‘Bevindinge nie afdoende’ – parlement

’n Brand by die parlementsgebou in Kaapstad het groot skade aangerig. (Foto: Stad Kaapstad)

Die parlement het Vrydag in reaksie op die assesseringsverslag oor die verwoestende brand by die parlementsgebou in Kaapstad benadruk dat dié bevindings nie afdoende is nie.

“Die verslag bevat voorlopige waarnemings van die brandbestryders tydens hul werk, wat ʼn standaardprosedure is wanneer voorvalle van hierdie aard hanteer word,” het die parlement in ʼn verklaring gesê.

“Die inligting gee geensins voor om afdoende bevindinge en bewyse oor die oorsaak en die omstandighede rondom die brand wat sekere geboue op die parlementêre perseel verwoes het, te verskaf nie.”

Hoewel die parlement meen dat die assesseringsverslag van belang is, sê hy dat die verantwoordelikheid om die oorsaak van die brand te ondersoek by wetstoepassingsowerhede berus. Dié ondersoek is tans onderweg.

“Die verslag van Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste is belangrik, aangesien dit die voortgesette ondersoeke ekstern sowel as intern sal help. Hierdie ondersoeke moet ruimte gegun word om te ontvou.”

Die parlement sê hy sal eers kommentaar lewer nadat hierdie ondersoeke afgehandel is.

“Ons is vol vertroue dat dit mettertyd afgehandel sal word en konkrete bewyse en bevindings oor die brand sal verskaf.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rudolf ·

Liewer dat onafhanklike spesialiste die ondersoeke doen asb. Die staat kan om goeie redes nie vertrou word nie!!!

Hendrik ·

Afdoende is bietjie vreemd moet dit nie liewer voldoende wees nie. In SA is daar niks wat so belangrik is dat dit nog n jaar kan wag nie.

Jaco ·

So in kort beteken dit dat die DA-beheerde brandweer se mening nie goed genoeg is nie. Daar sal eerder op die ANC-beheerde polisie se mening staatgemaak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.