Bevindings oor lees ‘katastrofies’  

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

(Foto: Deltaworks/Pixabay)

Dringende ingryping is nodig om die geletterdheidskrisis in Suid-Afrika te takel.

Dit sluit in die opleiding van onderwysassistente, die verspreiding van leesstof aan alle gr. 1- tot 3-leerders in hul moedertaal en verdere opleiding van onderwysers.

Prof. Nic Spaull, sekretaris van die 2030 Leespaneel en professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US), het hierdie ingrypings saam met ʼn kort opsomming van die kernbevindings van die jongste Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS)-opname van 2021 bekendgestel.

Spaull beskryf die jongste bevindinge van die opname as ʼn “katastrofe vir geslagte”.

“Meer as vier miljoen laerskoolkinders het [weens die Covid 19-pandemie] meer as die helfte van hul skoolloopbaan in ʼn ontwrigte toestand beleef (weens skoolsluitings en rotasieroosters). Navorsing oor skoolsluitings weens natuurrampe soos aardbewings in Pakistan en die Ebola-krisis in Wes-Afrika, dui daarop dat daar langtermyngevolge is vir korttermynkrisisse.

“Dit sluit in laer opvoedkundige prestasie, laer verdienste, hoër werkloosheid en ʼn groter kans om as volwassenes in laer geskoolde beroepe te wees. Hierdie uitwerking kan selfs oorgedra word na die kinders van die kinders wat deur skoolsluitings geraak word – soos wat gebeur het met skoolsluitings in Argentinië.”

Volgens dié opname, wat elke vyf jaar in verskeie lande gedoen word, kan slegs 19% van alle gr. 4-leerders in Suid-Afrika met begrip lees. Suid-Afrikaanse leerders is in al 11 amptelike landstale getoets en het die slegste van al 56 deelnemende lande gevaar.

Omdat PIRLS ʼn nasionaal-verteenwoordigende steekproef is, beteken die uitslae dat 914 000 uit 1 127 877 gr. 4-leerders (81%) nie met bergip kan lees nie.

 

Suid-Afrika se telling het boonop van 320 in 2016 na 288 in 2021 gedaal. Dit word onder meer aan die negatiewe uitwerking van die Covid-19-pandemie toegeskryf, wat ook in ander lande se uitslae te sien was.

“Die nasionale PIRLS-uitslae toon dat die gemiddelde gr. 4-leerder in 2021 sowat 80% van ʼn jaar agter die gemiddelde gr. 4-leerder in 2016 is,” het Spaull aan Maroela Media gesê. “Ek dink ons ​​kan sien dat die pandemie en skoolsluitings dié skole wat geen skoolgeld vra nie, die swaarste getref het, hoofsaaklik omdat daar geen manier was om onderrig voort te sit terwyl dié skole gesluit was nie. “In teenstelling hiermee, in skole waar skoolfonds betaal word, kon leerders aanlyn klasse bywoon of werk huis toe stuur om gemerk te word. Die Wes-Kaap het landwyd die kleinste persentasie van skole wat nie geld vra nie. Landelike provinsies het ’n baie hoër persentasie skole wat nie geld vra nie as die meer stedelike provinsies.”

Dekade se vordering uitgewis

Nog ʼn kernbevinding in die verslag is dat ʼn dekade se vordering uitgewis is. Tussen 2006 en 2016 het die persentasie van gr. 4-leerders wat nie behoorlik kan lees nie van 87% (2006) tot 81% afgeneem, en in 2016 met nog 3% gedaal.

Die jongste uitslae plaas Suid-Afrikaanse leerders weer terug in 2011 wat prestasievlakke betref.

Noordelike landelike provinsies het die grootste afname getoon terwyl kusprovinsies die kleinste afname in leesvermoë getoon het.

Die provinsies wat die grootste afname oor die afgelope jare beleef het, is Noordwes, Vrystaat, Mpumalanga en Limpopo.

Engelse en Afrikaanse skole het nie ʼn afname tussen 2016 en 2021 getoon nie. Afrika-taalskole het wel beduidend swakker gevaar, wat volgens die ondersoek die ongelykheid tussen skole waar skoolfonds betaal word en skole waar geen skoolfonds gehef word nie, uitlig.

Dit is deur die Covid-19-pandemie vererger.

