Bewaarder in Krugerwildtuin steeds vermis

Die ingang na die Krokodilbrug-ruskamp in die Krugerwildtuin. (Foto: www.krugerpark.co.za)

ʼn Wildbewaarder wat Dinsdag in die Krugerwildtuin vermis geraak het terwyl hy met ʼn roetinepatrollie besig was, is steeds soek.

Checker Mashego, die wildbewaarder, het in die omgewing langs die Nsikazi-rivier in die Stolsnek-gebied in die suide van die wildtuin vermis geraak.

“Sy kollega het hom as vermis aangemeld toe hy nie by die punt waar hulle ná die patrollie bymekaar sou kom, opgedaag het nie,” sê Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke.

“Daar is deurnag na die wildbewaarder gesoek, maar sonder sukses.”

Die soektog is Woensdagoggend voortgesit en die park se helikopters, honde-eenheid en nog bewaarders het met die soektog gehelp.

Mashego was geklee in sy uniform toe hy vermis geraak het. Hy het ook ʼn vuurwapen, selfoon en radio by hom gehad.

Gareth Coleman, besturende direkteur van die wildtuin, sê die wildbewaarder se familie is in kennis gestel en SANParke-beamptes is tans in verbinding met hulle. Sy verdwyning is ook by die polisie aangemeld.

“SANParke sal alles in sy vermoë doen om seker te maak die bewaarder word opgespoor.”

Enigiemand met meer inligting wat tot die opsporing van die bewaarder kan lei, kan die Skukuza-polisiestasie of SANParke se noodnommer by 013 735 0197/076 801 9679 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Misky ·

Dit voorspel niks goed dat hy n selfoon en radio op daai staduim by hom gehad het nie. Maar hoop ek is verkeerd en sterkte aan die familie, ons bid saam julle vir sy veilige terugkeer.

sopbeen ·

Patrollie te voet of per voertuig moet in pare gedoen word, dis die “wild”tuin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.