar fiñaal verantwoordelikheid moes neem.
Daar moet aanspreeklikheid en gevolge wees!!
Dali..is hopeloos te groot vir sy skoene…pleinweg..n windgaai