Kommer oor afname in leesgeletterdheid

Daar is ook ʼn groot gaping tussen gr. 4 seuns en dogters, met dogters wat een en ʼn half jaar voor seuns is wat onderrig betref.

Ondanks die afname blyk die Suid-Afrikaanse regering geen plan of begroting te hê om verlore onderrig in te haal nie.

“Om ʼn onlangse navorsingsverslag aan te haal wat die departement van onderwys se ingrypings met betrekking tot Covid-19 hersien het, was ‘daar was geen poging om tyd te in te haal om leerverliese te herstel nie, behalwe baie onlangse pogings in een provinsie [Wes-Kaap]. Die aandrang op ʼn grootliks sake-soos-gewoonlik-benadering tot kurrikulumimplementering slaag nie daarin om die ernstige opvoedkundige uitwerking van die pandemie te erken en te takel nie, veral vir leerders in die armste gemeenskappe’,” het Spaull gesê.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê hy is ernstig bekommerd oor die volgehoue afname in leerders se leesgeletterdheid.  “Dit is noodsaaklik om ʼn omvattende en doelgerigte benadering tot die uitdaging te ontwikkel.

Die verpligte progressie van leerders in die grondslagfase maak dit egter byna onmoontlik om ʼn goeie grondslag vir basiese lees- en syfervaardighede vas te lê,” sê Marnelda de Beer, hoof van die SOS se Afrikaanse grondslagfasevereniging.

“Leesgeletterdheid in gr. R tot gr. 3 is lewensbepalend vir leerders. Hier word die grondslag vir hulle akademiese loopbaan gelê. Leerders wat kunsmatig in die grondslagfase slaag, lei tot swak akademiese uitkomste later in ʼn kind se skoolloopbaan.”

Wat is die plan?

Spaull sê bewysgedrewe ingrypings is nodig om leerverliese in te haal.

“Ek glo dat die PIRLS-toets ʼn nuttige instrument is om te meet waar ons as ʼn land is. Dit is ʼn betroubare assessering van leesbegrip wat internasionaal erken word. Ons het die grootste skat van navorsing oor die verbetering van leesuitkomste op die vasteland, waarvan baie uit die departement van onderwys se eie navorsingseenheid kom.”

Volgens Spaull dui hierdie navorsing op ten minste drie bewysgebaseerde programme wat op skaal geïmplementeer kan word, mits dit beplan en gefinansier word. “Soos in Limpopo gesien, weet ons dat die gebruik van werklose jeugdiges as onderwyserassistente met bykomende werkboeke en onderwysersgidse, asook onderwysassisstentmentors gelei het tot ʼn bykomende jaar van leer vir kinders.

“Dit is uiters belangrik dat hierdie jong mense gekies moet word deur gebruik te maak van geletterdheid- en syfervaardigheidsassesserings en streng opgelei moet word in die materiaal wat hulle in hul klaskamers sal gebruik. Hulle moet ook deurlopend ondersteun word oor hoe om hul funksies te vervul.”

Spaull verwys ook na die Oos-Kaapse departement van onderwys wat in 2019 en 2020 ʼn koste-doeltreffende program van stapel gestuur het wat bundels leesstof teen R15 per boek aan elke gr. 1- tot gr. 3-leerder in die provinsie versprei het.

“ʼn Evaluering het getoon dat dit leesuitkomste verbeter het in vergelyking met kinders in dieselfde skole ʼn paar jaar tevore wat nie die boeke gekry het nie.” Spaull sê voorts daar is bewyse uit Noordwes wat aandui dat kundige leesafrigters wat onderwysers met bykomende materiaal ondersteun, tot verbeterings in leesuitkomste kan lei.

Afrikaanse leesgids bekendgestel 

Die SOS het intussen ʼn Afrikaanse Leesgids bekend gestel om te help met die agterstand wat sommige leerders ondervind.  “Hierdie gids is spesifiek ontwikkel om onderwysers, skole en ander belanghebbendes te ondersteun om leesbegrip te verbeter. Die Leesgids is in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) gepubliseer.

“Dit bevat riglyne en strategieë om leesbegrip te bevorder en bied praktiese hulpmiddels en wenke vir die ontwikkeling van ʼn stimulerende leesomgewing. Dit fokus ook op die implementering van bewese onderrigmetodes wat lei tot beter leesbegrip by leerders. Die SOS glo dat die gids ʼn waardevolle hulpbron vir die ondersteuning van leerders se leesontwikkeling sal wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.