Bewaarders geskors ná voorval met fietsryer

Die fietsryer Nic Dlamini in aksie. (Foto: Twitter)

SANParke het Saterdag aangekondig dat die vyf wildbewaarders wat betrokke was by ʼn onderonsie met ʼn toonaangewende Suid-Afrikaanse fietsryer voorlopig geskors is. Die parkeraad stel ook tans ʼn onafhanklike diensverskaffer aan om ʼn voorlopige ondersoek te doen na die voorval Vrydag in die Tafelberg Nasionale Park.

Maroela Media het Vrydag berig dat Nic Dlamini, een van Suid-Afrika se topfietsryers, se arm moontlik gebreek is nadat hy deur bewaarders agter in ʼn bakkie ingeboender is. ʼn Video hiervan is op sosiale media versprei.

Volgens ʼn verklaring Vrydag deur SANParke sê ʼn wildbewaarder Dlamini het die Silwermyn-gebied binnegekom sonder om die bewaringsgeld te betaal. Hy kon ook geen permit toon toe hy daarna gevra is nie.

Wildbewaarders is van die voorval in kennis gestel en in die daaropvolgende “situasie het die verdagte homself beseer”, lui die oorspronklike verklaring.

In die verklaring wat Saterdag uitgereik is, sê Lize McCourt, waarnemende uitvoerende hoof van SANParke, die bestuur het Saterdagoggend met die vyf bewaarders byeengekom wat betrokke was by die voorval. “Hulle is vir eers geskors, hangende die uitkoms van die ondersoek,” lui die verklaring.

McCourt het gesê hulle betreur die voorval en het die publiek verseker dat die organisasie die saak ernstig opneem. “Ons sal mnr. Dlamini en sy gesin ook al die nodige ondersteuning bied.”

Die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, Barbara Creecy, het ook ʼn beroep op SANParke gedoen om voorkeur aan die saak te gee.

SANParke het alle ooggetuies versoek om vorendag te kom en Koketso Kotsoe in te lig by 072 333 1990 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.