Bewaarder dood by Leeuwkop-gevangenis aangetref

Argieffoto (Foto: James Timothy Peters/Pixabay)

Die departement van korrektiewedienste (DKD) het Woensdag bevestig dat die liggaam van ʼn vrouetronkbewaarder Dinsdagaand by die Leeuwkop-gevangenis in Johannesburg gevind is.

Volgens Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, is die 50-jarige bewaarder se liggaam op die vloer van die medium A Covid-19-isolasie-eenheid aangetref. Haar baadjie was glo met bloed bevlek.

“Die oorsaak van haar dood en die omstandighede wat daartoe gelei het, is nog nie duidelik nie, maar ʼn ondersoek is intussen van stapel gestuur om die feite te bepaal.”

Die bewaarder werk al vir 23 jaar vir die DKD.

Nxumalo het gesê die departement is geskok oor die ontstellende voorval en gee voorkeur aan die ondersoek.

“Ons sal nie voorvalle wat die veiligheid van ons sentrums en personeel in gedrang bring, duld nie, daarom sal daar streng opgetree word teen die betrokke boosdoeners,” het Nxumalo gesê.

Intussen eis die polisievakbond Popcru antwoorde van die departement oor die bewaarder se dood. Popcru beweer dat die korrekte veiligheidsprosedures nie tydens die bewaarder se skof gevolg is nie.

Volgens Richard Mamabolo, woordvoerder van Popcru, het die bewaarder Dinsdag om 07:00 by die gevangenis aangemeld en haar liggaam is eers ná 21:00 gevind, nadat haar man die gevangenis gekontak het op soek na haar.

“Volgens die veiligheidbeleid moes sy gereeld gedurende die dag veiligheidsbesoeke ontvang het. Waarom het ander bewaarders nie onraad vermoed toe sy nie die eenheid se sleutels by die einde van haar diensbeurt ingedien het nie?”

Mamabolo sê ingevolge die korrektiewe dienste se beleid moet vroue wat in korrektiewe sentrums vir mans werk, ten alle tye deur ʼn manstronkbewaarder vergesel word.

“Popcru het die departement herhaaldelik gewaarsku oor die gevare van te min bewaarders, daarom dring ons daarop aan dat die waarnemende gebiedskommissaris, die gevangenishoof en die veiligheidsbestuurder by Leeuwkop onmiddellik geskors moet word.

“Die onnodige lewensverlies onder sulke raaiselagtige omstandighede kan nie daar gelaat word nie en die betrokkenes moet volle verantwoordelikheid daarvoor aanvaar,” het Mamabolo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Werner ·

Al die tronke is oorbevolk met te min bewaarders. Dis net ‘n kwessie van tyd voor die bom gaan bars in die tronke. RIV mevrou

Jack ·

Hierdie treurige gebeurtenis sal so stilweg onder die mat ingevee word. Daar is geen politieke munt uit te slaan nie. As dit egter ‘n gevangene was wat dood aangetref is sal alle hel losbreek en verskeie organisasies sal skree: “Gevangenis het ook regte em moet deur die staat beskerm word”. Die staat het die doodstraf afgeskaf vir moordenaars maar moordenaars deel dit nog elke dag uit aan onskuldige burgers. Reg is verkeerd verklaar maar verkeerd is tot reg verhef onder hierdie onbevoegde regering.

Anoniem ·

Tugtig die oortreders oordentlik dan sal sulke voorvalle nie plaasvind nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.